Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Verkope daal ook in Junie ná inperking verslap is

Kleinhandelsverkope het steeds in Junie, vergeleke met ’n jaar gelede, gedaal ten spyte van die inperking wat tot vlak 3 verslap is en die meeste winkels hul deure toe kon heropen.

Kleinhandel het nog steeds nie herstel ten spyte van die verslapping van die staat van inperking nie. Foto: Argief

Statistieke Suid-Afrika se syfers vir Junie toon dat die verkope op ’n jaargrondslag met 7,5% gedaal het.

Dit beteken vir die tweede kwartaal van die jaar – van die begin van die inperking tot einde Junie – het die verkope met byna 23% op ’n jaargrondslag geval.

Dit hou implikasies in vir die BBP-syfers vir die tweede kwartaal, sê Nicky Weimar en Johannes Khosa, ekonome van Nedbank.

Hulle sê die verslapping van die inperking in Junie het gehelp, maar die herstel is stadiger as die 3%-daling jaar tot jaar wat die mark verwag het.

Lara Hodes, ekonoom van Investec Bank, sê dit is ’n verlangsaming vergeleke met die voorafgaande twee maande in ooreenstemming met die verdere verslapping van die staat van inperking.

Totale kleinhandelsverkope het in Mei met bykans 12% gedaal en in April met amper 50% getuimel.

Hodes sê die verkope in Junie toon watter impak die gevolge van die Covid-19-pandemie op die verbruiker het met werkloosheid wat toegeneem het omdat baie ondernemings hul deure permanent moes sluit of hul arbeidsmag verklein het.

Boonop is die salarisse van baie mense wat wel nog ’n werk het, verlaag.

Hodes verwys na die jongste syfers van BankservAfrica oor die aantal salarisse wat by banke inbetaal is, en wat met 20% gedaal het.

“Die swak vraag weens verbruikers wat nie die vermoë of die vertroue het om geld te bestee nie, gaan voortgaan om huishoudelike verbruik – wat een van die belangrikste aandrywers van die ekonomie in Suid-Afrika in die afsienbare toekoms is – af te trek.”

Vyf van die sewe subsektore van die kleinhandelsbedryf het in Junie steeds gedaal.

Veral die kategorie wat alle ander winkels insluit – wat nie kos, drank, sigarette, meubels of ysterware verkoop nie – het met 46% jaar tot jaar gedaal.

Só het die verskillende dele van die kleinhandelsektor vertoon:

  • Die verkope van die grootste sektor wat gemeet word, naamlik die algemene handelaars wat groot nasionale winkelgroepe soos Pick n Pay, Shoprite en Spar sal insluit, het in Junie ook gedaal, maar met 0,9%.
  • Klerewinkels se verkope het met 7,6% gedaal.
  • Apteke en mediese produkte het 2,9% gedaal.
  • Die verkope van spesialiswinkels wat net kos, drank of tabak verkoop, het met 11% gedaal.

Die twee afdelings van die sektor wat ’n styging jaar tot jaar gehad het, is meubelwinkels wat 13% gespring het en ysterware- en verfwinkels wie se verkope met 5,5% gestyg het.

Weimar en Khosa sê vir die kwartaal tot einde Junie het die verkope met 22% op ’n jaargrondslag gedaal.

Vir die jaar tot einde Junie het die verkope met byna 11% vergeleke met ’n jaar gelede gedaal.

“Gegewe dat huishoudings se besteding 60% van die BBP verteenwoordig, gaan dit ’n baie negatiewe impak op die tweede kwartaal se BBP-syfer hê.”

Hulle voorspel dat die BBP in die tweede kwartaal met 42% gaan krimp.

“Die vooruitsig vir verbruikersbesteding en kleinhandelverkope is steeds droewig.”

Hulle verwag ’n mate van herstel in die derde kwartaal wanneer die ekonomiese aktiwiteite in ooreenstemming met die verdere verslapping van die inperking stelselmatig verder na normaal terugkeer.

“Nietemin gaan die algemene tendens flou bly omdat huishoudings meer konserwatief gaan wees weens kommer oor werksekerheid.

“Meer werkverliese gaan voorkom in die res van die jaar omdat ondernemings gaan sukkel om van die vernietigende impak van die inperking te herstel. Die vrese oor werkverliese en onsekerheid oor die toekoms gaan verbruikersvertroue knou, wat reeds op die laagste vlak in die geskiedenis is.

Hulle verwag verbruikers gaan baie versigtig wees om geld te bestee aan dinge wat nie noodsaaklik is nie.

Dit sal die impak van die lae rentekoers en aantreklike afslagpryse beperk.

Hulle verwag dat verbruikersbesteding vir die hele jaar met 3,5% gaan krimp. “Die massiewe val in besteding in die tweede kwartaal gaan baie erger wees as wat die matige herstel in die derde en vierde kwartaal kan teenwerk.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.