Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Virus: Wêreld se ekonomie reeds erg koorsig

Die internasionale aankoopbestuurdersindeks (PMI) het in Februarie met die meeste geval sedert 2009, grootliks weens die impak van die koronavirus.

Virgin Atlantic
Die wêreldekonomie se dienstesektor kan veral kwaai getref word deur die impak van die koronavirus as daar 'n skerp afname is in reise, toerisme en ander ontspanningsbedrywighede. Foto: Virgin Atlantic

Chris Williamson, hoofekonoom van die internasionale konsultantgroep IHS Markit, het Vrydag in ’n aanbieding oor die PMI gewys dis veral internasionale vervaardiging- en dienstesektore wat die ergste getref word.

’n Skerp daling in reis, toerisme en ander ontspanningsbedrywighede hou veral ’n groot bedreiging vir dienstesektore in.

Die PMI is soos ’n koorspen wat wys hoe gesond en bedrywig enige ekonomie is.

Internasionale uitvoer in Februarie is 4% laer as ’n jaar gelede, en die PMI is op 46 indekspunte – die laagste vlak sedert 2009.

In ontwikkelde lande is die PMI die laagste sedert 2012, maar die PMI vir opkomende markte is op ’n rekordlaagtepunt, sê Williamson.

China is aan die voorpunt van die skerp val in die PMI, maar Indië is die enigste van die Brics-lande wat verrassend teen die tendens ingaan en wie se PMI in Februarie gestyg het.

Hongkong het sy laagste PMI-vlak ooit gehaal weens bestellings van produkte uit China wat baie skerp geval het.

Ander lande in Asië soos Suid-Korea en Taiwan wys ook skerp dalings.

Onder die vier groot wêreldekonomieë is Japan tot dusver die grootste slagoffer van die koronavirus se impak op China. Japan, wat op pad is na ’n resessie, het reeds gely onder die handelsoorlog tussen Amerika en China, en die koronavirus het sy situasie net vererger.

Brittanje hanteer op sy beurt die krisis meer veerkragtig en dié ekonomie geniet ’n herstel ná sy onlangse verkiesing. Kommer oor Brexit het getaan, hoewel Britse uitvoer steeds geraak word, volgens Williamson.

Die euro-sone het ook teen die internasionale tendens in ’n styging in sy PMI getoon, met die dienstesektor wat vir die grootste deel van die groei verantwoordelik is.

Die risiko vir resessies in Europese ekonomieë neem egter toe, veral in Italië waar die virus tot dusver die ergste impak het.

Williamson meen die volle impak van die virus word nog nie volledig in Februarie se PMI-syfers in Europa weerspieël nie.

Gebiede wat nog nie so erg geraak word
  • Die internasionale PMI wys Indië het in Februarie 'n styging getoon in sy PMI.
  • Brittanje toon ook veerkragtigheid danksy 'n herstelpoging na die onlangse verkiesing, en vrese oor Brexit wat taan.
  • Europa toon oor die algemeen ook 'n minder skerp daling in PMI, maar Italië sal waarskynlik nog swakker vaar.

Amerika het op sy beurt vir die eerste keer sedert 2013 ’n afname in sakebedrywighede getoon, soos blyk uit sy PMI-syfers. Verbruikersdienste word die ergste geraak deur die virus. Lugdienste en reisagente het reeds skerp afnames gesien in verkoopsvolumes.

Williamson verduidelik sowel die vraag- as aanbodkant van die wêreldekonomie word reeds deur die uitbreking van die virussiekte geraak.

Weens die vertragingseffek van afleweringstye is ’n deel van die impak van die virus nog nie in Februarie so omvattend in die PMI uitgebeeld nie.

Die tekort aan vervaardigingsgoedere is die tweede hoogste sedert 2004, agterstande in bestelboeke neem toe, maar die invloei van nuwe bestellings het ook gedaal.

Die grootste agterstande in bestelboeke is in China, wat impliseer dat groei wel nog later uit dié land kan kom

Die onsekerheid in die sakesektor oor die potensiële impak van die virus veroorsaak dat maatskappye hul beleggingsbesteding uitstel of enige nuwe beleggings terughou.

Internasionaal is die grootste daling in die PMI in verbruikersdienste en basiese roumateriale. In Asië is die daling in verbruikersdienste skerp, maar veral ook in die motorbedryf en vir motoronderdele.

Meer oor:  Koronavirus  |  Wêreldekonomie  |  Pmi  |  Covid-19  |  Aankopebestuurdersindeks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.