Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Vergeet van Tito, Pravin – hou hul adjunkte dop
Tito Mboweni, Minister van finansies

Welkom terug, Tito en Pravin, maar nou moet julle skouer aan die wiel sit. En vertel ons asseblief tog meer oor jul adjunkte, want jul dae is getel.

Dís onder die opmerkings Donderdag oor die heraanstelling van Tito Mboweni as minister van finansies en Pravin Gordhan as minister van openbare ondernemings.

Peter Attard Montalto, hoof van kapitaalmarknavorsing by Intellidex, sê die heraanstelling van dié twee mense – albei aanstellings in pres. Cyril Ramaphosa se kabinet sedert vroeg 2018 – in dié sleutelposte verseker stabiliteit. Albei is baie belangrik vir die grootste fiskale krisis wat behartig moet word, naamlik om te verseker dat Eskom finansieel gestabiliseer word.

“Nie een word egter as langtermynaanstellings beskou nie en sal na ons mening miskien 12 tot 18 maande in hul pos wees.”

Dís waarom mense dalk eerder fyn moet kyk na hul onderskeie adjunkminister.

David Masondo, adjunkminister van finansies 

Dr. David Masondo, wat as adjunkminister van finansies aangestel is, word as ’n intellektueel beskryf en word ook geloof vir sy uitgesprokenheid teen oudpres. Jacob Zuma, berig News24.

Hy het ’n PhD-graad aan die New York-universiteit behaal oor die impak van die ontwikkelingsprogram vir die motorbedryf in Suid-Afrika.

Hy was voorheen uitvoerende hoof van die Automotive Industry Development Centre (AIDC) en ’n dosent aan die Universiteit van die Witwatersrand.

Hy was ook al die provinsiale “minister van finansies” vir Limpopo, oftewel lid van die uitvoerende raad. Hy was ook hoofdirekteur van Gauteng se departement van ekonomiese ontwikkeling.

Dalk ’n ietwat meer omstrede vir ’n potensiële toekomstige minister van finansies is dat Masondo die nasionale voorsitter van die Young Communist League was.

“Die nasionale tesourie kan nie bekostig om sy tyd – soos al in die verlede gebeur het – te bestee om heeltyd ’n linksgesinde minister te beveg nie,” sê Montalto.

Masondo word egter as “slim en opreg” beskou en kan ’n “interessante gespreksgenoot vir beleggers” wees, reken Montalto.

Phumulo Masualle, adjunkminister van openbare ondernemings

Phumulo Masualle, adjunkminister van openbare ondernemings, was voorheen premier van die Oos-Kaap. Hy het ’n diploma in elektriese ingenieurswese – dalk nie ’n slegte kwalifikasie vir iemand met Eskom op sy taaklys nie – asook ’n nagraadse diploma in ekonomiese beginsels. Hy is lid van die ANC se nasionale uitvoerende komitee, asook sekretaris van die Suid-Afrikaanse Kommunisteparty.

Prof. Carel van Aardt, ekonoom van die Buro vir Marknavorsing aan Unisa, sê Mboweni is “oukei” as minister van finansies, maar hy boesem nie genoeg vertroue in nie. “Jy het eintlik iemand nodig gehad wat méér as oukei was.”

Mboweni se tendens om uit die vuis te praat, maak hom dalk bemind onder joernaliste en Twitter-aanhangers, maar dit beteken ook hy word onthou vir opmerkings soos dat Suid-Afrika ’n staatsbank nodig het.

Van Aardt sê hy is spyt dat Lesetja Kganyago, president van die Reserwebank, nie as minister van finansies aangestel is soos voor die aankondiging bespiegel is nie.

Cas Coovadia, besturende direkteur van die Bankvereniging van Suid-Afrika, beskou Mboweni se heraanstelling as ’n “belangrike sein aan die mark dat die regering verbind is tot verantwoordelike ekonomiese en fiskale beleid”.

“Ons hoop min. Mboweni sal ernstige aandag toespits op die herbou van vermoë in die nasionale tesourie en die herstel van vertroue in openbare geldsake."

Mboweni sal ernstige aandag toespits op die herbou van vermoë in die nasionale tesourie en die herstel van vertroue in openbare geldsake.
Cas Coovadia

Hy sê Mboweni sal ’n baie meer betrokke minister moet wees ten einde die geloofwaardigheid van die tesourie en ander staatsdepartemente in die oë van die beleggersgemeenskap te herstel.

Masondo gaan waarskynlik voorsitter word van die Openbare Beleggingskorporasie (OBK), ’n rol wat meestal deur die adjunkminister van finansies beklee word. Dit gaan sy werk wees om te probeer om vertroue in die OBK te herstel te midde van die voortslepende Mpati-ondersoek na hoogs omstrede beleggingsbesluite by dié staatsbeheerde batebestuurder, wat onder meer die miljarde rande pensioenfondsgeld van staatsamptenare belê.

Saam sal Mboweni en Masondo die leisels moet vasvat van die land se begroting en moeilike gesprekke met hul kollegas in die kabinet moet hê oor besnoeiing.

Coovadia sê Gordhan moet voortgaan om die “enkele grootste bedreiging vir die ekonomie – die finansiële en bedryfskrisis by Eskom” – te behartig. “Hoewel baie hoop op hom geplaas is, is baie min werklike vordering in sy termyn gemaak om die uitdagings op te los. Nou is die maatskappy boonop weer sonder ’n uitvoerende hoof.

“Daar is nie meer tyd oor vir geduld en bestudering en verstaan van die probleme by Eskom nie . . . Die maatskappy se skuldlas en bedryfsondoeltreffendhede neem elke dag toe.”

ministers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.