Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
‘Verlos ons van Moody’s,’ bid OB op Twitter
Adv. Busisiwe Mkhwebane, openbare beskermer. Foto: Getty Images

Adv. Busisiwe Mkhwebane, die veelbesproke openbare beskermer, het haar Vrydag tot gebed gewend om beskerming te vra teen kredietgradeerders wat sy as die “verdrukkers” van ekonomiese vryheid beskou.

In ’n twiet Vrydagoggend vra Mkhwebane vir God om Suid-Afrika van gradeerders “te verlos” ten einde ekonomiese vryheid “in ons leeftyd en vir toekomstige geslagte” te bewerkstellig.

Mkhwebane se pleidooi kom enkele ure voordat Moody’s Investors Service na verwagting Vrydagaand sy jongste besluit oor die land se kredietgradering bekend maak.

Moody’s is tans die enigste van die drie groot kredietgradeerders wat Suid-Afrika se staatskuld nog op beleggingsgraad het.

Sowel Standard & Poor’s Global Ratings as Fitch Ratings het Suid-Afrika al tot rommelstatus afgegradeer.

Tito Mboweni, minister van finansies, het Donderdag in die parlement gesê die vooruitsig vir Vrydag se aankondiging van Moody’s “lyk nie goed nie”.

Hy het ook ’n beroep gedoen op lede van die ACDP om saam met hom te bid dat Moody’s Suid-Afrika nie afgradeer tot rommelstatus nie.

Die opregtheid van Mkhwebane se gebed is deur verskeie Twitterati betwyfel.

“As jy net stilbly, sal niemand die diepte van jou onkunde kan raai nie,” het een persoon op haar gebed gereageer.

“Here, verlos ons van hierdie onbekwaamheid,” het ’n ander gevra.

Ander gebruikers het aangedui Mkhwebane is “deel van die probleem” en dat korrupsie in Suid-Afrika eers uitgeroei moet word voordat God sal kan help.

“God, verlos ons van die ANC wat ons in die eerste plek in dié gemors laat beland het,” twiet ’n ander persoon.

Talle kenners meen Moody’s sal Vrydag geen keuse hê as om Suid-Afrika se staatskuld tot rommel af te gradeer nie. Die meerderheidsiening is egter dat die vooruitsig vir die gradering van stabiel in negatief verander gaan word, ’n stap wat die risiko vir ’n volslae afgradering binne 12 maande ’n sterk moontlikheid maak.

Nog ’n moontlikheid is dat Moody’s die gradering op hersiening sal neem, wat die risiko verhoog dat ’n afgradering binne drie maande sal plaasvind.

LEES OOK: 'Makabere MTBR sal Moody's oor die afgrond stoot'

Dit kom nadat Mboweni ’n donker prentjie van die Suid-Afrikaanse ekonomie geskets het tydens sy mediumtermynbegrotingsraamwerk (MTBR) wat hy vandeesweek gelewer het.

Daarin het die tesourie die verwagte ekonomiese groei vir 2019 tot 0,5% verlaag en erken dat hy beduidend meer geld op mediumtermyn móét leen ten einde kop bo water te hou.

“Dit sal Moody’s se berekeninge van die land se skuld beslis bo kritieke vlakke opstoot,” het Lullu Krugel, hoofekonoom van PwC, gesê.

Moody’s se finale aankondiging word Vrydag omstreeks middernag verwag.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.