Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Van Mosselbaai tot Brits: Só vaar munisipaliteite

As die regering ’n finansiële reddingsboei aan Suid-Afrikaanse munisipaliteite moet gee, gaan hy waarskynlik sowat R22 miljard moet verskaf.

Dit is luidens Ratings Africa en Compuscan se indeks van die finansiële volhoubaarheid vir munisipaliteite.

Sandton se welvaart help die stad Johannesburg nie... Dié metropolitaanse munisipaliteite het in 2017 die grootste agteruitgang getoon.

Die indeks ontleed die 8 groot metropolitaanse munisipaliteite en 100 kleiner munisipaliteite. Hul finansiële state vir die jaar tot einde Junie 2017 is gebruik.

Sien ook die grafika hieronder.

’n Punt van 50 of hoër wys dat munisipaliteite waarskynlik hul finansies behoorlik en tot voordeel van inwoners bestuur.

“As dit onder 50 is, sal jy dit waarskynlik heel duidelik aan die stand van infrastruktuur in dorpe en stede kan sien,” sê Leon Claassen van Ratings Africa.

Hy het Donderdag dié nuutste indeks in Melrose Arch, Johannesburg, met die media bespreek.

Claassen verduidelik die indeks meet die vermoë van ’n munisipaliteit om dienste en infrastruktuur te lewer sonder enige onbeplande styging in heffings en tariewe en sonder ’n daling in die vlak van dienslewering. Munisipaliteite moet ook in staat wees om finansiële skokke te kan absorbeer sonder dat enige finansiële ingryping nodig is.

Metropolitaanse munisipaliteite

Dit is die eerste jaar sedert die peiling gedoen word dat metropolitaanse munisipaliteite tot onder 50 punte daal. Hulle het ’n gemiddelde punt van 49 gekry.

  • Kaapstad vaar die beste met ’n punt van 74.
  • Mangaung (Bloemfontein) vaar die swakste met 22.

“Mangaung het groot probleme. Dié munisipaliteit het ’n bedryfsverlies van R1 miljard gely en het ’n likiditeitstekort van R940 miljoen,” sê Claassen.

Een van die munisipaliteite wat die grootste agteruitgang tussen 2016 en 2017 getoon het, was Johannesburg, wat van 41 punte tot net 24 geval het. Johannesburg het ’n bedryfsverlies van R1,9 miljard gely.

Johannesburg is ’n groot skip. Jy draai hom nie maklik nie.

Claassen sê die groot rede vir die agteruitgang is dat Johannesburg tans ’n groot likiditeitstekort ervaar.

“Johannesburg is ’n groot skip. Jy draai hom nie maklik nie. Al het jy ál die goeie voornemens ter wêreld, is dit nie maklik om dit te verander nie.

“Ons gaan waarskynlik eers in 2018 kan sien of die DA, wat ná die laaste verkiesing bestuur van die stad by die ANC oorgeneem het, enige verandering kon bewerkstellig,” sê hy.

Kleiner munisipaliteite

Die gemiddelde punt wat kleiner munisipaliteite gekry het, was 41. Dit is twee punte laer as die 43 van 2016.

  • 47 van die 100 munisipaliteite het ’n punt van minder as 35 gekry.
  • Net 22 munisipaliteite het in 2017 ’n bedryfswins getoon, terwyl 78 teen ’n verlies bedryf is.
  • Die gekombineerde bedryfswins was R1 miljard teenoor die enorme R15,3 miljard-verlies.
  • Suid-Afrikaanse munisipaliteite het ’n likiditeitstekort van R22,4 miljard.

Die munisipaliteite wat die beste gevaar het, was Mosselbaai en Swartland, albei met 84 punte. Madibeng (Brits in die Noordwes) met ’n punt van slegs 6 het die heel swakste gevaar.

Die St. Blaize-vuurtoring hou wag oor Die Punt in Mosselbaai, wat pas saam met die Swartland-munisipaliteit gekroon is as die kleiner munisipaliteit wie se geldsake die beste lyk.

“Dié munisipaliteit het basies in duie gestort. Hulle betaal nie vir krag of water nie. Hulle kan nie funksioneer nie.

“Die groot vraag is wat hulle met die geld maak wat hulle van inwoners uit tariewe invorder,” sê Claassen

Die provinsie wat die beste gevaar het, is die Wes-Kaap, met ’n gemiddeld 62 punte. Die Vrystaat, met 19 punte, het die swakste gevaar.

“Die probleem is as jy die Wes-Kaap uit die berekening laat, is die land se gemiddelde net 35 uit 100.”

Die probleem is as jy die Wes-Kaap uit die berekening laat, is die land se gemiddelde net 35 uit 100.

Geen begrotings

Claassen sê die groot probleem met munisipaliteite se finansies is die gebrek aan behoorlike bestuur en begrotings.

“Hulle begin met ’n begroting waarvoor daar nie geld is nie. Hul uitgawes oorskry hul inkomste.

“Hulle het ook nie die dissipline om by ’n begroting te hou nie. Boonop vorder hulle nie met dít waarvoor hulle wel begroot het nie,” sê hy.

“Die probleem begin by bestuur. Daar is té veel korrupsie en politieke inmenging om munisipale bestuurders toe te laat om munisipaliteite behoorlik te beheer.

“Die tesourie moes nie toegelaat het dat munisipaliteite in die finansiële verknorsing raak waarin hulle tans is nie,” sê hy.

“Gegee dat die finansiële volhoubaarheid van sleutel-munisipaliteite in Suid-Afrika swak is, verwag ons dat die kwaliteit van dienslewering waarskynlik op kort tot mediumtermyn agteruit sal gaan.”

Onthou dat dié grafika nie die groot metropolitaanse munisipaliteite insluit nie.
Meer oor:  Compuscan  |  Ratings Africa  |  Leon Claassen  |  Brits  |  Johannesburg  |  Kaapstad  |  Madibeng  |  Wes-Kaap  |  Munisipaliteite
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.