Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Van bakkery tot boetiek, beursies bly toe
Volgens Statistieke Suid-Afrika het verbruikers in Julie 9% minder in winkels bestee as ’n jaar gelede. Foto: iStock

Suid-Afrikaners se bestedingspatrone is nog lank nie normaal nie – en van bakkerye tot boetieks byt die spit af.

Volgens Statistieke Suid-Afrika het verbruikers in Julie 9% minder in winkels bestee as ’n jaar gelede.

Die skerpste daling, van 39,1%, was by sogenaamde “ander” kleinhandelaars, ’n breë kategorie wat juweliersware, boeke, gebruikte goedere en sportgoedere insluit.

Verkope van klere en skoene was 13,8% laer as ’n jaar gelede en selfs verkope by kleinhandelaars was 3,2% minder.

In Julie kon Suid-Afrikaners steeds nie sigarette koop nie. Hulle kon ook vir net twee weke van die maand drank koop, net nie oor naweke nie – totdat die drankverbod weer op 12 Julie in werking getree het.

Kleinhandelverkope is nou al vier maande lank minder as wat dit ’n jaar gelede was. In April, vlak 5 van die inperking, was dit -49,9%, in Mei -11,9%, in Junie -7,2% en in Julie -9%.

Die jaargroei van -9% in Julie was selfs groter as die -7,2% in Junie. Tussen Junie en Julie het kleinhandelverkope met 1,1% gedaal. Dié syfers dui daarop dat verbruikers in Junie van opgekropte kooplus ontslae geraak het voordat hulle in Julie weer die beursies toegeklap het. Alle kleinhandel het op 1 Junie oopgemaak, met die uitsondering van drank- en sigaretverkope.

Dit stem ooreen met syfers wat verskeie maatskappye die afgelope weke uitgereik het waaruit ’n skerp opflikkering in verkope in Junie gesien het.

Die juwelierswarewinkel NWJ het in Junie juweliersware verkoop wat 17,2% méér werd was as ’n jaar gelede en Arthur Kaplan en World’s Finest Watches saam 10,5% meer, het die winkels se moedermaatskappy, Luxe, onlangs getoon.

Lewis het jaargroei in verkope van 22% in Junie beleef, wat in Julie effens teruggesak het tot 17%.

Die FNB-ekonoom Siphamandla Mkhwanazi beskou die syfers as “effens teleurstellend”, maar sê dis ’n jaarlikse neiging dat Julie ’n swakker maand as Junie is. Nog net een keer die afgelope vyf jaar – in 2016 – was Julie se jaargroei vinniger as Junie s’n.

Die enigste kategorieë verkope wat in Julie gestyg het, was vir meubels (14,6%) en ysterware, glas en verf (9,2%). Mkhwanazi skryf dit daaraan toe dat mense huisverbeterings doen noudat hulle meer gereeld tuis is. Dis ’n tendens wat maatskappye soos Cashbuild, Italtile en Lewis ook opgetel het.Daar was ook groei van 1% in die verkope van medisyne, toiletware en grimering.

Te midde van die slegte nuus, bring Julie darem ook goeie nuus. Kleinhandelverkope vir die drie maande tot einde Julie is positief teenoor die drie maande voor dit, op 7,4%. Dis die eerste keer in vier maande dat die driemaandesyfer positief is.

Mkhwanazi sê kleinhandelverkope sal dalk oor die volgende paar maande styg danksy die normalisering van die ekonomie, en aangehelp deur laer rentekoerse. Verbruikers gaan egter onder druk bly omdat baie mense hul werk verloor het of hul inkomste gekrimp het weens die Covid-19-krisis.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.