Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Treine, busse verloor miljoene pendelaars

Byna 1,7 miljoen minder huishoudings (wat elkeen gemiddeld drie mense verteenwoordig) gebruik nou treine en busse as hul voorkeur-manier om by die werk, skool of winkel te kom as sewe jaar gelede.

k
Dapper en stapper is die algemeenste manier hoe Suid-Afrikaners by hul bestemming kom. Grafika: Statistieke Suid-Afrika

Ongereelde en oorvol busse en treine is die belangrikste rede hiervoor.

Die grootste wenners van die ineenstorting van openbare vervoer is minibustaxi’s, met 1,5 miljoen méér huishoudings wat dit nou inspan. Die res het na private vervoer oorgeskakel, hetsy as bestuurders van hul eie voertuig of as passasiers in ander se voertuie.

Die syfers kom uit Statistieke Suid-Afrika se nasionale huishoudelike peiling oor reis vir 2020. Die peiling meet alle “ritte” wat Suid-Afrikaners onderneem, van kinders wat skool toe gaan tot mense wat gaan inkopies doen.

Die 2020-peiling toon die meerderheid mense kom steeds met dapper en stapper oor die weg. Dit verteenwoordig 17,4 miljoen mense, oftewel 42% van alle reise wat onderneem word. Dit sluit in 10,1 miljoen kinders wat skool toe stap.

Hoe kinders by die skool kom

Hoewel die meeste kinders skool toe loop omdat dit “naby genoeg” is (77%), is daar ook ’n groot persentasie (11%) wat stap omdat hulle nie openbare vervoer kan bekostig nie, nie toegang tot vervoer het nie (3%) of omdat openbare vervoer nie beskikbaar is op die tye wat hulle dit benodig nie (2%).

Die gemiddelde tyd wat kinders by hul dag moet las om betyds by die skool te kom, is 29 minute vir dié wat stap, maar 91 minute vir dié wat trein ry. Dit sluit die stap tot by die stasie, wag vir die trein, en weer stap tot by die skool in.

Hoe mense by die werk kom

Die meerderheid van Suid-Afrika se 16,6 miljoen mense met werk gebruik private voertuie om by die werk te kom (43,5%). 35% gebruik openbare vervoer (wat minibustaxi’s insluit) en 20% stap al die pad werk toe.

Koste van vervoer

Die meerderheid mense betaal nie vir vervoer nie – nie ’n verrassing nie, gegewe dat die meerderheid mense skool of werk toe stap. Net 9% van mense betaal meer as R1 000 per maand vir vervoer.

  • R0 tot R500: 80%
  • R501 tot R1 000: 11%
  • Meer as R1 000: 9%

Uit die mense wat openbare vervoer gebruik om by die werk te kom, verteenwoordig minibustaxi’s nou 80% – baie meer as die 68% in 2013.

In 2013 het 20% van werknemers bus gery; in 2020 het dit tot 17% gedaal.

Mense wat trein gery het werk toe, het van 13% in 2013 tot net 3% in 2020 geval.

Die peiling is gedoen vanaf 27 Januarie tot 20 Maart, en die meeste mense is dus ondervra oor hul gedrag vóórdat die streng inperking aan die begin van die Covid-19-pandemie op 27 Maart begin het.

Tussen 2013 en 2020 het die tyd wat dit neem om by die werk te kom vir alle vorme van vervoer toegeneem.

Werknemers reis gemiddeld tussen 44 minute (as passasiers in private voertuie) en 107 minute (per trein) om by die werk te kom.

Nagenoeg 41% van werknemers kon binne ’n halfuur tot ’n uur by die werk kom, maar 21% het langer as ’n uur nodig gehad, terwyl 38% in minder as ’n halfuur by die werk kon kom.

Die meeste werknemers begin hul reis werk toe tussen 07:00 en 07:59 (30%), maar ’n kwart (25%) moet reeds voor 06:00 in die pad val.

Probleme met vervoer

Onder die lang lys probleme wat mense met vervoer het, tel die volgende:

  • Swak paaie
  • Busse nie beskikbaar nie
  • Taxi’s te duur
  • Taxibestuurders bestuur roekeloos
  • Swak geriewe by taxi-staanplekke
  • Oorvol busse
  • Oorvol treine
  • Lang wagtye vir treine
  • Spitsverkeer
k
Meer oor:  Treine  |  Busse  |  Openbare Vervoer  |  Statistieke Suid-Afrika  |  Spoorweë  |  Minibustaxi  |  Vervoer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.