Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Verbruikers koop, maar dalk nie genoeg nie
Die verkope van meubels en huistoestelle het in Maart met ’n hele 20,7% op 'n jaargrondslag gestyg. Foto: Pixabay

Heelwat Suid-Afrikaners het in Maart meubels en huistoestelle gekoop in ’n poging om die verhoging in belasting op toegevoegde waarde (BTW) in April vry te spring.

Verkope van dié kategorie was ’n hele 20,7% meer as ’n jaar gelede – en die styging is in konstante randwaarde. Dié maatstaf skakel die uitwerking van prysstygings uit en gee dus ’n aanduiding van die styging in die volume verkope.

Verkope by alle winkels was 4,8% hoër op ’n reële grondslag as ’n jaar gelede, toon Statistieke Suid-Afrika se kleinhandelverkoopsyfers vir Maart.

Dié groei is die beste sedert November 2017, toe Swart Vrydag-winskopies verkope die hoogte laat inskiet het. Dit is ook die dertiende agtereenvolgende maand waarin kleinhandelverkope groei.

Die grootste bydrae tot die 4,8%-jaargroei was van klereverkope, wat met 10,6% gegroei het en 1,6 persentasiepunte bygedra het.

Verkope van toiletware, medisyne en skoonheidsmiddels het met 7,9% gegroei.

Verkope het glad nie tussen Februarie en Maart gestyg nie, maar die werklik slegte nuus is egter dat verkope vir die eerste kwartaal van 2018 1,3% laer was as die vierde kwartaal van 2017.

Dit gaan ’n remskoen vir ekonomiese groei in die eerste kwartaal wees. Dié syfers word begin Junie uitgereik.

Heelwat van die ekonomiese syfers wat die afgelope weke uitgereik is – soos vervaardiging- (-1,7%) en mynbouproduksie (-2,5%) – het ontleders bekommerd.

Jason Muscat, senior ekonomiese ontleder van FNB, verwag dat kleinhandelverkope oor die volgende paar maande gaan taan.

FNB verwag dat die ekonomie as geheel in die eerste kwartaal met 1% ingekrimp het.

“Dis nie ongewoon dat BBP in die eerste kwartaal inkrimp nie, gegewe die hoë basis wat in die laaste kwartaal daargestel word (weens Swart Vrydag in November en Kersfees in Desember). Om die waarheid te sê die bruto binnelandse produk vir die eerste kwartaal het in drie uit die afgelope vier jaar ingekrimp.

“Dit is egter belangrik om daarop te let dat ekonomiese groei vir vanjaar in die algemeen steeds op koers is vir nagenoeg 1,9% ondanks die verwagte inkrimping in die eerste kwartaal en swakheid weens die basiseffek (vanweë die hoë basis wat in die vorige kwartaal gestel is).”

FNB se groeiverwagting is hoër as die 1,5% wat die Reserwebank en die Internasionale Monetêre Fonds voorspel.

Die Nedbank-ekonome Johannes Khosa en Dennis Dykes sê in hul ontleding van die kleinhandelsyfers die vooruitsig vir kleinhandelverkope “bly relatief beter, ondersteun deur lae inflasie en rentekoerse, sowel as die verbetering in verbruikersvertroue.

“Die groeikoers sal egter deels in toom gehou word deur die hoër BTW-koers en swak arbeidsmark.”

Khosa en Dykes sê die kleinhandelsyfers bevestig dat ekonomiese herstel pas verloor het. Gegewe die druk op die rand en olieprys, verwag hulle ook nie dat die Reserwebank vanjaar weer die rentekoers sal verlaag nie. In die tweede helfte van 2019 kan ’n paar rentekoersverhogings selfs volg.

Die Reserwebank besluit weer volgende week, op 23 Mei, oor die rentekoers.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.