Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Verbruikers draai steeds hul sente om

Kasregisters klinkel glad nie hard vir Suid-Afrika se kleinhandelaars nie, wat op sy beurt wys dat verbruikers steeds onder enorme druk verkeer.

Verbruikers is steeds grootliks platsak. Foto Phil Walter, Getty Images

Kleinhandelverkope was in dié maand slegs 1,1% meer as ’n jaar gelede in reële waarde (nadat prysstygings verreken is) – die swakste groei in ses maande, sedert Maart se 0%, het Statistieke Suid-Afrika (SSA) dié week bekend gemaak.

Tussen Julie en Augustus het verkope selfs gedaal, met 0,9%. Dis die eerste negatiewe maandgroei sedert Mei. Selfs in huidige randwaarde – dus prysstygings ingesluit – het maand-tot-maand-verkope met 0,2% gedaal, ook die swakste syfer in ses maande.

Die sterkste reële jaargroei, van 4,5%, is aangeteken in die kategorie vir huistoestelle en elektronika.

Daar was ook betreklik sterk groei van 3,8% in die “ander” kategorie, ’n allegaartjie wat alles van juweliers en boekwinkels tot winkels vir gebruikte goedere insluit, maar dis minder as die helfte van Julie se 8%-groei.

Verkoopsgroei het ook skerp verlangsaam in die kategorie vir klere en skoene (van 3% tot 0,9%), en van toiletware en medisyne (van 3,7% tot 0,4%).

Verkoopsgroei by algemene handelaars het effens gestyg, van 0,2% in Julie tot 0,5% in Augustus.

Die enigste negatiewe groei is aangeteken in die kategorie vir ysterware, verf en glas, wat met 1% gedaal het. Dis die derde opeenvolgende maand dat dié kategorie agteruitboer.

Siphamandla Mkhwanazi, ’n senior FNB-ekonoom, sê dit bly duidelik dat kleinhandelaars nie al die prysstygings wat hulle self moet opdok, aan verbruikers kan deurgee nie. Verbruikers se soeke na winskopies word net al hoe aggressiewer.

Die Nedbank-ekonome Johannes Khosa en Dennis Dykes verwag dat kleinhandelverkope vir die res van die jaar op dieselfde trant sal voortploeter. Aan die een kant besef verbruikers dat pryse nou goed is en hulle trek voordeel uit die verlaging in die rentekoers in Julie. Aan die ander kant is daar “beperkte werkvooruitsigte en swak verbruikersvertroue”.

Groothandelsyfers

Groothandelverkoopsyfers het ook in Augustus ’n enorme insinking beleef nadat Julie se syfers besonder stewig was. Verkope was 4% minder as ’n jaar gelede en 7% minder as in Julie. Laasgenoemde is die grootste maanddaling tot nog toe vanjaar.

Motorhandelsyfers

Verkope in die motorhandel het in Augustus verlangsaam tot 1,3% op ’n jaargrondslag en 1% vergeleke met Julie.

SSA meet ses kategorieë, waarvan vier van jaar tot jaar gestyg het. Die stygings was egter almal swakker as in Julie.

Net die verkope van brandstof (-3,4%) en die inkomste van werkwinkels (-0,4%) het gedaal.

Só het al ses kategorieë gevaar vergeleke met ’n jaar gelede:

  • Verkope van nuwe motors: 7,3%
  • Verkope van gebruikte motors: 1,2%
  • Verkope van motorbykomstighede: -0,4
  • Besteding by werkwinkels: 1,7%
  • Verkope van brandstof: -3,4%
  • Verkope by vulstasies se geriefswinkels: 3,1%
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.