Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Verbod ‘reuse-terugslag’ vir wynbedryf, Kaapse ekonomie
Pres. Cyril Ramaphosa Foto: Deaan Vivier

Die jongste verbod op drankverkope tydens die staat van inperking is ’n groot terugslag vir die wynbedryf wat reeds onder groot druk verkeer en deur werkverliese in die gesig gestaar word, sê die bedryfsorganisasie Vinpro.

Agri SA het Maandag ook ’n beroep gedoen op die intelligente bestuur van drankverkope, “eerder as ’n drakoniese verbod”, en onder meer gevra dat e-handel en beperkte volumes verkope toegelaat word, en dat die aandklokreël oor naweke vervroeg word.

Dit volg nadat pres. Cyril Ramaphosa Sondagaand aangekondig het ’n verbod is onmiddellik op die verkoop, verskaffing en verspreiding van alkohol van krag.

Ramaphosa het gesê dit is noodsaaklik dat klinieke en hospitale nie met alkoholverwante beserings en noodgevalle oorlaai word terwyl die land die piek van Covid-19-besmettings bereik nie.

“Daar is nou duidelike bewyse dat die herinstelling van drankverkope tot aansienlike druk op hospitale gelei het, insluitend trauma- en waakeenhede, weens padongelukke, geweld en ander voorvalle.”

’n Aandklokreël van 21:00 tot 04:00 is ook van krag.

Alan Winde, Wes-Kaapse premier, sê ’n langtermyn-benadering van gedragsverandering is nodig om die skade weens alkoholmisbruik te verminder en dat ’n verbod net op kort termyn kan help.

“Dit is ’n stomp meganisme wat die Wes-Kaapse ekonomie en landbousektor negatief gaan raak en tot werkverliese oor die provinsie heen gaan lei. Dit sal ook die verkope ondergronds dryf, met minder beheer deur die drankowerheid.

“Om dit eenvoudig te stel, kan dit op kort termyn help, maar die probleem gaan nie weggaan nie en ’n langtermyn-verbod is nie haalbaar nie.”

Dit is ’n stomp meganisme wat die Wes-Kaapse ekonomie en landbousektor negatief gaan raak en tot werkverliese oor die provinsie heen gaan lei. Dit sal ook die verkope ondergronds dryf, met minder beheer deur die drankowerheid.

Winde het in ’n verklaring gesê daar was ’n merkbare afname in die getal moorde en hospitalisering vir trauma in die Wes-Kaap toe drankverkope aanvanklik tydens die inperking verbied is. Dit het ook onmiddellik gestyg toe verkope weer toegelaat is en het bykomende druk op hospitale geplaas.

Volgens Winde is die verband tussen alkohol en geweld welbekend en kan die verbod ’n onmiddellike uitwerking op hospitale se kapasiteit hê as daar ’n afname in moorde, geslagsgeweld, aanranding en padongelukke is.

Die provinsiale regering ondersteun egter “slim ingrypings” wat ’n verandering in gedrag beklemtoon, lui sy verklaring.

Agri SA sê derduisende werkgeleenthede is weens die verbod op drankverkope in die gedrang.

“Die Suid-Afrikaanse wynbedryf het in 2019 R49 miljard tot die ekonomie bygedra en in die proses 290 000 regstreekse en onregstreekse werkgeleenthede geskep. Sowat 40 000 mense werk op wynplase en in wynkelders.”

Volgens Agri SA het die bedryf verlede jaar ook R7,5 miljard tot aksynsbelasting en BTW bygedra.

“Dit is Suid-Afrika se naasgrootste landbou-uitvoersektor ná sitrus, en verdien jaarliks meer as R9 miljard aan buitelandse inkomste. R7 miljard van hierdie bedrag word gegenereer deur gebottelde uitvoer en R2 miljard deur die uitvoer van wyn in grootmaat.”

Alan Winde, Wes-Kaapse premier. Foto: Malherbe Nienaber
Jannie Strydom, uitvoerende hoof van Agri Wes-Kaap. Foto: Verskaf

’n “Algehele ineenstorting van die bedryf” kan verhoed word deur die intelligente bestuur en inwerkingstelling van beste praktyke, sê Agri SA in ’n verklaring.

