Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Verligting oor blaaskans wat Moody’s gee
Moody’s het 23 Maart beide Suid-Afrika se staatskuld wat plaaslik en oorsee uitgereik is op dieselfde kredietgradering gehou. Foto: Reuters

Die besluit deur Moody’s om Suid-Afrika se staatskuld nie af te gradeer nie is wyd verwelkom.

As Moody’s Suid-Afrika se staatskuld – binnelands of buitelands – afgradeer het, sou die land in geheel rommelstatus gehad het. Die ander twee groot graderingsagentskappe, Standard & Poor’s (S&P) en Fitch, het reeds Suid-Afrika se binnelandse en buitelandse uitgereikte staatskuld op rommelstatus gegradeer.

Dit sou daartoe lei dat sowat R100 miljard van buitelandse beleggers uit die land vloei omdat dit sou beteken Suid-Afrika se staatskuld word uit ’n belangrike indeks vir beleggers verwyder.

“Alle Suid-Afrikaners, sowel verbruikers as ondernemings, gaan voordeel trek hieruit,” het Cas Coovadia, besturende direkteur van die Bankvereniging van Suid-Afrika (Basa), gesê. Volgens hom toon dit Moody’s se vertroue in die vordering wat gemaak is om die kopsere te pak wat die graderingsagentskappe al uitgelig het en dat Suid-Afrika se ekonomie weer tekens van groei begin toon.

“Nog ’n afgradering sou onvermydelik getoon word in die graderings van die banke en sou die leningskoste vir die land, maatskappye en finansiële instellings verhoog het. Uiteindelik sou almal in Suid-Afrika dié pyn gevoel het.”

Coovadia het gesê daar moet erkenning gegee word aan die werk van die nasionale tesourie, die arbeidsektor en sakeleiers om die afgradering af te weer.

“Die besluit deur Moody’s toon wat kan gedoen word as daar sterk leierskap is, wat veral ’n verbintenis het daartoe om goeie korporatiewe bestuur te ondersteun.”

Cas Coovadia

Hy het egter gemaan Suid-Afrika gaan net sy beleggingstatus van die ander graderingsagentskappe terugkry as hoër ekonomiese groei bewerkstellig kan word en dit volgehou word en as die onaanvaarbare hoë werkloosheid aangespreek word.

Basa beveel aan daar moet op dié kwessies gefokus word:

1. Meer beleidsekerheid is nodig, veral ten opsigte van eiendomsregte, grondhervorming en die mynhandves.

2. Strenger finansiële dissipline en bestuur is nodig sodat verkwisting en ongemagtigde uitgawes uitgewis word en die staatsmaatskappye op ’n volhoubare bedryfspad kom.

Volgens prof. Raymond Parsons, ekonoom aan die Noordwes-Universiteit, sal Moody’s se besluit vertroue op verskeie vlakke ’n hupstoot gee.

“Die besluit is duidelik moontlik gemaak deur ’n kombinasie van die onlangse positiewe politieke en ekonomiese tendense in Suid-Afrika.”

Hy meen faktore soos die verkiesing van pres. Cyril Ramaphosa, die takel van staatskaping en ander korrupsie, die heraanstelling van Nhlanhla Nene as minister van finansies asook die onlangse begrotingsrede het alles hiermee gehelp.

Parsons het opgemerk dat Moody’s spesifiek klem geplaas het daarop dat “ ’n versterking van instellings en die volhou daarvan ’n ekonomiese herstel sal meebring.”

“Die uitdaging vir Suid-Afrika is nou om die ekstra tyd wat Moody’s vir die land gegee het wys te gebruik om ’n meer deursigtige en voorspelbare beleidsraamwerk te kry.

“Hoewel die onlangse positiewe gebeure Suid-Afrika ’n welverdiende blaaskans van Moody’s laat kry het, is daar nog moeilike besluite wat geneem moet word oor die strukturele hervorming wat nodig is om hoër en volgehoue ekonomiese groei op die langer termyn te kry.”

Uitvoerende hoofde se inisiatief wat reeds twee jaar gelede begin is om die afgradering van Suid-Afrika se staatskuld tot rommel af te weer, het ook die besluit deur Moody’s – veral oor die binnelandse staatskuld – verwelkom.

“Dit bied die land ’n kans om belangrike strukturele hervorming in werking te stel wat nodig is om die kredietgradering te verbeter.”

Jabu Mabuza, voorsitter van Eskom en president van Business Unity South Africa (Busa). Foto: Nellie Brand-Jonker

Jabu Mabuza, sameroeper van die inisiatief van uitvoerende hoofde, het ook die besluit toegeskryf aan die maatstawwe wat die afgelope drie maande ingestel is om vertroue te versterk. Volgens hom sluit dit in die vlot presidensiële oorgang, die aanstelling van ’n nuwe direksie vir Eskom, die finansieel verantwoordelike begroting en die kabinetskommeling wat gerig was daarop om stabiliteit na belangrike departemente terug te bring.

“Hoewel die Suid-Afrikaanse ekonomie nog ver is van optimaal werk, is die maatstawwe wat in die begrotingstoespraak aangekondig is, tesame met die ondernemings wat die president in sy staatsrede gegee het, duidelike aanduidings van die wil om die nodige hervorming te bewerkstellig vir inklusiewe en volhoubare groei.”

Mabuza het gesê hulle is veral bemoedig deur die beslissende stappe wat geneem is en wat instellings sterker maak en beleggersvertroue bou, soos:

1. Staatskaping en korrupsie wat getakel word deur die prioritisering van die Zondo-kommissie omdat dit nodig is in die geveg teen wanadministrasie wat die regering se doelstellings ondermyn;

2. Die herstel van openbare instellings se geloofwaardigheid soos om leierskapprobleme te takel by belangrike organisasies soos die nasionale vervolgingsgesag en die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) en die verbintenis tot ’n kommissie van ondersoek in belastingadministrasie en bestuur by SAID;

3. Die belofte om staatsondernemings te herstel, veral hul finansieringsmodelle, omdat dit die land se finansiële posisie wesenlik sal verbeter.

“Suid-Afrika moet hierdie geleentheid gebruik om die groot probleme wat ons het op gepaste wyse die hoof te bied.”

Meer oor:  Moody's  |  Basa  |  Jabu Mabuza  |  Cas Coovadia  |  Staatskuld  |  Kredietgradering
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.