Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
‘Verslapping tot vlak 3 gaan groot verligting bring’

Pres. Cyril Ramaphosa se aankondiging dat die inperkingsregulasies in die hele land – selfs metropolitaanse gebiede met ’n hoë infeksiekoers – op 1 Junie tot vlak 3 verslap gaan word, gaan groot verligting vir die ekonomie bring.

Prof. Jannie Rossouw, waarnemende hoof van Wits se sakeskool.

“Dit sal beslis help om die ekonomie op die pad na herstel te plaas, hoewel die land steeds vanjaar ’n resessie gaan beleef,” sê prof. Jannie Rossouw, waarnemende hoof van die Universiteit van die Witwatersrand se sakeskool. Hy sê dinge gaan nog lank moeilik bly, gegewe die geweldige invloed wat die strenger vlakke van inperking gehad het. 

Derduisende mense het hul werk verloor, hetsy tydelik of permanent, omdat ondernemings hul deure moes sluit.

Ekonome moet egter nog bereken in watter mate dit ekonomiese groei sal beïnvloed, gegewe dat daar soveel onsekerheid geheers het oor wanneer die regulasies verslap gaan word.”

Alle sektore van die ekonomie kan basies nou – met enkele uitsonderings en steeds met heelwat beperkings – hervat word, het Ramaphosa aangekondig. Persoonlike dienste soos haarkappers en skoonheidsterapeute, asook restaurante (vir aansitetes) en vermaaklikheidsplekke is onder die bedrywe wat nie hul deure mag heropen nie. Die verbod op sigaretverkope is ook behou.

Ramaphosa se waarskuwing dat die metro’s weer na vlak 4 en vlak 5 geskuif kan word indien die gesondheidsituasie verswak, is volgens Rossouw ’n baie ernstige waarskuwing.

“So ’n stap sal ’n nuwe skok vir die ekonomie meebring, aangesien stede die hartklop van ekonomiese bedrywighede in die land is.

“Die toespraak het baie meer vertroue ingeboesem as Ramaphosa se vorige, vae toespraak waarin min besonderhede gegee is. Dit sal goed wees vir verbruikers- en sakevertroue as die president een keer per week so ’n toespraak gee.

“Dit lyk asof die regering wel ag geslaan het op argumente, onder meer ten gunste van die hervatting van ekonomiese bedrywighede en die verslapping van regulasies. In die toespraak is ook erkenning gegee aan die heftige kritiek vanuit die mediese gemeenskap, onder meer omdat die inperking die behandeling van chroniese gesondheidsprobleme kniehalter.”

Politici “bluf hulself” egter steeds oor die vraagstuk van tabakprodukte, sê Rossouw.

“Die onwettige handel in sigarette floreer en die regering verloor die belastinginkomste uit die wettige handel – daar is geen sprake dat mense ophou rook nie.”

Uit ’n studie van die Universiteit van Kaapstad blyk dit dat die sluikhandel in sigarette nie maklik gestuit sal kan word nie.

Rossouw sê hoewel haarkappers en skoonheidsterapeute ’n groot deel van die ekonomie verteenwoordig, is dit verstaanbaar dat dié dienste steeds verbied word. “Dit is onmoontlik om afstand tussen individue te handhaaf of selfs jou masker heeltyd aan te hou tydens ’n haarafspraak of massering, byvoorbeeld.”

Meer oor:  Staat Van Inperking  |  Koronavirus  |  Vlak 3  |  Vlak 4  |  Inperking  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.