Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Vervoer: Nuwe raad kan geld vir staat spaar

’n Wetsontwerp wat mik om al die bestaande vervoerreguleerders in die land tot een liggaam saam te smelt, kan straks tot werkverliese lei vir werknemers by die huidige reguleerders.

Omtrent sewe verskillende reguleerders gaan dalk saamgesmelt word om die land se vervoerbedryf te reguleer. Die samesmelting sal kostebesparings meebring.

As die nuwe ekonomiese reguleerder van die vervoersektor sy werk egter reg doen, kan dit ook vervoerkoste in Suid-Afrika met gemiddeld 5% laat daal en sowat R3,5 miljard se waarde tot die ekonomie toevoeg, wys studies wat die departement van vervoer gedoen het.

Moeketsi Sikhudo, projekbestuurder vir ekonomiese regulering in die departement, wou nie Woensdag bevestig of die saamvoeg van al die bestaande reguleerders tot ’n enkele entiteit wel tot werkverliese sal lei nie. Volgens plan sal die nuwe reguleerder egter in die eerste fase 78 werknemers benodig en dan groei tot 134 as dit ten volle funksioneel is.

Sikhudo het Woensdag die ekonomiese impak van die wetsontwerp oor die ekonomiese regulering van vervoer met die parlement se portefeuljekomitee oor vervoer bespreek.

Die wetsontwerp maak voorsiening vir ’n enkele vervoerreguleerder as ’n onafhanklike staatsentiteit. Dit sal ’n direksie van tot vyf deeltydse en onafhanklike direkteure hê om toesig oor sy werk te hou, asook ’n reguleringsraad wat as ’n soort onafhanklike tribunaal sal optree om klagtes, dispute en appèlle teen die reguleerder se besluite te hanteer. Die tribunaal sal vier tot sewe deeltydse lede hê.

Sikhudo verwag die reguleerder sal vir die lopende boekjaar ’n begroting van R99 miljoen benodig en vir die 2022-boekjaar R108 miljoen. Die funksies van ekonomiese regulering sal na verwagting sowat 54% van die begroting gebruik.

Studies van die departement het gewys die ekonomie kan voordele van R3,5 miljard uit die werk van die vervoerreguleerder verkry, in 2019-syfers vir die bruto binnelandse produk.

Vervoerkoste vir veral staatsondernemings kan met 5% daal as die reguleerder sy werk reg doen, sê Sikhudo.

Die laer vervoerkoste sal doeltreffendheid verbeter en belegging aanwakker.

Die bestaande ekonomiese reguleerders in die vervoersektor sluit in die Hawereguleerder van Suid-Afrika, die nasionale openbarevervoerreguleerder en die lugvaartdienstelisensiëringsraad. Die gemiddelde begroting vir al die bestaande vervoerreguleerders is sowat R277 miljoen per jaar, teenoor die beoogde koste van die nuwe reguleerder van byna R100 miljoen, wat ’n groot besparing sal wees.

Die Hawereguleerder sal aanvanklik as kern gebruik word om die nuwe reguleerder uit te bou. Oor ’n tydperk van drie tot vyf jaar sal die spoor-, lugverkeer- en ander bestaande vervoerreguleringsliggame stelselmatig by die nuwe entiteit geïntegreer word.

Aanvanklik sal die vestiging van die reguleerder die raad en ’n vervoer-ekonomiese raad R101,7 miljoen kos, wat styg tot R104,7 miljoen teen die derde jaar van die eerste fase.

In antwoord op vrae van parlementslede wou Sikhudo nie aspekte oor arbeidsverhoudinge en moontlike rasionalisering van poste bespreek nie. Volgens hom is daar nog nie ’n deeglike ontleding daaroor gedoen nie.

Entiteite wat sal saamsmelt tot een vervoerreguleerder

  • Hawereguleerder van Suid-Afrika (PRSA)
  • Oorgrenspadvervoeragentskap (C-BRTA)
  • Nasionale Openbarevervoerreguleerder (NPTR)
  • Lugdienstelisensiëringsraad (ASLC)
  • Internasionale Lugdiensteraad (IASC)
  • Tussentydse ekonomiese reguleerder vir spoorvervoer (IRERC)
  • Reguleringsraad (RC)
Meer oor:  Lugdienste  |  Hawens  |  Infrastruktuur  |  Regulering  |  Vervoer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.