Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Van 82 tot 50: Wat’s dié ranglys waarvan Cyril praat?

Dit sal ’n wonderwerk wees as Suid-Afrika binne drie jaar van nr. 82 tot nr. 50 op die Wêreldbank se Ease of Doing Business-ranglys (EDB) klim, soos wat pres. Cyril Ramaphosa Donderdag in sy staatsrede belowe het.

Pres. Cyril Ramaphosa Donderdag kort voor die 2019-staatsrede in Kaapstad. Foto: Peter Abrahams

Dis die mening van Peter Attard Montalto, hoof van kapitaalmarknavorsing vir Intellidex. Hy sê sover hy kan vasstel, het géén ander land nog só ’n sprong in so ’n kort tyd gemaak nie.

Boonop is ander lande ook baie bewus van die lys en doen hulle alles moontlik om hul eie posisie te verbeter.

Die land se huidige posisie van nr. 82 plaas hom darem bo die halfpadmerk uit 190 lande. Die ranglys vir 2019 is in die middel van 2018 uitgereik.

Al is Montalto skepties oor of die sprong tot nr. 50 of hoër moontlik is, sê hy dit was wel ’n positiewe aankondiging, een wat hulle lankal aanmoedig.

“Die plan verskaf iets baie spesifieks waaraan die land se vordering gemeet kan word en dus wat die regering aanspreeklik hou – wat goed is.”

Wat is die indeks?

Die EDB-indeks vergelyk lande met mekaar op grond van hoe bevorderlik die regulerende omgewing vir die begin en bedryf van ondernemings is, asook hoe sterk die beskerming van eiendomsreg is.

Dit meet regulasies en ander aspekte van die volgende 11 faktore:

  • registrasie van ’n nuwe onderneming;
  • boupermitte;
  • toegang tot elektrisiteit;
  • registrasie van eiendom;
  • toegang tot krediet;
  • beskerming van minderheidsbeleggers;
  • belastingadministrasie;
  • handhawing van kontrakte; en die
  • arbeidsmark.

Ekonomieë met ’n hoë posisie op die ranglys (1 tot 20) het eenvoudiger en vriendeliker regulasies vir ondernemings.

Wat is Suid-Afrika se swakste punte?

  • Suid-Afrika is nr. 134 op die lys vir hoe moeilik dit is om ’n onderneming te begin. Dit kan tot 40 dae duur om ’n nuwe onderneming te registreer.
  • Die land is ook laag, nr. 143, vir hoe moeilik dit is om oor grense heen handel te dryf. Dié subindeks meet die tyd en koste van in- en uitvoer.

Wat is Suid-Afrika se sterkste punte?

  • Suid-Afrika is nr. 23 op die lys van die mate waarin minderheidsaandeelhouers beskerm word; en
  • Nr. 46 op hoe moeilik dit is om jou belastingsake in orde te hou.

Dié twee subindekse is ook die enigste twee waarvoor Suid-Afrika reeds onder die 50 beste lande is.

Waar het Suid-Afrika al verbeter?

Die Wêreldbank wys op twee gebiede waarop Suid-Afrika in 2018 verbeter het.

  • Dis nou makliker om ’n onderneming te registreer as die vorige jaar; en
  • Die kragvoorraad was meer voorspelbaar. Die ranglys is egter in die middel van 2018 voor die Desember-vlaag van beurtkrag opgestel.

Was Suid-Afrika al in die top-50?

Suid-Afrika was in 2011 – agt jaar gelede – nr. 35 op die ranglys. Sedertdien het die land nog net geval.

Hoe vergelyk Suid-Afrika met ander Afrika-lande?

Vyf lande in Afrika lê bo Suid-Afrika op die ranglys, twee van hulle is in die top-50. Die vyf is:

  • Mauritius (20)
  • Rwanda (29)
  • Marokko (60)
  • Kenia (61)
  • Tunisië (80)

Wie is nou in die top-50?

Om in die top-50 te beland, sal lande soos Nieu-Seeland, die VSA, Australië en Duitsland minder mededingend moet word. Die top-5 is:

  • Nieu-Seeland
  • Singapoer
  • Denemarke
  • Hongkong
  • Suid-Korea

Die res van die top-50 is, in volgorde:

Georgië, Noorweë, VSA, Brittanje, Masedonië, Verenigde Arabiese Emirate, Swede, Taiwan, Litaue, Maleisië, Estland, Finland, Australië, Letland, Mauritius, Ysland, Kanada, Ierland, Duitsland, Azerbeidjan, Oostenryk, Thailand, Kazachstan, Rwanda, Spanje, Rusland, Frankryk, Pole, Portugal, Tsjeggië, Nederland, Belarus, Switserland, Japan, Slowenië, Armenië, Slowakye, Turkye, Kosowo, België, China, Moldawië, Serwië, Israel en Montenegro.

Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  Wêreldbank  |  Ekonomie  |  Staatsrede 2019
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.