Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
‘Vakbonde kan partye leer oor koalisies’

Ná afloop van nasionale en munisipale verkiesings word koalisies tussen politieke partye gevorm, of dit word beëindig. Dit is veral die DA en die EFF wat ’n geskiedenis van “opmaak en uitmaak” het.

Gideon du Plessis

Die verskynsel van formele koalisievorming is al geruime tyd in die vakbondwese gevestig. Met raakpunte met koalisies uit die politieke omgewing is die dryfveer daaragter om óf deur ’n koalisie ’n meerderheidstatus van verteenwoordiging by ’n werksplek te beskerm of te vestig óf om ’n opposisieblok teen die meerderheidsvakbond te vorm.

Onderliggend daaraan is die “wenner-neem-alles-beginsel” waarvolgens ’n vakbond (of politieke party) wat meer as 50% steun het, die meeste mag en voordele geniet.

’n Minderheidsvakbond se geveg om werksplek-erkenning lei ook tot vakbond­koalisievorming, al is die Wet op Arbeidsverhoudinge gewysig om aan ’n minderheidsvakbond die geleentheid te gee om deur ’n arbitrasieproses te toon dat hy ’n wesenlike belang by ’n werkplek het en daarom erkenning moet geniet.

Dit kan egter ’n moeisame en duur proses wees en dit is meestal makliker om ’n koalisieooreenkoms met een of meer vakbonde te sluit om op grond van die gesamentlike getal werknemers wat verteenwoordig word, erkenning te kry, of te behou. Die minderheidsvakbond se persentasie-verteenwoordiging versterk dan ook die groter vakbond se vlak van verteenwoordiging.

In die mynbousektor word die meeste vakbondkoalisies gesluit tussen Solidariteit, die NUM en Uasa, in kombinasies van twee van die vakbonde, of al drie gesamentlik. Daar bestaan ook verskeie koalisies tussen Satawu, Uasa, Solidariteit en Ausa in die lugvaartsektor.

Vakbondkoalisies bly egter veel langer in stand as politieke koalisies en politieke partye kan moontlik iets leer by vakbonde se tienpuntplan vir suksesvolle vakbondkoalisies. Dit behels die volgende:

1. Die verbintenis tot ’n koalisie is werkplek-spesifiek en die betrokke vakbonde se plaaslike en nasionale leierskorps moet albei tot die koalisie instem.

2. Die hoofrede vir die koalisie is om meerderheidstatus of -erkenning te behou, en is nie vir wedersydse steun vir beginselkwessies nie.

Vakbonde kom vooraf ooreen dat daar verskille gaan wees en daar word ruimte gelaat daarvoor, maar die protokol is dat verskille agter die skerms en nie in die openbaar hanteer word nie.

3. Vakbonde kom vooraf ooreen dat daar verskille gaan wees en daar word ruimte gelaat daarvoor, maar die protokol is dat verskille agter die skerms en nie in die openbaar hanteer word nie.

4. Die vakbonde kom ook vooraf ooreen wat die raamwerk en prosedures vir hul samewerking behels. Só word daar in die breë ooreengekom oor die kwessies waaroor daar gesamentlik opgetree gaan word, en kwessies wat vakbonde individueel sal aanvoer.

5. Voordat vakbonde tot onderhandelinge oorgaan met ’n werkgewer, vind daar ’n belyning plaas oor watter standpunt of posisie ingeneem gaan word.

6. Wanneer koalisievakbonde oor ’n kwessie verskil wat vir die ander vakbond/e ’n beginselsaak is, is die protokol om neutraal te bly in plaas daarvan om teen ’n koalisievennoot kant te kies.

7. Die kleiner vakbond kan nie die groter vakbondvennoot oordonder wanneer die kleiner een die “koningmaker” is nie.

8. Waar kwessies van algemene belang op die spel is, sal die grootste vakbond die debat of onderhandeling inlei en die kleiner vakbond sal dit bloot aanvul of ondersteun. Dieselfde beginsel geld vir gesamentlike mediakonferensies.

9. Die leierskorps van een vakbond raak nie by grondvlakverskille betrokke nie, tensy die leiers van al die koalisievennote betrokke is.

10. Die leiers (nasionaal en plaaslik) van die betrokke vakbonde moet deurlopend met mekaar in aanraking wees om ’n potensiële onderlinge twispunt betyds te identifiseer, en só te verseker dat daar ’n gevestigde kommunikasiekanaal bestaan wanneer pro-aktiewe optrede geverg word.

Benewens die voertuig wat vakbondkoalisies vir erkenning of meerderheidstatus bied, hou dit ook die voordeel in dat wanneer ’n werkplekgeskil tot ’n litigasieproses lei, die koalisie-vakbonde die regskoste kan deel; ’n regter of arbiter minder geneig is om teen twee of meer koalisievakbonde uitspraak te lewer; en koalisievakbonde geneig is om op vele ander terreine spontaan saam te werk.

Hierdie spontane samewerking lei weer tot ’n groter mate van verdraagsaamheid teenoor verskille, wat op sy beurt weer stabiliteit in die vakbondwêreld bevorder. Hopelik kan politieke partye by vakbonde leer hoe koalisies volhoubaarder kan wees.

  • Gideon du Plessis is hoofsekretaris van Solidariteit.
Meer oor:  Solidariteit  |  Gideon Du Plessis  |  Koalisies  |  Vakbonde  |  Arbeid  |  Arbeidsake
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.