Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Van hoenders tot Cyril se pak – ekonome is beïndruk
Roelof BothaFoto: Argief

As hy vir pres. Cyril Ramaphosa ’n punt vir sy staatsrede moes gee, sou hy hom 95% gee.

Dit was dr. Roelof Botha, ekonomiese raadgewer van die Optimum-beleggingsgroep, se reaksie net nadat Ramaphosa sy staatsrede in die parlement in Kaapstad gelewer het.

“Ek was verbaas oor die toespraak. Daar is ’n hele paar praktiese beleidsmaatreëls aangekondig wat óf reeds begin is óf wat binnekort die lig gaan sien,” sê hy.

Botha sê veral Ramaphosa se aankondiging dat die staat binne twee weke ’n nuwe tariefaanpassing vir die invoer van pluimvee gaan instel om die plaaslike bedryf te ondersteun, was goeie nuus.

“Wat die hoenderbedryf betref, is daar nou ’n enorme ommeswaai. Ek weet Ebrahim Patel, minister van handel, nywerheid en mededinging, het baie werk agter die skerms gedoen," sê Botha.

“Ons sit al hoe lank met die probleem van goedkoop ingevoerde bevrore hoenders en nou word daar uiteindelik iets gedoen.”

Nog iets wat hom baie beïndruk het, is Ramaphosa se erkenning dat werkloosheid onder die jeug een van die grootste probleme in die land is.

“Glo my, werkloosheid is ’n veel groter probleem as grondonteiening. Mense wil werk hê, nie plase nie.”

Botha sê dit is ook baie bemoedigend om te hoor dat Ramaphosa voet gaan neersit en daarop aandring dat staatsuitgawes besnoei word.

Prof. Jannie RossouwFoto: Argief

Prof. Jannie Rossouw van die Universiteit van die Witwatersrand se sakeskool stem saam met Botha dat daar goeie aspekte in die staatsrede was, maar lig ook ’n paar negatiewe kwessies uit.

“Die toespraak was heeltemal te lank. Ons het ’n veel korter boodskap nodig gehad,” sê Rossouw.

Hy sê wat hom ook bekommer, is dat dit lyk asof dit steeds nie tot die staat deurdring dat dit ’n verlore stryd is om die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) in die lug te hou nie.

“Dit is kommerwekkend dat hy gesê het die SAL gaan weer volhoubaar wees. Daar is geen logiese rede vir só ’n standpunt nie.”

Rossouw sê hy is egter wel beïndruk daarmee dat Ramaphosa Suid-Afrikaners daarop gewys het dat die pak wat hy gedra het, plaaslik in Suid-Afrika vervaardig is.

“Ons kan die ekonomie só ’n groot hupstoot gee as beleid daargestel word wat vereis dat staatsamptenare nét voertuie mag koop wat in Suid-Afrika vervaardig is.”

Kwessies waaroor Rossouw graag meer inligting sou wou hê, is veral die soewereine welvaartfonds wat geskep gaan word en die staatsbank.

“Die voorstel dat ’n soewereine welvaartfonds geskep word, is eienaardig. Gewoonlik word so ’n fonds net geskep wanneer ’n land sy skuld onder beheer het," sê hy.

“Wat ’n staatsbank betref, kan daar net gesê word dat daar vrae gevra kan word oor of die land nog ’n staatsonderneming kan bekostig.”

Meer oor:  Jannie Rossouw  |  Cyril Ramaphosa  |  Roelof Botha  |  Staatsrede2020  |  Ekonome  |  Hoenders
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.