Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Vakbonde gaan op agtervoet wees ná inperking
Gideon du Plessis

Covid-19 gaan arbeidsverhoudinge radikaal verander. Dié virussiekte gaan negatiewe en positiewe gevolge vir arbeidsverhoudinge en veral vir kollektiewe onderhandelinge in Suid-Afrika inhou.

Die virus se aanvanklike positiewe invloed was die wyse waarop arbeid, die sakesektor en die regering se verteenwoordigers binne die nasionale ekonomiese ontwikkelings- en arbeidsraad (Nedlac) in die aanloop tot die inperkingstyd spoedig ’n ooreenkoms kon bereik oor aanvanklike ekonomiese stimulusmaatreëls.

Daar was ook konstruktiewe uitkomste oor wysigings aan die werkloosheidsversekeringsfonds (WVF) en pensioenfondsregulasies om werkgewers wat onder ernstige finansiële druk verkeer tegemoet te kom met WVF-ondersteuning aan werknemers wanneer salarisse nie betaal kan word nie, of pensioenfondsbydraes nie volgehou kan word nie.

Covid-19 se grootste negatiewe impak op arbeidsverhoudinge sal werksverliese wees. Die damwal gaan ná die inperkingstyd breek en werknemers in bykans elke ekonomiese sektor sal aan aflegging-, likwidasie- en sakereddingsprosesse blootgestel word.

’n Positiewe gevolg is dat Covid-19 ’n werklikheidsbesef onder populistiese vakbondleiers laat posvat het. Zwelinzima Vavi, die vakbondfederasie Saftu se hoofsekretaris – wat al telkemale gedreig het om die land se ekonomie deur ’n staking tot stilstand te bring – besef nou wat die gevolge van sy dreigement is. Vavi het in reaksie op die inperkingsmaatreëls aangevoer “dat dit die finale spyker in die doodskis van die ekonomie en werkskepping sal wees”.

Weens Covid-19, en SA se afgradering na rommelstatus, gaan die magsewewig swaai en vakbonde op die agtervoet wees. Ná die inperkingstyd sal vakbonde saam met werkgewers kreatiewe oplossings moet vind om verlore produksie en werknemervergoeding in te haal, en die afleggingsbloedbad te versag. Om dit te verwesenlik sal werknemers en werkgewers groot toegewings moet maak.

By verskeie werkplekke sal werknemers hulle tydelik moet verbind tot langer werksure oor naweke en op openbare vakansiedae. Maatskappye in die oorgangstydperk sal hopelik verliese langer kan dra sonder om personeel drasties te verminder in die hoop dat die maatskappye ’n finansiële gelykbreekpunt binne ’n redelike tydperk kan bereik.

So ’n gee-en-neem-benadering sal die weg baan vir die implementering van die wen-wen, belangegegronde werkgewer-vakbond-onderhandelingsmodel wat die huidige posisionele bedingingsmodel kan vervang. Die uitgerekte en konfronterende posisionele model beteken vakbonde dien ellelange looneise in en werkgewers begin met ’n onrealisties lae salarisverhogingsaanbod, terwyl vakbonde met onrealisties hoë verhogingseise begin.

In die belangegegronde model, wat deur die Amerikaners Roger Fisher en William Ury ontwikkel is en suksesvol in die VSA, asook Europese en Skandinawiese lande aangewend word, is die fokus op gedeelde belange en die soeke na wedersydse voordele, en nie die afdwing van selfgesentreerde belange nie. William Thomson, ’n gerespekteerde bemiddelaar van die kommissie vir versoening, bemiddeling en arbitrasie (KVBA), is reeds opdrag gegee om die model plaaslik onder rolspelers te “bemark”.

Waar die uitgediende posisionele model gaan voortleef, behoort dit ’n ander vorm aan te neem want werkgewers en vakbonde gaan met die aanvang van onderhandelinge ná die inperkingstyd nie net die druk van Covid-19 se ekonomiese en finansiële nalatenskap ervaar nie, maar daar gaan tydsdruk wees om uitgestelde onderhandelinge af te handel.

Vakbonde en werkgewers begin nou in die inperkingstyd leer om vakbond-looneise, motiverings- en wedersydse reaksies op skrif te hanteer. Hierdie praktyk sal toekomstige onderhandelinge versnel.

Tweedens, die gevolge van Covid-19 sal vakbonde en werkers laat besef dat volhoubaarheid en werksekerheid belangriker is as loonverhogings bo inflasie. Só sal die klem verskuif na die “maatskaplike loon” wat diensvoorwaardes soos pensioenvoordele, mediese sorg, beroepsveiligheid en opleiding prioritiseer.

Derdens, werkgewers sal noodgedwonge verhogings aan uitsette begin koppel.

Laastens behoort loonooreenkomste ook tipies driejaar-ooreenkomste te wees om werksplekstabiliteit te verhoog en voldoende tyd te bied om produksieteikens te bereik.

Die Marikana-voorval van 2012 het ’n veranderde arbeidsverhoudinge-bedeling tot gevolg gehad, maar die Covid-19-ontwrigting van arbeidsverhoudinge gaan baie radikaler wees.

  • Gideon du Plessis is hoofsekretaris van Solidariteit.

Meer oor:  Vakbonde  |  Koronavirus  |  Werksplek  |  Arbeidsake  |  Beroepe  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.