Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Verslag oor SEB, minimum loon kom later
Die verslag oor of enige veranderings nodig is aan die nasionale minimum loon, sal eers teen einde September gepubliseer word. Foto: Unsplash

Vanjaar se verslag oor maatskappye se vordering met diensbillikheid (regstellende aksie) sal nou eers teen einde September gepubliseer word.

Die departement van indiensneming en arbeid se beoogde verslag oor of enige veranderings nodig is aan die nasionale minimum loon, sal ook eers teen einde September gepubliseer word, het Thobile Lamati, direkteur-generaal van indiensneming en arbeid, Donderdagmiddag gesê.

Albei die verslae sou teen einde Junie gepubliseer gewees het, maar weens die staat van inperking moes dit noodgedwonge uitgestel word.

Lamati het die Nasionale Raad van Provinsies se gekose komitee oor handel en nywerheid, ekonomiese ontwikkeling, kleinsakeontwikkeling, toerisme, indiensneming en arbeid toegespreek oor die departement se gewysigde begroting.

Boitumelo Moloi, adjunkminister van indiensneming en arbeid, het aan die komitee gesê die departement se begroting word met 7,2% gesny.

Arbeidsinspekteurs

Die vraag na die dienste van arbeidsinspekteurs het skerp toegeneem tydens die inperking. Hulle moet werkplekke besoek om seker te maak werkers word behoorlik beskerm teen die koronavirus.

Weens die talle sakeondernemings wat weens die impak van die inperking moes sluit, sal die departement egter voortaan minder arbeidsinspeksies doen, sê Lamati.

Moloi sê die pandemie het boonop die departement se werk geraak omdat 224 werknemers onder kwarantyn geplaas moes word weens die virus. Hiervan is 64 positief vir die virus getoets en twee is dood.

Die departement het aanvanklik R3,63 miljard ontvang uit die Februarie-begroting, maar dis nou met R261,9 miljoen gesny, sê Lamati.

Sny van salarisrekening

Die departement se salarisrekening word met 8,8% tot R1,9 miljard gesny. Dit sal tot 214 vakante poste in die departement lei. Lamati het beklemtoon dit sal nie in die lopende boekjaar arbeidsinspeksies en wetstoepassing raak nie.

Die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie se begroting word met 5,4% tot R970,5 miljoen gesny. Dit is die enigste entiteit onder die departement se toesig wat minder as die gemiddelde besnoeiing van 7,2% kry. Die departement se oorbetalings aan die nasionale ekonomiese ontwikkelings- en arbeidsraad (Nedlac) is met 8% gesny en Nedlac kry net R57,1 miljoen, sê Lamati.

Beskermde werk

Die departement se fabrieke vir beskermde indiensneming is reeds sedert 23 Maart gesluit en maak net oop wanneer daar dringende bestellings is. Dit is fabrieke waar mense met gestremdhede werk. Die fabrieke het in die afgelope twee boekjare verliese van onderskeidelik R18,3 miljoen en R2,8 miljoen getoon weens onder meer niebetaling vir produkte gelewer aan ander staatsdepartemente.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.