Dit sluit in om e-handel toe te laat, volumes van verkope te beperk, die aandklokreël oor naweke te vervroeg en strenger strawwe toe te pas vir dronkbestuur, die reël van byeenkomste waar gedrink word en huishoudelike geweld.

“Daar is geen regverdiging vir die algehele verbod op alkoholverkope nie. Ook nie vir die inkonsekwente hantering en bevooroordeeldheid teenoor sekere sektore nie.”

Agri SA sê dié bevooroordeeldheid vind neerslag in die toegewings wat aan die taxibedryf gemaak word, soos om mense teen volle kapasiteit te vervoer.

“Deur dít toe te laat, is dit duidelik dat die regering bang is vir die taxibedryf en onder druk geswig het. Dit maak ’n klugspel van pres. Ramaphosa en die regering se bekommernis oor die dodelike uitwerking van die Covid-19-pandemie.”

Vinpro sê die besluit om drankverkope op te skort is ’n “verwoestende terugslag” vir die Suid-Afrikaanse wynbedryf nadat dit reeds groot finansiële en werksverliese weens die vorige verbod gely het.

“Ondanks voortdurende samesprekings met die departement van handel, nywerheid en mededinging die afgelope maand het die bedryf geen waarskuwing gekry oor die huidige verbod nie, en geen geleentheid vir interaksie met die nasionale koronavirus-bevelsentrum is aan ons gegee nie. Die onmiddellike logistieke probleme wat dit vir verskaffers, verspreiders en kleinhandelaars inhou, is ook geensins oorweeg nie.”

Volgens Vinpro word reeds beraam dat die land se wynbedryf, wat werk aan sowat 300 000 mense verskaf, tot 18 000 poste kan verloor.

Verder kan ongeveer 80 wynondernemings en 350 wyndruifprodusente binne die volgende jaar sluit weens die vorige verbod van vyf weke op uitvoer en die verbod van nege weke op binnelandse wynverkope.

Die wynbedryf het in dié tyd ook sowat R3 miljard aan regstreekse inkomste verloor, lui Vinpro se verklaring.

“Die landboubedryf is nie in die besluit geken of geraadpleeg nie en die impak stop nie by die plaashek of by die kleinhandelaar nie

“Hoewel wynuitvoer mag voortduur, sal die onmiddellike handhawing van die binnelandse verkoop-verbod ook onvoorsiene gevolge hê wat verdere werkverliese deur die hele waardeketting insluit, asook die lewensbestaan van duisende in gevaar stel. Die aansienlike aantal kleinhandelaars, wyndruifprodusente en wynkelders word die swaarste getref.”

Vinpro sê die regering moet ook nou sy taak opneem om die regulasies af te dwing, insluitend wetstoepassing op die sluikhandel in drank.

Agri Wes-Kaap twyfel ook of die regering besef “watter enorme skade” die besluit oor die verbod op die waardeketting in geheel gaan hê.

“Die landboubedryf is nie in die besluit geken of geraadpleeg nie en die impak stop nie by die plaashek of by die kleinhandelaar nie,” sê Jannie Strydom, uitvoerende hoof.

“Daar is ook praktiese implikasies, soos wat van 2021 se oes gaan word as die 2020-oes nog in die kelders gaan wees. Die hele spiritualieëbedryf, waarvan die oorsprong in die landbou lê, word deur die opheffing van verkope nadelig geraak.”

Ingevolge die regulasies wat Sondag in die Staatskoerant gepubliseer is, word die vervoer van drank verbied, behalwe as dit vir ontsmettings- en skoonmaakmiddels, uitvoerdoeleindes of berging is.

Geen spesiale dranklisensies of lisensies vir geleenthede mag tydens die staat van inperking vir goedkeuring oorweeg word nie.

Die minister vir vervoer moet ook ná konsultasie met die kabinet voorskrifte vir die vervoer en berging van drank uitreik.

• Lees die jongste regulasies hier.


Meer oor:  Koronavirus  |  Wynbedryf  |  Drankverbod  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.