Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Van die hand tot die mond val Ipap op die grond

’n Studie van Suid-Afrika se nywerheidsbeleid-aksieplan (Ipap) wat al vir meer as ’n dekade van krag is, wys dit het nog geen verskil aan die land se nywerheidsektor gemaak nie.

  

Prof. David Kaplan, afgetrede ekonomieprofessor van die Universiteit van Kaapstad, sê die regering se nywerheidsontwikkelingsplan moet deurgrondig hersien word.

Prof. David Kaplan, afgetrede professor in ekonomie aan die Universiteit van Kaapstad, het bevind Suid-Afrika se huidige vervaardigingsproduksie is steeds laer as wat dit in 2008 was, toe Ipap van krag geword het. Ander opkomende markte het oor dieselfde tyd hul vervaardigingsproduksie met sowat 50% verhoog.

Die Ipap se mikpunt was om teen 2020 ’n bykomende 350 000 poste in die vervaardigingsektor te skep. Vandag werk daar egter 320 000 minder mense in die sektor as in 2008.

Kaplan beveel aan dat nywerheidsbeleid deurgrondig hersien word deur mense of organisasies wat nie betrokke was by die formulering van die Ipap nie. Dit moet ’n eksterne hersiening wees om belangebotsing te vermy en nuwe perspektiewe te kry.

Goeie praktyk is dat nywerheidsbeleid gereeld hersien word, maar Ipap is nog nooit so omvattend hersien nie.

Beleggingsaansporings

Die hoeksteen van Ipap is ’n omvattende stelsel van beleggingsaansporings.

Van 2011 tot 2018 het meer as 14 000 ondernemings aansporings van sowat R61 miljard van die regering gekry. Die departement van handel en nywerheid (onlangs herdoop tot handel, nywerheid en mededinging) beweer die aansporings het sowat 670 000 werkgeleenthede geskep, maar Kaplan meen dié aanspraak is baie twyfelagtig omdat indiensneming in die vervaardigingsbedryf in dié tyd skerp geval het.

Die Ipap se mikpunt was om teen 2020 ’n bykomende 350 000 poste in die vervaardigingsektor te skep. Vandag werk daar egter 320 000 minder mense in die sektor as in 2008.

Die vraag is hoeveel maatskappye wat in elk geval die belegging sou maak, het dié beleggingsaansporings gekry?

Kaplan meen ook ’n mens moet vra of die beleggingsaansporings nie in effek tot groter meganisering gelei het nie, want die aansporings is meestal vir kapitaalbeleggings. Dit beteken die kapitaaltoerusting het arbeid vervang, wat lei tot vervaardigingsgroei wat minder arbeidsintensief is.

Ter viering van Vrouemaand het die motorvervaardiger Mercedes-Benz verlede week gespog met hoeveel vroue-werknemers hy by sy monteeraanleg in Oos-Londen het. ’n Studie oor die regering se steunprogram vir die motorbedryf wys egter die program het nie regtig sy doelwitte behaal nie. Foto: Mercedes-Benz

Motorbedryf

Die motorbedryf was tot dusver die grootste teiken van nywerheidsbeleid en die departement voer aan dit is uiters suksesvol.

Almal glo dit en pres. Cyril Ramaphosa het in sy staatsrede in Junie selfs gesê toekomstige nywerheidsbeleid moet voortbou op die suksesse wat in die motorbedryf behaal is.

Kaplan meen egter die prentjie is meer kompleks as dit. Hy wys daarop dat die beleidsdoelwitte vir die motorbedryf nie eens bereik is nie. In 2008 was die doelwit om voertuigproduksie teen 2020 te verdubbel, maar teen 2018 was voertuigproduksie net meer as 8% meer as tien jaar gelede – dus baie ver van die 100%-groei waarna gemik is.

Nog ’n doelwit was om plaaslike inhoud uit te brei, maar dit het steeds gedaal en is nou onder 40%. Indiensneming in die motorbedryf het ook in totaal afgeneem.

Daar is ook geen aanduiding dat die plaaslike motorbedryf oor die afgelope dekade meer mededingend geword het nie. In soortgelyke ander lande het hul motorbedrywe baie beter gevaar, soos in Brasilië.

