Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Verstopte Chinese hawens tot in SA gevoel

Suid-Afrikaners wat goedere van China af invoer, sal straks ’n paar weke langer daarvoor moet wag, en die vragtariewe het al met soveel as 300% opgeskiet.

Die houerkaai in die hawe van Yantian in die Shenzen-provinsie in die suide van China. Foto: Bloomberg

Die jongste krisis in die internasionale skeepsbedryf kan selfs kinders teleurstel wat oor Kersfees iets van Vader Krismis verwag.

Anders as die skip wat in stormweer skeefgedraai het in die Suez-kanaal in Maart, is die jongste vertraging veroorsaak deur ’n nuwe vlaag van die Covid-19-pandemie in die Chinese hawestad Yantian in Mei. Dit is die derde grootste hawe in die wêreld tans, volgens die Deense skeepsredery Maersk.

Die haweowerhede in Yantian, sowat 80 km noord van Hongkong, het aanvanklik aangedui hy sal eers teen einde Mei weer vraghouers vir uitvoer vanuit die binneland aanvaar. Maar die hawe kon nou nog nie weer ten volle in bedryf kom nie en sê hy sal eers teen einde Junie weer voluit werk, wat tot maande se vragopeenhopings in China kan lei.

Meer as 300 vragskepe sny Yantian nou uit hul reisplanne, volgens Maersk.

Waarnemers waarsku dit kan probleme veroorsaak vir handelaars in Amerika en Europa wat gewoonlik teen Augustus hul bestellings vir die besige Desember-tyd plaas.

Roetes geskrap

Die skeepsredery MSC het Donderdag aangekondig hy sal vier skeepsroetes moet kanselleer wat oor die volgende drie weke vanuit Chinese hawens sou vertrek, wat sy Africa Express-diens insluit wat Durban aandoen.

MSC se jongste raming is dat ’n vragskip wat Saterdag uit die hawe van Xingang sou vertrek, eers oor 40 dae in Durban sal wees, en die volgende vertrektyd uit China op dieselfde vragdiens is eers vroeg in Julie beskikbaar.

Terry Gale, voorsitter van die Uitvoerdersklub in die Wes-Kaap, sê tans slaan alle handelskepe van en na Suid-Afrika die hawens in die Shenzen-gebied van China oor weens die toename in Covid-19-infeksies daar – dit is die hawens van Yantian, Chiwan, Shekou en Guangzhou, en dit raak ook die hawe van Nansha, waarheen baie van die vragskepe herroeteer word.

Die beperkte vragkapasiteit weens die hawekansellasies dryf vragtariewe buitensporig op, en Gale praat van tariewe wat in sommige gevalle met soveel as 300% gestyg het. Daar is vertragings van tot 20 dae in van die hawens.

Kerry Rosser, woordvoerder van Maersk in Suid-Afrika, sê hul Suid-Afrikaanse kliënte het die afgelope paar weke ’n gemiddelde vertraging van tien dae ervaar teenoor die gemiddelde vertraging van sowat 16 dae. Maersk het boonop nie sy vragtariewe so skerp verhoog nie, volgens Rosser.

Hoewel Yantian uit sy haweskedule gesny is, word vrag na en van Yantian via die Maleisiese hawe Tanjung Pelepas herverskeep, sê sy.

Maersk waarsku die voorkoms van bottelnekke is kommerwekkend, en volgehoue opeenhopings word ’n internasionale probleem weens die pandemie asook ’n aansienlike toename in vragvolumes sedert einde verlede jaar.

Flexport, ’n firma wat sagteware verskaf om voorsieningskettings te bestuur, verwag die opeenhoping in Yantian kan tot agt weke duur. Dit kan kleinhandelaars en ander invoerders knou wat hul pakstore dan wil begin aanvul vir die inkopie-manie in aanloop tot Kersfees.

Impak op verbruikers

Die koste van skeepsvrag is normaalweg nie so ’n groot faktor vir maatskappye en verbruikers nie, maar ontleders waarsku die skerp styging in vragtariewe kan inflasie versnel en ekonomiese groei ontwrig.

Volgens Drewry Shipping kos dit tans byna sewe keer meer as ’n jaar gelede om ’n vraghouer van Sjanghai na Rotterdam te verskeep.

In Amerika waarsku sommige winkels dat klante wat meubels wil bestel wat in China gemaak word, nou so lank as tien maande daarvoor kan wag, selfs al bestel hulle vandag.

Selfs sonder die Suez-verstopping in Maart en die huidige Chinese vertragings sou die internasionale vervoerstelsel steeds gesukkel het, sê kenners. Uitvoer neem toe namate ekonomieë van die pandemie herstel, en sekere markte moet gedurig ekstra mediese voorraad bestel om die opeenvolgende pandemie-vlae te hanteer.

’n Skeepsontleder by Bimco skat sowat 1 miljoen vraghouers word tans vertraag, terwyl Yantian sowat 13 miljoen vraghouers per jaar hanteer.

Byna 140 vragskepe wag tans buite Chinese hawens, sowat 50% meer as die gemiddelde in April en Mei.

Die skeepsbestuursfirma Anglo-Eastern Univan Group, wat 700 skepe vir kliënte bestuur, verwag die skeepsbedryf kan waarskynlik eers teen die eerste kwartaal van 2022 na normaal terugkeer.

Meer oor:  China  |  Invoer  |  Covid-19  |  Uitvoer  |  Hawens  |  Verskeping  |  Pandemie  |  Vragskepe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.