Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Trump nies, SA ekonomie kry seer

’n Volskaalse handelsoorlog tussen Amerika en China met oor-en-weer-tariewe tussen dié twee moondhede kan Suid-Afrika se bruto binnelandse produk (BBP) tot 0,3 persentasiepunte kos, sê prof. Raymond Parsons van die Noordwes-Universiteit se sakeskool.

’n Staalstaaf word by Higveld Steel in Mpumalanga gerol in dié argieffoto. Invoertariewe op staal na Amerika wat pres. Donald Trump verlede jaar ingestel het om China te straf, was ook negatief vir Suid-Afrika se staal- en aluminium­uitvoer na Amerika.

Dit sal rampspoedig wees vir Suid-Afrika, wat reeds geruime tyd in ’n lae groeistrik van sowat 1% vasgevang is.

Onderhandelinge tussen Amerika en China se handelsafvaardigings het Vrydag in Washington voortgegaan, ondanks die feit dat pres. Donald Trump om middernag tariewe op $200 miljard se goedere uit China verhoog het soos hy verlede Sondag op Twitter gedreig het.

Sy twiet het die markte onkant gevang omdat Amerikaanse amptenare verlede week aangedui het ’n ooreenkoms is binne bereik.

Die nuwe rits tariewe op meer as 5 700 produkkategorieë is van 10% tot 25% verhoog. Dit raak produkte soos fietse, gekookte groente, Kersliggies en babastoeltjies. Bloomberg Economics bereken die nuwe stel tariewe sal die Chinese ekonomiese groei 0,9 persentasiepunte kos, terwyl die Internasionale Monetêre Fonds raam dit kan Amerika minstens 0,2 persentasiepunte in groei kos.

Die Chinese regering het net ná die aankondiging van die verhoogde tariewe in ’n verklaring gedreig hy sal Amerika in eie munt terugbetaal, maar het nie besonderhede gegee nie.

Parsons sê die kumulatiewe impak van vorige tariefverhogings het reeds tot ’n verlangsaming in wêreld- ekonomiese groei gelei.

Invoertariewe op staal na Amerika wat Trump verlede jaar ingestel het, was ook negatief vir Suid-Afrika se staal- en aluminium­uitvoer na Amerika. Volgens die departement van handel en nywerheid kan dit Suid-Afrika uiteindelik sowat 7 000 werkgeleenthede kos.

Boonop is China ’n groot mark vir grondstowwe uit Suid-Afrika en enige verlangsaming in die Chinese ekonomie sal vir ons ’n terugslag wees, sê Parsons.

Volgens hom is daar wel opsies vir Suid-Afrika om die negatiewe gevolge van ’n volskaalse handelsoorlog te versag. Die eerste is om markte te identifiseer wat ander lande stelselmatig begin uitskuif het en wat sal baat vind by Suid-Afrikaanse uitvoer. “Ons het dus ook groot belang by ’n Brexit met ’n ooreenkoms gereed.”

Daar is ook ’n geleentheid om handel in Afrika uit te brei en die Vryhandelsooreenkoms in Afrika te bevorder om handelsvloei te verbeter.

“Vir Suid-Afrika om dié twee opsies ten beste te benut, moet die land veel mededingender in die wêreldmark wees as nou.”

Benewens die tariewe wat Vrydag van krag geword het, het Trump ook gedreig met tariewe van 25% op nog $325 miljard se goedere uit China. Ontleders sê dit maak die deur oop vir invoertariewe op alle Chinese goedere wat na Amerika uitgevoer word en wat verlede jaar $540 miljard beloop het. 

Bykomende bronne: Bloomberg en Reuters

Meer oor:  Donald Trump  |  China  |  Vsa  |  Handelsoorlog  |  Handel  |  Ekonomiese Groei  |  Wêreldekonomie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.