Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Verbod: Drankreuse laat vaar miljarde se beleggings
drankverbod, wynbedryf, alkohol
Wynbottels staan onaangeraak op 'n winkelrak. Foto: Jaco Marais

Benewens honderdduisende werkverliese en miljarde rande in verlore aksynsbelasting vir die staat, het die regering se drankverbod nou regstreeks gelei tot die kansellering van gesamentlik R8,5 miljard se regstreekse beleggings in die land deur twee van die grootste drankvervaardigers in Suid-Afrika.

Die Suid-Afrikaanse Brouerye (SAB) en Heineken Suid-Afrika het albei aangekondig dat hulle dit nie meer kan bekostig om uit te brei soos beplan nie, omdat die drankverbod hulle eenvoudig lamlê.

Die SAB sê Maandag R2,5 miljard se beplande besteding aan opgraderings en uitbreidings van sy aanlegte in die land in 2020 is nou amptelik gekanselleer, en nog R2,5 miljard se beplande beleggings vir 2021 hang nou in die weegskaal.

Andrew Murray, adjunkhoof van finansies van die SAB, sê Maandag die maatskappy het reeds 30% van sy jaarlikse vervaardiging prysgegee weens die 12 weke wat drankverkope en -vervaardiging nou al verbied word.

Hy sê hul besluit oor die kansellering van die beleggings kan regstreeks voor die deur van die alkoholverbod gelê word.

“Hierdie besluit is ’n resultaat van die eerste en huidige opskorting van alkoholverkope wat gelei het tot beduidende bedryfsonsekerheid vir onsself, ons vennote, sowel as kollegas in die bedryf, insluitende deelnemers aan die hele waardeketting, en wat een miljoen mense se lewensbestaan landwyd beïnvloed.”

Die SAB sê byna 120 000 werke is alreeds verlore weens die verbod, en dit neem net toe.

Die beleggings wat oorweeg is, sluit in opgraderings aan fasiliteite en stelsels, sowel as die installering van nuwe toerusting by geselekteerde aanlegte. Hierdie besluit sal ook ’n invloed hê op die eksterne ondernemings in die voorsieningsketting wat vir hierdie opgraderings gekies is, sê die SAB.

Heineken sê die alkoholverbod moet eenvoudig opgehef word – te veel mense ly en word blootgestel aan armoede weens die regering se oorhaastige besluit.

Heineken Suid-Afrika het nou besluit om sy belegging van R6 miljard in ’n nuwe brouery in KwaZulu-Natal, te staak.

Hy sê sy prioriteit is nou om sy 900 werknemers se poste te probeer beskerm, in plaas daarvan om na uitbreiding te kyk.

Die voorgestelde aanleg sou na verwagting ’n groot finansiële hupstoot vir die streek in KwaZulu-Natal beteken het, en sou sowat 400 permanente werksgeleenthede geskep het.

Die Inyaninga-perseel naby die Dube-hawe was geoormerk vir die nuwe brouery, het The Citizen berig.

Besnoeiings aan salarisse is reeds goedgekeur met bestuurslui wat 20% minder sal verdien van Mei tot Desember vanjaar in ’n poging om koste te besnoei en die oorlewing van die maatskappy te waarborg.

Geen bonusse sal ook uitbetaal word nie.

Volgens Heineken het die verbod nog net gelei tot “ongekende lyding, spanning en paniek” en hy pleit dat dit gelig word om ’n maatskaplike ramp te voorkom.

Die SAB sê dit kan ook nie uit die oog verloor word nie dat die staat miljarde rande verloor in aksynsbelasting wat gebruik kon word om die lot van die armes te verlig.

Suid-Afrika het meer belastinginkomste in die eerste drie en ’n half maande van die fiskale jaar verloor as wat hy saam van die Internasionale Monetêre Fonds en die Afrika-Ontwikkelingsbank geleen het.

Die staat van inperking wat aanvanklik bykans alle ekonomiese bedrywighede tot stilstand laat knars het, het daartoe gelei dat Jan Taks R82 miljard minder ingevorder het in die huidige fiskale jaar tot 15 Julie, het Edward Kieswetter, kommissaris van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens, Vrydag in ’n onderhoud met Bloomberg gesê.

Tot die eerste verbod op alkoholverkope het die staat reeds R12 miljard aan aksynsbelasting verloor, sê die SAB.

Die derduisende mense in die bedryf wat nou by die beduidende getal ander Suid-Afrikaners aangesluit het wat reeds werkloos is, is hoogs kommerwekkend, sê die SAB.

Meer oor:  Sab  |  Heineken  |  Beleggings  |  Drankverbod  |  Drankverkope  |  Belasting  |  Drank  |  Aksyns
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.