Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Vertroue in boubedryf styg stadigaan
Verkope by ysterwarewinkels het gedurende die tweede kwartaal van die jaar beduidend gestyg. Foto: Pixabay

Sakevertroue in die boubedryf begin stadigaan styg, blyk dit uit die jongste konstruksievertroue-indeks van FNB en die Buro vir Ekonomiese Ondersoek (BEO).

Die indeks vir die derde kwartaal vanjaar het met 20 punte tot 24 gestyg.

Hoewel dit ’n beduidende styging is, beteken dit dat 76% van die respondente steeds in sak en as is wat sakevertroue in dié sektor betref.

Vyf uit die ses subindekse waaruit die indeks saamgestel is, het in die derde kwartaal gestyg.

Dit is veral sakevertroue onder ysterwarekleinhandelaars wat gedurende die derde kwartaal beduidend gestyg het.

Dit het van ’n skrale drie punte in die tweede kwartaal tot 55 punte in die derde kwartaal gestyg.

Boonop sê respondente wat aan die peiling deelgeneem het hulle verwag dat verkope gaan aanhou groei gedurende die vierde kwartaal.

“Die respondente was aangenaam verras met hoe bedrywig mense tuis was met selfdoenprojekte,” sê Siphamandla Mkhwanazi, senior ekonoom van FNB.

Hy sê die beter verkope by ysterwarewinkels is waarskynlik omdat mense meer geld spaar wat werksverwante uitgawes betref en omdat die rentekoers beduidend laer is. Dit stel verbruikers in staat om geld aan ander dinge, soos huisverbeterings, te bestee.

Vertroue onder boumateriaalvervaardigers het van nul in die tweede kwartaal tot 40 in die derde kwartaal gestyg. Verkope hier het ook bo verwagting in die kwartaal gestyg.

Met die meeste boukontrakteurs wat glad nie in April en Mei kon werk nie, is dit nie verbasend dat die bedrywighede steeds onder druk is nie. Dié subindeks het van twee punte tot 14 gestyg.

Vir argitekte en bestekopnemers was aktiwiteit steeds baie gedemp, hoewel beter as in die tweede kwartaal. Vertroue onder argitekte het met twee punte tot 14 gestyg.

Daar is egter steeds bykans geen vertroue onder bestekopmeters nie. Dié punt bly in die derde kwartaal steeds op drie.

Die konstruksievertroue-indeks is gegrond op ’n peiling wat tussen 12 en 31 Augustus gedoen is. Die indeks wissel tussen nul (’n uiterste gebrek aan vertroue) en 100 (uiterste vertroue). Dit dui die persentasie deelnemers aan wat tevrede is met die heersende saketoestande in ses sektore: Argitekte, bestekopnemers, hoofkontrakteurs, subkontrakteurs (wat loodgieters, elektrisiëns, kabinetmakers en uitrusters insluit), vervaardigers van boumateriaal soos sement, bakstene en glas, en kleinhandelaars in boumateriaal en ysterware.

bou

Meer oor:  Fnb  |  Buro Vir Ekonomiese Ondersoek  |  Ber  |  Siphamandla Mkhwanazi  |  Boubedryf  |  Covid-19  |  Ysterware
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.