Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Uit resessie, maar Eskom kan ekonomie weer knou
A vendor counts out rand banknotes while working i
Ekonome voorspel ekonomiese groei van net 0,7% vir die volle 2018. Foto: Getty Images

Suid-Afrika het weliswaar uit ’n resessie gekom in die derde kwartaal, maar die beurtkrag waaronder die land op die oomblik gebuk gaan, gaan die ekonomie weer ’n gevoelige knou toedien.

Die meeste ekonome voorspel steeds ekonomiese groei van net 0,7% vir die volle 2018, ondanks die stewige kwartaalgroei van 2,2% wat Statistieke Suid-Afrika (SSA) Dinsdagoggend bekend gemaak het.

Volgens SSA is groei vir die nege maande tot einde September 0,8% vergeleke met dieselfde tyd van 2017.

Reza Hendrickse, portefeuljebestuurder van Investments, is onder die ekonome wat twyfel of die ekonomie vanjaar 1%-groei sal haal: “Die korttermyn-stukrag wat ons tans sien, is belowend, maar dit kan negatief geraak word deur Eskom se kragopwekkingsvermoë, wat ekonomiese produksie ondermyn.”

Prof. Raymond Parsons, ekonoom van die Noordwes-Universiteit se sakeskool, sê: “Die huidige beurtkrag deur Eskom is ’n nuwe element van onsekerheid wat die vooruitsig vir groei betref en skep die risiko dat die ekonomie traer gaan groei. ’n Lang ontwrigting van die kragvoorraad sal sy tol eis wat betref die verlies aan produksie in dié kwartaal (die vierde kwartaal) en selfs daarna.

“Op ’n tydstip dat Suid-Afrika verbind is daartoe om beleggersvertroue te verbeter, kan die gebrek aan sekerheid oor die kragvoorraad dalk ’n negatiewe uitwerking hê op die positiewe beleggersentiment en die kapitaalvorming wat nodig is om ’n hoër groeitrajek te ondersteun.

“Sowel die regering as die private sektor moet dringend versagtende maatreëls identifiseer wat die ekonomiese skade van beurtkrag kan beperk. Die vorige ‘oorlogskamer’ wat ’n paar jaar gelede tussen die regering, Eskom en die sakesektor geskep is om beurtkrag te behartig, moet dalk weer geaktiveer word om die huidige kragnoodgeval op te los.”

Jason Muscat, senior ekonomiese ontleder van FNB, lig die kragkrisis uit as een van die “baie struikelblokke” wat vir die plaaslike ekonomie voorlê. Die ander is volgende jaar se algemene verkiesing en die risiko dat staatskuld verder afgegradeer kan word.

Muscat verwag dat ekonomiese groei nog twee jaar lank teleurstellend gaan wees, aangesien dinge soos die kragsituasie ’n impak op beleggings en verbruiksbesteding het.

Parsons sê die ekonomie kan in 2019 teen 1,8% groei indien positiewe faktore “in plek val”. Hy glo die sterker groeivooruitsigte sal kredietgradeerders gelukkig maak.

Lees ook: Só lyk SA ekonomie nou

Ackerman sê die groei in vervaardiging (7,5%) en landbou (6,5%) is veral goeie nuus omdat dié sektore die sleutel hou tot “meer inklusiewe groei en werkskepping”.

Hy is egter bekommerd oor die inkrimping van 8,8% in die mynbou, “aangesien dit dui op van die strukturele probleme wat die sektor teister”.

Ackerman sê hoewel dit goeie nuus is dat die resessie verby is, moet ’n mens in ag neem dat enige groei van minder as 1,6% op ’n jaargrondslag beteken die ekonomie groei stadiger as die bevolking. Op ’n jaargrondslag het die ekonomie met 1,1% gegroei.

Dit beteken die bruto binnelandse produk (BBP) per capita is steeds aan die daal, soos dit sedert 2015 doen.

“Om inklusiewe groei te skep en kernprobleme soos armoede en werkloosheid op te los, moet Suid-Afrika BBP-groei van 3% as ’n absolute minimum hê.”

Meer oor:  Eskom  |  Jason Muscat  |  Ekonomie  |  Ekonomiese Groei  |  Bruto Binnelandse Produk  |  Resessie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.