Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Uitvloei van beleggings kan Cyril-plan oorskadu

Pres. Cyril Ramaphosa se grootste uitdaging is nie meer om $100 miljard se beleggings te kry nie, maar om die grootskaalse onttrekking van beleggers te stuit.

Pres. Cyril Ramaphosa.

Prof. Raymond Parsons van die Noordwes-Universiteit se sakeskool sê Ramaphosa se laatnagaankondiging oor onteiening sonder vergoeding het sy stimulusplan vir die ekonomie heeltemal oorskadu.

Kenners is skepties oor die plan omdat dit nie veel nuut voorstel nie. Die plan behels:

  • Beleggings in openbare infrastruktuur binne die begrotingsraamwerk;
  • Meer ondersteuning vir entrepreneurskap en werksgeleenthede vir vroue en jong mense;
  • Inspuitings vir klein, medium- en mikro-ondernemings;
  • Handelshulpmiddels vir sektore soos die suikerbedryf wat swaar deur invoer getref word;
  • Aankope moet meer op plaaslik vervaardigde goedere fokus.

Khaya Gobodo, besturende direkteur van die Old Mutual Investment Group (OMIG), sê niks hiervan kan realiseer as daar nie beleidsekerheid is nie. Hy sê die kanse is skraal dat beleidsekerheid gaan kom voor volgende jaar se algemene verkiesing. Om sekerheid te kan bied, moet daar politieke wil wees en dit volg op politieke kapitaal, waarvan Ramaphosa nie tans veel het nie.

“Die verkiesing is baie belangrik om vir hom ’n breë mandaat te gee vir genoeg politieke kapitaal om vorentoe te beweeg en sekerheid te bring. Hy kan een of twee kwessies takel, soos korrupsie, wat intussen kan help om vertroue te herstel.”

Gobodo sê Ramaphosa se $100 miljard-veldtog kan bruto vastekapitaal-vorming tot 25% van die bruto binnelandse produk (BBP) opstoot. As die doelwit bereik word, kan dit 2 tot 3 persentasiepunte tot BBP-groei bydra. Maar beleggers sal wegbly as hulle nie weet wat met hul kapitaal gaan gebeur nie.

Die Reserwebank het verlede maand Suid-Afrika se groeiverwagting vir die jaar afwaarts aangepas tot 1,2% teenoor 1,7% in Mei.

Gobodo sê die koste van onsekerheid blyk uit die feit dat beleggings in die mynbousektor verlangsaam het sedert onsekerheid oor die gewysigde Mynbouhandves kop uitgesteek het.

Nuwe myne word nie gebou nie en bestaande myne doen drastiese stappe om kop bo water te hou, soos Impala Platinum se aankondiging die afgelope week dat hy 13 000 poste gaan moet besnoei.

Lullu Krugel, hoofekonoom van PwC, sê sonder beleidsekerheid “gaan ons nie ver kom nie”. ’n Opname deur PwC het gewys die stand van korporatiewe bestuur, korrupsie en eiendomsreg is van die belangrikste faktore wat buitelandse beleggings die afgelope 20 jaar beïnvloed het.

“In al drie dié gebiede vaar ons tans nie te goed nie. As ons dit nie takel nie, gaan min ander stappe genoegsame impak hê,” sê Krugel.

Maarten Ackerman, ekonoom van Citadel, sê die stimuluspakket is tipies wat mens hoor in ’n verkiesingsiklus.

Om geld hiervoor te kry, sal die regering sy begroting moet aanpas vir minder maatskaplike steun, maar dit sal ongewild wees. Hy kan buitelandse en plaaslike beleggings probeer lok, maar albei sal eers sekerheid wil hê oor byvoorbeeld die grondkwessie, sê Ackerman.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.