Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Van Kaap tot Pta: Só styg krag- en watertariewe
k

Inwoners van Johannesburg gaan van Julie af gemiddeld 14,6% meer vir krag betaal.

Dit stem ooreen met verhogings in die Tshwane-, eThekwini- (Durban) en Nelson Mandelabaai- (Gqeberha) metro.

Kaapstad loop in die stadium nog voor met ’n verhoging van “net” 13,5% in kragtariewe, wat hy in Mei aangekondig het. Dit volg op Eskom se skerp styging van meer as 15% wat al sedert April vir sy regstreekse kliënte geld.

City Power, wat Johannesburg se kragdienste lewer, gaan eintlik 17,8% meer vir grootmaataankope van elektrisiteit betaal, het Frank Hinda, bestuurder vir tariewe by City Power, Donderdag aan die media verduidelik.

Die res van sy bedryfskoste om krag te lewer styg min of meer met die inflasiekoers en die gekombineerde geweegde gemiddelde styging in bedryfskoste kom dan op 14,59% neer. Dit is wat munisipale verbruikers in Johannesburg gemiddeld meer vir krag sal betaal.

In die meeste munisipaliteite word krag in Julie 14,6% duurder.

Hinda gee toe groot nywerheids- en kommersiële gebruikers subsidieer steeds residensiële kliënte.

Groot kraggebruikers sal soveel as 17,57% meer vir hul krag betaal, terwyl huishoudings 14,59% meer sal betaal.

Hinda sê inwoners wat kragrekeninge kry, kruissubsidieer ook tans nog inwoners met voorafbetaalmeters.

City Power is besig met ’n studie oor hoe omvangryk kruissubsidiëring in sy tariefstrukture is sodat dit moontlik hersien kan word. Groot kraggebruikers se tariewe gaan verander word, onderhewig aan goedkeuring van Nersa, sê Hinda.

Huishoudings met voorafbetaalkragmeters dra nog nie voldoende by tot die koste om die kragverspreidingsnetwerk te bedryf en in stand te hou nie, sê hy.

Mense wat tot en met 350 kWh per maand gebruik, sal van Julie af R75,61 meer vir hul krag betaal.

Johannesburg se tariewe vir vullisverwydering styg met 4,3%, het ’n verteenwoordiger van Pikitup, die vullisverwyderingsdiens, op die mediakonferensie gesê.

Water

Inwoners van Johannesburg gaan van Julie af 6,8% meer vir water betaal. Dit is meer as Kaapstad se verhoging van 5% en Gqeberha se 6%, maar minder as Tshwane se 8% en Durban se 8,5%.

Die stad se koste om water van Rand Water aan te koop het met 5,8% gestyg en die koste van die elektrisiteit wat die stad moet gebruik om pompstasies aan die gang te hou, het met meer as 15% geklim, sê Thokozani Tshabalala, senior bestuurder van rekeninge van die Johannesburg-metro. Dit was nie prakties om soos versoek is ’n 0%-verhoging in watertariewe aan te kondig nie.

Die stad moes te midde van die pandemie boonop ekstra uitgawes aangaan om water aan kwesbare gemeenskappe te voorsien. Van die omvattende programme wat die stad ingestel het om kwesbare gebiede soos informele nedersettings te help, sluit in dat van dié huishoudings tot soveel as 15 kiloliter (kl) water gratis kry. Boonop kry alle huishoudings in elk geval 6 kl gratis water per maand.

Tshabalala verduidelik dat die stad watertariewe hef volgens die volume water wat gebruik is, maar rioleringstariewe word gehef op grond van die erfgrootte van ’n residensiële eiendom.

Daar is ook ’n vaste tarief van R28,32 per huishouding vir water, wat heelwat laer is as Kaapstad se huidige vaste tarief van R104,50 vir huise met ’n 20 mm-verbindingspyp.

Johannesburgers wat 6 kl tot 10 kl water per maand gebruik, sal nou R20,28 per kl betaal teenoor die huidige R18,99. Vir hoër verbruik – van 10 kl tot 15 kl – kos dit voortaan R21,17 per kl teenoor die huidige R19,82.

Kerke en ‘kerke’

Die Johannesburg-metro pak ’n projek aan om alle eiendom wat vir godsdiensdoeleindes gesoneer is na te gaan om te kyk of dit wel steeds vir godsdiens gebruik word, sê Veli Hlophe, adjunkdirekteur vir beleid en inkomsteaanvulling van die metro.

Terwyl kerke, sinagoges en moskees 100% van eiendomsbelasting vrygestel word, is daar volgens Hlophe talle megakerke wat soos sakeondernemings bedryf word. Waar dié megakerke inkomste van hul perseel af genereer, byvoorbeeld waar radio- of televisie-uitsendings van die perseel af uitgesaai word, kry hulle nie dié afslag nie.

’n Huis of pastorie wat in die naam van ’n gemeente geregistreer is en waar ’n predikant of leier van die betrokke godsdiensinstelling woon, hoef ook nie eiendomsbelasting te betaal nie.

Daar is egter oënskynlik talle godsdienseiendomme waar die omliggende gemeenskap so verander het dat die perseel nie meer gebruik word nie. Die gebou staan leeg omdat die getal gemeentelede gekrimp of mense verskuif het.

Meer oor:  Durban  |  Gqberha  |  Kaapstad  |  Pretoria  |  Johannesburg  |  Riool  |  Kragtariewe  |  Vullisverwydering
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.