Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Vergeet van resessie - die Groot D is dalk op pad

Die skokgolwe wat Covid-19 deur aandeelmarkte in Amerika en elders stuur, dwing beleggers om te dink aan gevolge wat erger as ’n resessie is, insluitende verskeie kwartale van ekonomiese aktiwiteit wat inkrimp, ’n kredietkrisis of selfs ’n depressie.

Die erger wordende tol wat die pandemie eis en die onsekerheid oor hoe ver dit gaan versprei, laat beleggers en ekonomie skarrel om die finansiële invloed te verstaan.

In China het nywerheidsproduksie met 13,5% geval en kleinhandelverkope met 20,5%. Foto: iStock

“Die mark lyk asof dit reeds die meeste van ’n algemene soort resessie ingeprys het,” sê Frances Donald, internasionale ekonoom van Manulife Investment Management. “Boonop moet hy nou bo en behalwe dit ook die waarskynlikheid in pryse in berekening in bring van ’n kredietkrisis.”

Vooruitskattings van Goldman Sachs en ander banke dui nou op ’n skerp ekonomiese inkrimping in ten minste die tweede kwartaal, met regerings in Amerika en Europa wat restaurante, vermaaklikheidsplekke en skole sluit en ’n beroep op burgers doen om by die huis te bly.

Sommige ekonome hoop nog die ekonomie sal later vanjaar begin groei, na gelang van die pogings om die virus te beheer.

Die S&P 500-indeks van Amerikaanse aandele het gemiddeld 28% van sy piek tot sy laagtepunt geval gedurende resessies, toon ’n ontleding van die afgelope 70 jaar wat deur Keith Lerner, hoofmarkstrateeg van Truist/Sun Trust Advisory Services, gedoen is.

Die indeks was teen Maandag se sluitingsprys 29,5% laer as sy hoogtepunt, wat op 19 Februarie bereik is.

Die mark se ineenstorting was egter dieper met die internasionale finansiële krisis van ’n dekade gelede, toe die S&P 500 met meer as 50% getuimel het.

“Die soort finansiële besmetting wat toe plaasgevind het, is nog nie in die mark ingeprys nie,” sê Donald.

Sy meen die mark sal egter nie gerus voel dat ’n 2008-soort scenario vermy is voordat bevestigde gevalle van die virussiekte begin daal nie.

Ná die Federale Reserweraad (Fed) se noodstappe die naweek het aandeelbeurse opnuut Maandag getuimel. Die stappe is soortgelyk as wat tydens die internasionale finansiële krisis geneem is.

Peter Cardillo, hoofmarkekonoom van Spartan Capital Securities, sê die mark se reaksie Maandag ná die drastiese stappe van die Fed is ’n “teken van ’n algehele vertrouensbreuk”.

“Dit laat die vraag ontstaan oor hoe skerp die resessie is wat ons sal moet verduur.”

Joachim Fels, ’n ekonomiese adviseur van Pimco, sê dit lyk asof ’n internasionale resessie ’n gegewe is.

Hy meen die taak van regerings en sentrale banke is om seker te maak die resessie “bly betreklik kort en verander nie in ’n ekonomiese depressie nie”.

Sy definisie van ’n depressie is “’n kombinasie van ’n langdurige afname in aktiwiteit wat langer duur as net ’n paar kwartale, ’n baie wesenlike styging in werkloosheid en massa-bankrotskappe van ondernemings en banke wat ineenstort”.

Inligting uit China toon hoe drasties die siekte se skade aan die ekonomie is. Nywerheidsproduksie daar het met 13,5% geval en kleinhandelverkope met 20,5%.

Ten minste een ander groot naam op Wall Street blyk bekommerd te wees dat die huidige krisis ontaard in iets baie groter as ’n resessie.

Die miljardêrbelegger Ray Dalio, wat die verskansingsfonds Bridgewater Associates begin het, is bekommerd dat die Fed en ander sentrale banke reeds baie van hul kanse verspeel het deur rentekoerse tot amper zero te verlaag.

Dalio het Maandag in ’n nuusbrief gesê hy is bekommerd dat die volgende ekonomiese afswaai daartoe gaan lei dat rentekoerse tot nul verlaag word, terwyl daar baie skuld uitstaande is. Hy meen toestande gaan geskep word wat baie soortgelyk is as wat in die 1930’s (toe die Groot Depressie plaasgevind het) geheers het.

Strateë van Deutsche Bank het verlede week in ’n nuusbrief gesê die onlangse wisselvalligheid van die mark, gekenmerk deur die S&P 500 se rondswaai van meer as 3%, gebeur so gereeld as wat voorheen met die internasionale finansiële krisis en die Groot Depressie gesien is.

Eric Winograd, hoofekonoom vir Amerika van AllianceBernstein, glo nie die mark prys op die oomblik werklik ’n langdurige depressie in nie. Hy meen dit is waarskynlik “gepas om dit nie te doen nie”.

Hy is egter bekommerd die situasie kan verander in ’n voortdurende resessie, wat gedeeltelik gaan voortspruit uit die stres op die banksektor. – Reuters

Meer oor:  Ekonomie  |  Ekonomiese Groei  |  Depressie  |  Wêreldekonomie  |  Resessie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.