Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Valke ondersoek leerkragte wat klas gee én bus ry

Die Valke ondersoek meer as R21,4 miljoen se bedrog wat onderwysers in Limpopo na bewering gepleeg het deur vir staatskontrakte te tender om skoolkinders te vervoer terwyl hulle in diens van die staat was.

Lt.genl. Godfrey Lebeya, hoof van die Valke, het die afgelope week omvattend verslag gedoen aan die parlement se staande komitee oor openbare rekeninge (Skoor) oor hoe dié spesiale ondersoekeenheid van die polisie met sekere bedrogsake vorder.

Lebeya was egter sku om te veel besonderhede bekend te maak, want hy is bekommerd die verdagtes kom agter wat die polisie se metodes is om die sake te ondersoek. Fynere besonderhede van die ondersoeke is dus uitgelaat.

Die Valke ondersoek nege verskillende sake van dié aard, wat almal verband hou met tenders vir die vervoer van skoolkinders. Dit is ’n oortreding van artikel 30 van die Wet op Openbare Dienste vir staatsamptenare om sonder toestemming ekstra werk vir vergoeding buite hul betrokke departement te doen.

Die klagte wat meestal in Desember 2019 in Polokwane aanhangig gemaak is, sluit oortredings van artikel 17 (1) van die Wet op die Voorkoming en Bekamping van Korrupte Bedrywighede in. Hiervolgens is dit ’n oortreding vir enige staatsamptenaar om ’n private belang te kry in enige kontrak of ooreenkoms met ’n openbare liggaam in wie se diens hy of sy is.

Vervalste gradering

By die KwaZulu-Natalse departement van onderwys word R6 miljoen se bedrog, korrupsie en geldwassery ondersoek.

Die bewering is dat ’n onderneming genaamd Masiqhame Trading in 2005 met ’n amptenaar van die Konstruksiebedryf Ontwikkelingsraad (CIBD) saamgespan het om ’n vervalste CIBD-gradering te kry sodat hy aan konstruksietenders van die departement van onderwys kon deelneem.

Met die vervalste dokumente het die onderneming glo vir tot R6 miljoen se tenders by die departement van onderwys aansoek gedoen.

’n Vinnige internetsoektog wys dat “Masiqhame Trading” ’n gewilde naam blyk te wees vir ’n hele aantal maatskappye. Daar is ’n Masiqhame Trading wat in 2012 betrokke was by ’n transaksie met die Buffalo City metro om namens die munisipaliteit swart sakke aan te koop. Die metro het egter meer as R7,9 miljoen te veel betaal. Daar is ’n Masiqhame Trading 1057 wat ondersoek word oor ’n kontrak verlede jaar met die Wes-Kaapse onderwysdepartement om persoonlike beskermende toerusting te lewer. Die firma het 74 uit 87 tenders van die departement gewen.

Dan is daar ’n Masiqhame Trading 540 wat ’n omstrede kontrak gehad het vir veiligheidsdienste aan die Wes-Kaapse regering, ’n Masiqhame Trading 729 wat skoonmaakdienste in Khayelitsha gelewer het, en ’n Masiqhame Trading 855 wat betrokke is by Orion Minerals se kopermyn by Prieska.

Spookwerkers

In die Oos-Kaap gaan ’n saak wat al sedert 2010 sloer dalk weer op die hofrol geplaas word. Dit gaan oor bedrog van R336 000 deur ’n amptenaar van die departement van onderwys wat vroeëkinderontwikkelingspraktisyns by skole aangestel het sonder die nodige goedkeuring van die betrokke senior bestuurders. Die klag is in Desember 2010 by Algoapark in Gqeberha aangemeld.

Baie van die praktisyns het nie die nodige minimum kwalifikasies gehad nie, en sommige was in werklikheid spookwerkers, want die skoolhoofde van die skole waar hulle veronderstel was om geplaas te word, het nie eens van hulle geweet nie.

Die verdagte in die saak het boonop by 34 van die praktisyns geld in kontant teruggevra wat aan hulle betaal is. Sy het beweer die geld is verkeerdelik aan hulle oorbetaal. Sommige van die praktisyns het nooit gewerk in die tydperk waarvoor hulle betaal is nie. Handtekeninge en dokumente is vervals om die betalings aan die praktisyns moontlik te maak.

Meer oor:  Bedrog  |  Tenderbedrog  |  Korrupsie  |  Tenders  |  Onderwys  |  Valke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.