Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Tyd om te koop, lae rentekoers se dae getel

Die rentekoers gaan net nog tien maande laag bly voordat dit weer begin styg, so nou is die tyd om die meeste te maak van die geleentheid.

Lesetja Kganyago, president van die Reserwebank. Foto: Getty Images

Só meen Carl Coetzee, uitvoerende hoof van BetterBonds, oor die besluit van die Reserwebank se monetêrebeleidskomitee (MBK) om die repokoers weer onveranderd op 3,5% te laat.

Die prima rentekoers van banke bly dus op 7% – die laagste koers in byna 50 jaar, en eiendomsagente sê dit is nou duidelik dat dit ’n enorme stimulerende effek het op die eiendomsmark ondanks die inperking.

Maar Lesetja Kganyago, president van die Reserwebank, het ook bygevoeg die dae van lae koerse is getel.

Teen die derde kwartaal van 2021 sal die MBK waarskynlik die repokoers met 25 basispunte verhoog en dan weer met 25 basispunte in die vierde kwartaal.

Carl Coetzee, uitvoerende hoof van BetterBonds.

Adrian Goslett, uitvoerende hoof van Remax Suid-Afrika, sê dit is duidelik rentekoerse sal volgende jaar met sowat 0,5% styg.

Maar hy is oortuig die huidige oplewing van die eiendomsmark sal voortduur, want die mark is veral goed vir eerste kopers.

Goslett sê die eiendomsmark het die afgelope maande merkwaardig herstel.

“Ons gerapporteerde verkoopsyfers vir die jaar tot Oktober het met 3% gestyg teenoor verlede jaar. Dit volg op drie maande tydens die hoër vlakke van die staat van inperking (van April tot Junie) waar ons verkoopsyfers met 62% op ’n jaargrondslag gedaal het.”

Adrian Goslett, uitvoerende hoof van Remax Suid-Afrika.

Volgens Coetzee het die vereiste bedrag as deposito op ’n verband in alle prysbande gedaal, met die gemiddelde deposito vir huise van tussen R1 miljoen en R1,5 miljoen wat in Oktober met 24% jaar-tot-jaar gedaal het. Vir verbande tussen R500 000 en R1 miljoen, gewoonlik vir eerste-keer-kopers, het die gemiddelde deposito met byna 17% gedaal.

Samuel Seeff, voorsitter van Seeff, sê die lae rentekoers is regstreeks besig om meer verbande te dryf, wat sodoende die ekonomie stimuleer.

“Vir die eerste keer in ’n dekade sien ons dat die vraag na eiendom (wat die ontleders se voorspellings oortref) deur die rentekoers gedryf word.

“Ons het ’n paar van die beste handelsmaande in ses jaar gesien en in sommige gevalle beter as op die hoogtepunt van die laaste oplewing in 2015/6. Dit word hoofsaaklik aangedryf deur kopers met stabiele indiensneming, wat relatief nie beïnvloed word deur die Covid-19-pandemie nie, en die gunstige verbandleningsvoorwaardes.”

Samuel Seeff, voorsitter van Seeff.

Seeff sê verder dit is nie net eerste kopers wat die mark dryf nie, maar die bekostigbaarheid van verbandfinansiering wat meebring dat kopers na groter huise of beter woonbuurte opgradeer, asook om in tweede huise en huureiendomme te belê waar hulle goeie waarde vind.

Seeff meen daar was nog baie ruimte vir ’n verdere verlaging van die rentekoers om die ekonomie en eiendomsmark ’n hupstoot te gee.

Die meeste ekonome in Netwerk24 se peiling meen ’n verdere verlaging van die repokoers sou nie ’n goeie idee wees nie.

Prof. Carel van Aardt van die Buro vir Marknavorsing by Unisa. Foto: Research Gate

Prof. Carel van Aardt van die Buro vir Marknavorsing by Unisa sê rentekoerse is nie ’n towerstaffie om skielik ekonomiese groei te bewerkstellig nie.

Hy waarsku hoewel laer rentekoerse goeie nuus is vir mense met skuld, is dit baie slegte nuus vir mense wat van rentekoers-gekoppelde opbrengste afhanklik is vir ’n inkomste. Dit geld veral baie pensioentrekkers.

FNB meen die voortgesette lae rentekoers is ’n lig in die donker waarvoor ’n mens moet dankbaar wees.

Jacques Celliers, uitvoerende hoof van FNB. Foto: MyBroadband

Jacques Celliers, uitvoerende hoof van FNB, sê: “2020 was een van die moeilikste jare in ons ekonomiese geskiedenis, maar die herstel van die ekonomiese aktiwiteit onder ons klante bied ’n silwer rand. Vir verbruikers en ondernemings is dit die tyd om finansiële reserwes te herbou en nuwe geleenthede te soek.”

Andiswa Bata, hoof van FNB Business in Gauteng.

Andiswa Bata, hoof van FNB Business in Gauteng, sê dit is belangrik om te onthou dat die jaar afgeskop het met rentekoerse van 10%. ’n Mens moenie ’n gegewe perd in die bek kyk nie, reken Bata.

Sanisha Packirisamy, ekonoom van Momentum, het aan Netwerk24 gesê dit sal geen doel dien om rentekoerse verder te verlaag nie.

Sanisha Packirisamy, ekonoom van Momentum. Foto: Bizcommunity

Packirisamy meen dis nie ’n verlaging in die rentekoers wat die ekonomie ’n hupstoot gaan gee nie, maar

eerder strukturele hervormingsmaatreëls.

“Ons vermoed die Reserwebank is aan die einde van sy rentekoersverlagingsiklus. ’n Slegte groeipad en onderdrukte vraag na goedere en dienste oefen afwaartse druk op inflasie op kort termyn uit.

“Die Reserwebank het egter opgemerk dat die risiko’s vir inflasieverwagtinge op langer termyn in die algemeen gebalanseerd bly. Daarbenewens het die Reserwebank sy kommer oor die fiskale en skuldlas van die land herhaal.

“Ons glo verdere verslapping van hier af is minder waarskynlik, tensy Suid-Afrika nog ’n terugslag met betrekking tot ekonomiese groei ondervind weens ’n hernieude landwye verskerping van die inperking of as daar nog ’n skerp daling in inflasie is.”

Meer oor:  Fnb  |  Seeff  |  Momentum  |  Remax  |  Reserwebank  |  Koronavirus  |  Rentekoerse  |  Covid-19  |  Eiendomsmark  |  Huise  |  Repokoers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.