Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Hoe gaan lewe ná Covid-19 lyk? Dís wat SA dink

Suid-Afrikaners meen hulle gaan selfs ná die Covid-19-pandemie byna die helfte so gereeld uiteet of vlieg as voor die pandemie. Hulle gaan ook ’n derde minder gimnasium toe.

Gesluit
Suid-Afrikaners is steeds huiwerig om terug te keer na die normale lewe. Foto: Unsplash

Dis hoe verbruikers nou voel, volgens ’n peiling wat Deloitte elke maand sedert September onder Suid-Afrikaanse verbruikers doen. Sien ook grafika hieronder.

Die Deloitte State of the Consumer Tracker meet verbruikers se angsvlakke oor sowel hul geldsake as die Covid-19-pandemie.

Die nuutste Tracker toon verbruikers se angsvlakke is wêreldwyd die laagste sedert April 2020, maar in Suid-Afrika is dit aan die styg. Dis 12% hoër as die week voordat die peiling einde Februarie gedoen is, die tweede hoogste styging van enige van die 18 lande waarin die peiling gedoen word.

Suid-Afrikaners is veral oor hul geldsake en werksekerheid bekommerd, asook oor die gesondheid van dierbares en van hulself.

Die peiling toon die “tuisbly”-ekonomie gaan van krag tot krag soos mense openbare plekke en persoonlike kontak probeer vermy.

Selfs nadat die pandemie eendag verby is, wil Suid-Afrikaners meer tuis kook (65% meer as voor die pandemie) en hulle gaan minder uiteet (-44%), geleenthede bywoon (-45%) en vlieg (-47%).

Inentings

Deloitte het mense gevra of hulle hulself sal laat inent en, indien wel, wanneer hulle verwag dit gaan gebeur.

In Europese lande en Amerika was die grootste persentasie mense oortuig hulle gaan binnekort ingeënt word, maar in Suid-Afrika is 24% van mense nog onseker wanneer dit gaan gebeur. Die onsekerheid is volgens George deel van die rede vir Suid-Afrikaners se hoë angsvlakke.

Byna een uit vyf (19%) Suid-Afrikaners sê nou hulle gaan hulself nie laat inent nie. Die wêreldgemiddelde is 10%.

Nesbou

Mitch Slape, uitvoerende hoof van Massmart, sê Makro het meer televisiestelle in 2020 verkoop as enige vorige jaar – en mense het groter, duurder TV’s verkies.

Hy skryf dit toe aan die “nesbou”-neiging wat deur die Covid-19-pandemie en gepaardgaande inperkings meegebring is.

Massmart is die eienaar van onder meer Game, Makro en Builders, en Slape sê hulle sien dieselfde neiging uit die verkope van selfdoenbenodigdhede en toerusting vir tuiskantore.

Slape was ’n gas op ’n voorlegging. Hy sê baie van die heersende neigings wat weens die pandemie begin het, beskou hulle as blywend.

Dit sluit in dat mense minder gereeld fisieke winkels gaan besoek. Mense koop eerder meer op ’n slag.

Hy sê aanlyn inkopies, vir aflewering of om op te tel, gaan aanhou groei. Die Deloitte-studie beaam dit.

Slape reken dat mense sal aanhou om tuis te oefen omdat meer mense ongemaklik voel met gimnasium toe gaan. Verkope van oefentoerusting by Makro en Game, insluitend groot toerusting soos trapmeulens, het die hoogte ingeskiet.

Deloitte het ook bevind mense sal 32% minder na die gimnasium toe wil gaan ná die pandemie.

Tuisvermaak is ook vir Slape ’n blywende neiging. Deloitte het bevind mense gaan ná die pandemie meer stromingsdienste benut as voor dit, sowel op hul slimfone (45%) as op televisies (42%).

Waar voel mense veilig?

Rodger George van Deloitte sê dis ’n pluimpie vir Suid-Afrika se kleinhandelaars dat 55% van Suid-Afrikaners op die oomblik veilig voel as hulle winkel toe gaan. Net ’n maand gelede het minder as die helfte van mense (41%) veilig gevoel.

Daarteenoor voel net 39% veilig in ’n restaurant, 34% om te vlieg en 18% om geleenthede by te woon. Al dié syfers is wel effens hoër as ’n maand gelede.

Interessant genoeg voel net 28% van ouers nou dis veilig om hul kinders skool toe te stuur, teenoor 39% ’n maand gelede.


Meer oor:  Deloitte  |  Kleinhandel  |  Peiling  |  Verbruikers  |  Verbruikersvertroue  |  Restaurante  |  Covid-19  |  Lugdienste
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.