Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Trump wil SA se voorkeur met handel hersien

Die belastingvrye invoer van sekere Suid-Afrikaanse produkte na Amerika gaan hersien word weens kommer oor die omstrede wysigingswetsontwerp op kopiereg.

Pres. Donald Trump van Amerika. Foto: Reuters

Die wetsontwerp is tans by pres. Cyril Ramaphosa om dit te teken nadat die parlement dit aanvaar het.

LEES OOK: Kyk: Kunstenaars pleit by Cyril oor kopiereg

Die Amerikaanse handelsverteenwoordigingskantoor het Vrydag in ’n verklaring gesê pres. Donald Trump het sowat R19 miljard ($1,3 miljard) se voorkeur opgeskort wat Thailand onder sy algemene voorkeurstelsel (GSP) geniet. Dit is omdat dié land in gebreke bly om werkersregte te beskerm wat internasionaal erken word.

Terselfdertyd het die kantoor aangekondig Trump het sekere van Oekraïne se voordele herstel nadat dié land wetgewing goedgekeur het wat gebreke aanpak in sy regime om intellektuele eiendomsregte te beskerm.

Luidens dié verklaring gaan Suid-Afrika se status om in aanmerking te kom vir voorkeurhandel hersien word weens die wyse waarop die land intellektuele eiendom beskerm.

Amerika gebruik voorkeurprogramme om veral ontwikkelende lande te help om beter toegang tot sy mark te verkry.

Een van die oudste voorkeurstelsels is die GSP wat in 1976 begin is. Die GSP-program maak voorsiening vir die belastingvrye invoer van aangewese artikels wanneer dit vanaf die begunstigde lande ingevoer word.

Lees meer hier  op die handelsverteenwoordiger se webtuiste oor GSP.

’n Voorkeurprogram wat beter bekend is onder Suid-Afrikaners is die Wet op Groei en Geleenthede in Afrika (Agoa), wat in 2000 in werking getree het en belastingvrye invoer van sekere Afrika-lande toelaat.

Volgens die kantoor van die handelsverteenwoordiger is ’n versoekskrif van die drukgroep International Intellectual Property Alliance (IIPA) aanvaar waarin kommer uitgespreek word oor of Suid-Afrika die GSP-kriteria oor intellektuele eiendomsregte ten opsigte van die beskerming van kopiereg ten volle nakom. Lees onder wie die IIPA is. 

’n Kennisgewing is in Junie uitgereik om kommentaar te vra vir die jaarlikse hersiening van die GSP-begunstigdes.

Nog ’n kennisgewing sal uitgereik word oor openbare verhore en die tyd wat toegelaat word vir kommentaar oor die hersiening van die lande wat in aanmerking kom vir GSP.

Ingevolge die GSP-program kan 3 500 produkte belastingvry ingevoer word van die 119 lande wat voorkeurbehandeling kry. Om in aanmerking te kom vir die voordele moet die begunstigde lande aan 15 kriteria voldoen, insluitend stappe om internasionaal erkende arbeidsregte te beskerm, eiendomsregte voldoende en doeltreffend te beskerm en billike en redelike toegang tot hul markte verskaf.

LEES OOK: Kopieregwet kan bedryf ‘op knieë dwing’

Wie is die IIPA?

Die IIPA is ’n koalisie in die private sektor van verenigings wat die Amerikaanse kopiereg-gegronde bedrywe verteenwoordig. Dit is in 1984 gestig.

Die alliansie wil internasionale beskerming van materiaal waarop kopiereg bestaan, verbeter en afdwing. Die vyf lede van die alliansie verteenwoordig 3 200 Amerikaanse maatskappye wat materiaal skep en versprei wat deur kopieregwette beskerm word, soos sagteware vir rekenaarspeletjies, asook musiek, rolprente en boeke.

Sy lede sluit in die Association of American Publishers; Motion Picture Association of America; Entertainment Software Association; Independent Film & Television Alliance en die Recording Industry Association of America.

Die IIPA het verlede jaar in kommentaar oor Suid-Afrika se voorkeur onder Agoa ernstige kommer uitgespreek oor wysigings aan die land se kopieregwetgewing.

Die organisasie het gesê Suid-Afrika se kopieregwetgewing het talle groot wysigings nodig om gehoor te gee aan internasionale verdrae, veral ten opsigte van die beskerming van kopiereg in die kuberruimte. Die parlement het in 2015 ’n kopiereg-wysigingswetsontwerp bekendgestel wat “as baie gebrekkig” beskryf word en tekortskiet aan voldoening aan verpligtinge onder verdrae oor kopiereg.

Nuwe weergawes van die wetsontwerp het daarna verskyn waarmee die IIPA ook nie tevrede was nie.

Die Daily Maverick het onlangs berig die wetsontwerp is by pres. Cyril Ramaphosa vir goedkeuring nadat parlement dit goedgekeur het.

Een van die belangrikste probleme is dat dit “onteiening van intellektuele eiendom sonder vergoeding” moontlik gaan maak.

LEES OOK: Kyk: Kunstenaars pleit by Cyril oor kopiereg

Meer oor:  Donald Trump  |  Amerika  |  Suid-Afrika  |  Invoertariewe  |  Handel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.