Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Twis oor handel druk rand vir wyle tot R15

Die rand het Dinsdag vroegoggend in ’n stadium tot R15,01 gespring te midde van die verskerpte spanning oor die twis oor handel tussen Amerika en China.

donald trump
Pres. Donald Trump van Amerika lewer gereeld op Twitter kommentaar oor die handelsoorlog. Foto: Reuters

Bloomberg berig China se wisselkoersbeleid is nou sentraal in die voortgesette handelsoorlog nadat die Amerikaanse tesourie die land amptelik as ’n valuta-manipuleerder verklaar het.

Dit het Dinsdagoggend veroorsaak dat termynkontrakte wat op die S&P 500-indeks geskoei is, tot 1,9% gedaal het in vroeë verhandeling in Asië.

Dit volg na die S&P 500 self reeds Maandag sy grootste daling vanjaar beleef het weens die kommer van beleggers oor die toenemende spanning oor handel. Die S&P 500 het amper 3% laer gesluit.

Ook in Suid-Afrika het die JSE se indeks van alle aandele 2% laer gesluit.

Nema Ramkhelawan-Bhana, hoof van die navorsingspan van RMB Global Markets, het in ’n nuusbrief Dinsdagoggend gesê die woord “valuta-manipuleerder” ontlok vrees in die boesem van handelaars wêreldwyd.

“Dit het markte wêreldwyd  laat ontrafel. Dit is na my mening onverantwoordelik om ’n land so te noem,” het sy gesê.

Dit het wêreldwyd markte laat ontrafel. Dit is na my mening onverantwoordelik om ’n land so te noem.
Ramkhelawan-Bhana

Sy meen dit kan vandag nog ’n invloed hê.

Teen 8:00 het die rand weer tot R14,83 beweeg wat sterker as sy vorige sluiting Maandagaand op R14,90 is.

Bianca Botes, ’n vennoot van Treasury Solutions, meen die rand se teiken bly vir eers op die kerf van R15 teen die dollar. “Alle oë is op die volgende skuif wat in die handelsoorlog kom.”

Die rand het Maandag te midde van die hernude spanning betreklik stabiel deur die dag gebly nadat hy aanvanklik tot bo R14,90 teen die dollar verswak het.

Die Amerikaanse tesourie het China ’n valuta-manipuleerder genoem nadat die land Maandag toegelaat het dat die yuan se wisselkoers teen die dollar tot bo sewe yuan teen die dollar verswak het – die swakste vlak in meer as ’n dekade.

“Die oomblik toe die yuan tot bo sewe teen die dollar verswak het, was dit voor die hand liggend dat die Trump-administrasie China ’n valuta-manipuleerder gaan noem,’’ sê Nader Naemi van AMP Capital in Sydney.

Die termynkontrakte het Maandag laat namiddag gestyg nadat China stappe gedoen het om die yuan te stabiliseer.

”Maar ek weet nie hoe jy iemand ’n wisselkoers-manipuleerder kan noem as al wat hulle gedoen het, is om die geldeenheid te keer om verder te verswak nie.”

Naemi meen dis moontlik dat aandele wêreldwyd afverkoop kan word en dat dit so erg gaan wees as in die vierde kwartaal verlede jaar.

Die Volksbank van China het Maandag ’n sterker as verwagte daaglikse verwysingsprys vir die yuan gestel en handelaars glo die sentrale bank wil verliese beperk.

Die stap is gedoen nadat Amerika se tesourie China amptelik as ’n valutamanipuleerder verklaar het en pres. Donald Trump vroeër Maandag op Twitter gesê het die verswakking van die yuan was “ ’n groot oortreding”.

Die sentrale bank van China het die skuld van die swakker yuan gepak op die mark se reaksie oor Amerika se plan om nuwe tariewe op invoerprodukte van die land af in te stel.

’n Onbeperkte verswakking in die yuan gaan dit moeiliker maak vir Chinese maatskappye om hul skuld te herfinansier en dit gaan firmas en individue aanspoor om geld oor die land se grense te neem.

Ramkhelawan-Bhana het gesê beleggers begin nou die waarskynlikheid van ’n 100-basispunte-rentekoersdaling in Desember 2020 in Amerika inprys. Dit is meer as wat verlede jaar verwag is en dit hou verband met die hernude verwagting dat die Federale Reserweraad sy rentekoerse gaan verlaag om gevare vir ekonomiese groei wat uit die handelstwis kan ontstaan, teen te werk.

Die kontantprys of lokoprys vir goud het tot sy hoogste vlak in ses jaar gestyg wat een van die betroubare aanwysers van riskovermyding is en beleggers wat na veilige hawens vlug.

Volgens Ramkhelawan-Bhana was die rand Maandag een van die swakste vertoners onder die geldeenhede van die opkomende markte.

Sy het gesê dit skep wel ’n opportunistiese koopgeleentheid vir plaaslike staatseffekte, veral dié wat nasionale tesourie vandag opveil.

Michelle Wohlberg van RMB het in die nuusbrief gesê die onlangse styging in opbrengskoerse op die staatseffekte skep ’n goeie koopgeleentheid en beleggers benut die voordeel van die aantreklike vlakke.

Volgens haar gaan nasionale tesourie vandag R1,51 miljard van elk van die drie soorte staatseffekte uitreik.

Meer oor:  Rmb  |  Donald Trump  |  China  |  Amerika  |  Handelsoorlog  |  Yuan  |  Wisselkoers  |  Dollar  |  Rand  |  Handel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.