Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Universiteite moet plan maak vir meer geld
Die Universiteit van Stellenbosch.

Met behoeftige studente wat van 2018 af gratis toegang tot tersiêre opleiding kry, blyk dit universiteite is reeds besig om planne te maak om ander bronne van inkomste te kry.

Dit blyk uit Statistieke Suid-Afrika (SSA) se verslag oor die geldsake van tersiêre onderriginstellings, wat Dinsdag uitgereik is.

Die klasgeld wat studente aan universiteite betaal, is nie eens genoeg om die personeellede wat by dié instansies werk te betaal nie.

En dit was nog voordat die staat se beleid ingestel is om gratis hoër onderrig aan studente uit huishoudings met ’n gesamentlike jaarlikse inkomste van minder as R350 000 te bied.

Klasgeld verteenwoordig gemiddeld net 32% van universiteite se bedryfsinkomste.

In 2017 het studente aan Suid-Afrikaanse universiteite altesaam R23,7 miljard in klasgeld betaal. Dit was egter nie eens genoeg om universiteite se salarisrekening van R37,3 miljard te betaal nie.

Pres. Cyril Ramaphosa het in Desember aangekondig dat die program om gratis hoër onderwys aan behoeftige studente te bied, van 2018 af in fases ingestel gaan word.

Volgens Ramaphosa is gratis hoër onderwys noodsaaklik vir die uitbreiding van ekonomiese geleenthede.

Luidens SSA het universiteite in 2017 ’n gesamentlike bedryfsinkomste van R73,6 miljard gehad. R39,8 miljard het van navorsingsbydraes, skenkings en ander bronne gekom, terwyl R33,8 miljard van die staat en spesiale toelaes gekom het.

Die styging van R3,8 miljard in staatstoelaes aan universiteite tussen 2016 en 2017 was weens groter betalings deur die departement van hoër onderwys en opleiding aan die Universiteite van Suid-Afrika (Unisa), Pretoria en die Witwatersrand (Wits).

Prof. Wim de Villiers, rektor van die Universiteit Stellenbosch, het in November 2017 reeds gewaarsku dat universiteite hulle onder meer na vrygewige individue sal moet wend om genoeg skenkings te genereer.

“Universiteite kan nie meer staatmaak op klasgeld en staatsubsidies nie en moet ander maniere vind om hul inkomste aan te vul ten einde ’n standaard van uitnemendheid te handhaaf,” het De Villiers gesê.

Uitgawes

Universiteite se bedryfsuitgawes het R62,3 miljard beloop. Dit het hulle in 2017 met ’n gesamentlike oorskot van R11,4 miljard gelaat.

Hul kontantsurplus was R5,6 miljard in dié jaar.

Die grootste uitgawe van universiteite is hul salarisrekening, en boonop raak dit al hoe groter. Luidens SSA het universiteite se gesamentlike salarisrekening in 2017 met bykans 11% teenoor 2016 gestyg.

SSA gee nie besonderhede oor of universiteite meer werknemers in diens geneem het, of nie.

SSA sê net die styging, wat beduidend hoër is as die gemiddelde inflasiekoers van 5,1%, is hoofsaaklik weens salarisverhogings, spesifiek by Unisa, Wits en die Universiteit van Kaapstad.


MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.