Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Verbruikers swartgallig oor ekonomie, hul geldsake

Die vooruitsig van vakansie en Kersfees het niks gedoen om verbruikers vroliker te laat voel oor die land of hul eie geldsake nie.

Min verbruikers het die geld om groot uitgawes aan te gaan. Foto: Unsplash

Verbruikers het die vierde kwartaal, Swart Vrydag of nié, boonop glad nie as ’n goeie tyd beskou om duursame goedere soos ’n huis, motor, meubels of elektronika te koop nie.

Siphamandla Mkhwanazi, senior ekonoom van FNB, sê die feit dat verbruikers nie eens die vierde kwartaal – wanneer baie mense 13de tjeks kry – voel die tyd is reg vir groot aankope nie, voorspel slegte nuus wanneer meubelhandelaars en juweliers binnekort begin syfers uitreik oor hul 2019-Kersverkope.

Hy is wel optimisties dat kleinhandelaars wat klere, skoene, kos, drank en basiese benodigdhede verkoop het, en veral dié wat goeie waarde vir geld aanbied, beter sou gevaar het.

Verbruikersvertroue het 2019 negatief afgesluit, volgens die indeks van FNB en die Buro vir Ekonomiese Ondersoek (BEO) aan die Universiteit Stellenbosch. Dis op -7 op die laagste vlak in twee jaar en ook baie laer as die langtermyngemiddelde van die afgelope 25 jaar van +2.

Die indeks het in die vierde kwartaal van 2019 onveranderd gebly teenoor die derde kwartaal.

Die indeks meet drie faktore: ekonomiese vooruitsigte vir die land, huishoudings se eie vooruitsigte vir hul geldsake, en of huishoudings dink dis nou ’n goeie tyd om duursame goedere (eiendom, motors, meubels, huishoudelike toestelle en elektronika) te koop.

Mkhwanazi sê verbruikersvertroue is ondermyn deur Tito Mboweni, minister van finansies, se mediumtermynbegrotingsraamwerk (MTBR) in Oktober. Dié dokument – die tesourie se driejaar-vooruitsig – het gewys hoeveel die land se geldsake agteruitgegaan het. Staatskuld kan teen 2022-’23 71,3% van die bruto binnelandse produk tref – teenoor die 59,7% wat nog in Februarie 2019 se begrotingsrede voorspel is.

Die MTBR het verbruikers bekommerd gemaak oor afleggings in die staatsdiens, bykomende belasting en die afgradering van die land se skuld tot rommelstatus deur Moody’s Investors Service.

Mkhwanazi sê in die eerste helfte van 2019 was verbruikers nog optimisties dat pres. Cyril Ramaphosa op koers was om korrupsie vinnig uit te roei en ekonomiese groei te stimuleer. Dit het verbruikersvertroue op +2 en +5 in die eerste en tweede kwartaal te staan gebring. Dié optimisme het in die derde kwartaal getaan.

Ekonomiese vooruitsigte

  • Dié subindeks het van +11 in die tweede kwartaal tot -17 in die tweede kwartaal getuimel en kon in die vierde kwartaal met net drie punte tot -14 styg. Dit beteken die meerderheid Suid-Afrikaners verwag dat die ekonomie in 2020 sal verswak.

Huishoudelike vooruitsigte

  • Die indeks het effens gedaal, van +12 tot +11. Hoewel dit positief is, is dit die laagste in twee jaar.

Duursame goedere

  • Dié subindeks het van -15 in die derde kwartaal tot -18 gedaal. Ook dié subindeks is die laagste in twee jaar.

Inkomstegroepe verskil

  • Huishoudings wat meer as R14 000 per maand verdien, voel effens minder negatief. Hul verbruikersvertroue het van -9 punte in die derde kwartaal tot -4 in die vierde verbeter.
  • Huishoudings wat minder as R3 000 per maand verdien, is nou optimisties, met ’n indeks wat van -2 tot +1 gestyg het.
  • Huishoudings wat tussen R8 000 en R14 000 verdien, bly onveranderd op ’n tweejaar-laagtepunt van -4 punte.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.