Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Turkye en die rand: 5 goed wat jy moet weet

Die rand is nie die enigste geldeenheid van ’n ontluikende mark wat sedert Vrydag behoorlik deurgeloop het nie.

Die rand, wat ’n week gelede nog teen R13,33 begin verhandel het, het vroeg Maandagoggend tot so ver as R15,41 in vroeë verhandeling teenoor die dollar teruggesak.

Die agteruitgang is glo alles te danke aan wat in Turkye aan die gebeur is.

Maar wat kan in dié land gebeur dat dit die rand en geldeenhede van ander ontluikende markte so erg benadeel?

1. Geskil met die VSA

Bloomberg berig pres. Tayyip Erdogan van Turkye weier om terug te staan in ’n geskil met die VSA omdat hy ’n Amerikaanse pastoor gevange hou.

Pres. Tayyip Erdogan van Turkye.

Andrew Brunson, wat reeds 23 jaar lank in Turkye woon, is in Oktober 2016 in hegtenis geneem. Hy is een van duisende mense wat ná ’n staatsgreeppoging in hegtenis geneem is.

Brunson word onder meer daarvan beskuldig dat hy probeer het om ’n Koerdies-Christen-staat te skep, dat hy Islamitiese en Koerdiese terroristegroepe ondersteun het, dat hy ’n spioen is en/of dat hy probeer het om chaos te skep.

Bloomberg berig Brunson is in Junie wel uit die tronk vrygelaat, maar is steeds onder huisarres.

Amerika het sedertdien sanksies op die invoer van verskeie goedere uit Turkye ingestel om druk op dié regering te plaas om Brunson vry te laat.

2. Ekonomiese oorlog

Bloomberg berig Erdogan het Sondag gesê die land is in ’n ekonomiese oorlog gewikkel. Dit kom nadat die regering hom vroeër vanjaar ongekende mag gegee het.

Erdogan het Sondag gesê hy sit sy voet dwars en gaan nie enige ooreenkomste met die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) sluit om by die land se ekonomie in te gryp nie.

Reuters berig Erdogan weier ook om rentekoerse te verhoog. Hy glo dat goedkoop krediet die ekonomie weer sal laat groei.

3. Inflasie en skuld

Inflasie in Turkye het die afgelope paar jaar die hoogte ingeskiet, dit terwyl Erdogan weier om rentekoerse te verhoog.

CNBC berig in Julie was die inflasiekoers in Turkye 16%.

Rentekoerse in dié land is reeds 17,75%.

Buiten hoë inflasie, het Turkye enorme staatskuld. Luidens die IMF beloop Turkye se skuld in buitelandse valuta nou meer as 50% van sy bruto binnelandse produk.

As die lira, sy geldeenheid, gaan aanhou terugsak teenoor veral die dollar, hou dit die risiko in dat die land nie sy skuld sal kan betaal nie.

4. Groot invloed

Dit is nie net die rand of geldeenhede van ander ontluikende markte wat nadelig beïnvloed word deur die gebeure in Turkye nie.

Bloomberg berig selfs die euro het effens teenoor die dollar teruggesak. Dit is weens die groot blootstelling wat die euro aan die lira het.

5. Planne

Berat Albayrak, die Turkse minister van finansies.

Berat Albayrak, die Turkse minister van finansies, het Sondag die gemoedere probeer paai. Hy het belowe die land sal Maandag planne ter tafel lê oor hoe hy die situasie gaan beredder.

“Van Maandagoggend af gaan ons instellings die nodige stappe doen en ons sal dit met die mark deel,” het hy in ’n onderhoud met die Turkse koerant Hurriyet gesê.

Hy het nie besonderhede oor die planne gegee nie.

Meer oor:  Tayyip Erdogan  |  Andrew Brunson  |  Vsa  |  Turkye  |  Dollar  |  Rand
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.