Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Verbruikers koop minder by groot winkelsentrums
Die Mall of Africa-superstreeksentrum in Midrand. Die omsetgroei van kleiner buurt- en gemeenskapswinkelsentrums oortref tans dié van hul groter eweknieë.

Die groei in besteding per kop by winkelsentrums het die afgelope jaar tot 1,7% gedaal, die laagste vlak sedert 2015.

Een van die redes is dat verbruikers oënskynlik verkies om meer gereeld by hul plaaslike buurtsentrum te gaan inkopies doen eerder as groot inkopies by ’n streeksentrum.

As die groeisyfer vir winkelsentrums verder sou afneem, kan dit die oorhoofse groei in die handelsdigtheid (omset per vierkante meter) knou, wat ’n impak op die winkelsentrumeienaars se netto inkomstegroei kan hê, blyk uit die kleinhandelverslag van die Vereniging van Eiendomseienaars van Suid-Afrika (Sapoa) vir die kwartaal tot einde September.

Die afname in besteding was ten spyte daarvan dat die voetetelling per vierkante meter sedert April vanjaar geleidelik toegeneem het tot groei van 2,5% en ’n beter handelsdigtheidvertoning. Die groei in die handelsdigtheid het in die jaar tot einde September tot 4,3% toegeneem, teenoor hersiene groei van 4,1% in die jaar tot einde Junie.

Anton de Goede, eiendomsportefeuljebestuur by Coronation, sê dit lyk of die dae van groot maandelikse inkopietogte by ’n streekwinkelsentrum iets van die verlede is en dat verbruikers deesdae veral die kleiner gemeenskap- en buurtsentrums meer gereeld besoek, waar spesiale aanbiedings ’n groot trekpleister is.

Die omset van die kleiner sentrums vind baat by dié tendens, en spesifiek die buurt- en gemeenskapsentrums het stewige handelsdigtheidgroei van onderskeidelik 9% en 5,12% getoon. De Goede sê dit moet gesien word teen die agtergrond van die konsolidasie van ruimte van veral kruideniersware-kleinhandelaars. “Hoewel van die kleinhandelaars hul ruimte in sentrums verklein, slaag hulle steeds daarin om soortgelyk handel te dryf as in groter winkels.”

Daarteenoor was die groei in die handelsdigtheid van die groter streek- en superstreeksentrums onderskeidelik 1,12% en 2,58%. Die streeksentrums sukkel al ’n geruime tyd en kon sedert 2017 nog nie handelsdigtheidsgroei van meer as 2% toon nie. Hul vertoning word geraak deurdat talle van die sentrums bedrywig is in dieselfde opvanggebied as dié van die kleiner gerief­sentrums en dié van die superstreeksentrums met ’n groter verskeidenheid huurders en langer handelsure.

Onder die grootste koopware-kategorieë het elektroniese winkels die beste vertoon met handelsdigtheidgroei van 8,3% vir die jaar tot einde September. Die voedselkategorie met kruideniersware- en supermarkkleinhandelaars, asook afdelingswinkels het ook goed vertoon met handelsdigtheidgroei van onderskeidelik 7,18% en 6,84%.

Die klerekategorie het betreklik swak gevaar (1,73%). Die groter sentrums het ’n hoë blootstelling aan klerekleinhandelaars. De Goede sê klerekleinhandelaars stel geleidelik ’n teenwoordigheid aanlyn bekend, wat moontlik ’n verdere negatiewe uitwerking op die klerekategorie se groei in handelsdigtheid kan hê.

Die navorsing is gegrond op data wat deur MSCI Real Estate ingesamel is in meer as 24 koopware-kategorieë in meer as 100 winkelsentrums met gesamentlike ruimte van ’n raps minder as 5 miljoen m2.

Meer oor:  Kleinhandel  |  Winkelsentrum  |  Beleggings  |  Inkomste
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.