Van 1995 tot 2012 het die regering steun van R211 miljard aan die motorbedryf gegee, volgens die nasionale tesourie, en in 2018 was die steun soveel as R27 miljard.

In die geval van die motorbedryf met sy internasionale eienaars is die grootste ontvangers van die beleggingsaansporings buitelanders.

Kaplan wys daarop dat in die geval van die motorbedryf met sy internasionale eienaars die grootste ontvangers van die beleggingsaansporings buitelanders is.

Die aansporings is bedoel vir maatskappye wat sukkel om geld te leen, maar die meeste aansporings in die motorbedryf gaan na goed-gekapitaliseerde maatskappye wat maklik toegang het tot lenings.

Boonop is daar ’n versoeking by maatskappye om die koste van bates buitensporig op te blaas sodat hulle vir die aansporings kan kwalifiseer.

Selfs ’n studie deur Harvard-akademici in 2008 oor die destydse weergawe van die motorbedryfontwikkelingsplan het bevind dit was ’n netto las op die ekonomie, selfs onder die gunstigste aannames. Toe reeds is aanbeveel dat die beleid verander moet word om eerder op onderdelevervaardigers te fokus.

Prof. Ricardo Hausmann van die Harvard-universiteit in Amerika was in 2008 aan die stuur van ’n ondersoek na die sukses van Suid-Afrika se nywerheidsplanne vir die motorbedryf en vir die waardetoevoeging van minerale. Foto: Harvard

Klerebedryf

Kaplan verwys ook na bewerings dat Ipap se steun aan die klerebedryf baie suksesvol was, dat die bedryf van uitsterwing gered en aan die omkeer is.

Syfers vertel volgens hom ’n ander storie. Voor 1994 was daar sowat 250 000 werkers in die bedryf. Dit het sedertdien tot 76 000 gedaal ondanks die steunprogram. Produksie in die klere- en tekstielbedryf het in 2018 met 2,4% gekrimp, die vierde opeenvolgende jaar van dalings.

Die program vir die klerebedryf is volgens Kaplan net op die binnelandse mark gefokus en niks word spesifiek gedoen om klere-uitvoer aan te help nie.

Uitvoersones

Kaplan beveel aan Suid-Afrika moet soos sekere lande in Asië uitvoerverwerkingsones skep om arbeidsintensiewe uitvoerbedrywighede te bevorder. Hy meen Coega by Port Elizabeth is ideaal vir so ’n sone omdat daar reeds duisende werklose mense in die gebied woon wat nywerheidservaring het.

Kaplan glo die departement se bestaande program vir spesiale ekonomiese sones kan aangepas word om uitvoerverwerkingsones te skep. Arbeidsubsidies kan help om arbeidskoste mededingend te maak.

Waardetoevoeging

Wat waardetoevoeging tot minerale betref was die Ipap se fokus op platinum, en is daar in ’n stadium groot klem gelê om die platinum- en waterstof-ekonomie, want Suid-Afrika sou ’n wêreldleier in die vervaardiging van brandstofselle word waarin platinum ’n belangrike bestanddeel is.

Ander minerale wat die teiken was vir die program was titanium, mangaan, vanadium en goud, maar volgens Kaplan is daar min bewyse van enige sukses. Suid-Afrika is steeds ver agter ander lande in die ontwikkeling van brandstofselle, batterytegnologie en titanium.

Die Harvard-akademici wat die motorbedryfprogram ontleed het, het oor die program vir minerale-waardetoevoeging bevind dit is nie ’n blote gegewe dat waardetoevoeging oral toepaslik is nie.

Hulle het in 2008 al aanbeveel dat dit swak beleid is en laat vaar moet word.

As vereenvoudigde voorbeeld – die koste van die yster in ’n pot is maar ’n baie klein deel van die koste van die pot. En om ’n goeie pot te maak, verg ander vaardighede en marktoegang as om yster en staal te maak, sê Kaplan.

  • David Kaplan se studie is gedoen as een van die gereelde verslae van die Sentrum vir Ontwikkeling en Ondernemerskap (CDE).
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.