Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Vervaardiging duik in April met 49,4%
Suid-Afrika se fabrieke het in April bykans tot ’n stilstand gekom. Foto: Pixabay

Die Covid-19 inperking het behoorlik Suid-Afrika se vervaardigingswiele tot stilstand gedryf.

Statistieke Suid-Afrika (SSA) se jongste syfers wys vervaardiging was in April ’n enorme 49,4% laer as ’n jaar tevore.

April was die eerste volle maand waarin die ekonomie deur die inperking tot stilstand gedwing is.

Vlak 5 van inperking – waar die meeste Suid-Afrikaners by die huis moes bly – het die hele maand gegeld.

Dié inkrimping laat die syfers van -5,5% in Maart en -2,1% in Februarie skielik klein lyk.

Dit is die elfde opeenvolgende maand dat die land minder produkte vervaardig.

SSA se syfers wys Mei 2019 was die laaste vorige maand wat vervaardigingsgroei gewys het. Toe was dit ook net ’n skamele 0,4% op ’n jaargrondslag.

Yster- en staalproduksie (-65,4%) het die meeste gekrimp.

Ander sektore wat agteruit geboer het, is:

  • Petroleum-, chemikalieë-, rubber- en plastiekproduksie: -41,5%;
  • Motors en motoronderdele: -98%;
  • Kosproduksie: -19,4%; en
  • Hout- en papierprodukte: -49,2%.

Geen subsektor het enige groei getoon nie.

Seisoenaal aangepaste syfers wys vervaardiging het van Maart tot April met 44,3% gekrimp. Dit volg op inkrimpings van -1,2% in Maart en -2,7% in Februarie.

Op ’n kwartaalgrondslag lyk die prentjie ook baie donker.

Vervaardiging in die drie maande tot einde April wys geen groei vergeleke met die vorige drie maande nie, maar eerder ’n inkrimping van 16,9%.

Die grootste ineenkrimping in die kwartaaltydperk was in petroleum-, chemikalieë-, rubber- en plastiekproduksie wat met 17,4% gedaal het.

Geoff Nölting, ekonoom by FNB, verwag nie beter syfers vir Mei nie, want baie fabrieke was selfs onder vlak 4 van die inperking steeds gesluit.

Hy waarsku dit gaan lank duur voordat die sektor van die invloed van die pandemie sal herstel. Die volgehoue lae binnelandse vraag weens huishoudings se finansies wat steeds onder druk is, swak internasionale mededinging en die kragtekorte is die faktore wat die sektor geknou hou, sê Nölting.

Meer oor:  Statistieke Suid-Afrika  |  Inperking  |  Vlak 5  |  Vervaardiging
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.