Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Vlak 1: 10 dinge wat jy moet weet

Pres. Cyril Ramaphosa het Woensdagaand aangekondig dat Suid-Afrika Maandag na vlak 1 van die staat van inperking beweeg. Dit kom ses maande nadat ’n ramptoestand vir die Covid-19-pandemie op 15 Maart afgekondig is. Hier is tien dinge wat jy moet weet.

      

1. Vlak 1 tree Maandag in werking

Drankverkope op Vrydae is binnekort wettig. Foto: Jaco Marais

Vlak 1 van die staat van inperking tree om middernag op Sondag 20 September – dus effektiewelik Maandag 21 September – in werking.

    

2. Meer mense mag nou byeenkom

Groter sosiale, godsdiens- en ander byeenkomste mag gehou word, maar tot ’n maksimum van 50% van die normale vermoë van enige lokaal. Daar is ook ’n maksimum van 250 mense wat ’n binnenshuise gebeurtenis mag bywoon en 500 mense wat ’n buitelug-gebeurtenis mag bywoon. Dit beteken konferensies sal ook nou weer gehou kan word.

Die maksimum mense wat begrafnisse mag bywoon, word van 50 tot 100 mense verhoog en nagwake mag steeds nie gehou word nie. Die strenger perk op begrafnisse is omdat daar ’n groter risiko van oordrag van die siekte is.

  

3. Gimnasiums, teaters mag nou 50% vol wees

Alle vermaaklikheidsplekke mag nou 50% van die normale vermoë van ’n lokaal volmaak, gegrond op die vloerruimte van die lokaal. Virgin Active het reeds verlede week hiermee begin en Nu Metro het die hoop uitgespreek dat dit op vlak 1 gemagtig sal word.

  

4. Verbod op sportgeleenthede bly in plek

Daar is steeds ’n verbod op sportgeleenthede.

  

5. Internasionale reise word vanaf 1 Oktober toegelaat

Internasionale reise in en uit die land, vir sowel sake as ontspanning, word vanaf 1 Oktober toegelaat.

Daar sal egter ’n lys wees van lande van waar mense toegelaat sal word, gegrond op die nuutste Covid-19-statistieke.

Internasionale toeriste sal die land slegs vanaf drie lughawens mag inkom: King Shaka in Durban, OR Tambo in Kempton Park, en Kaapstad Internasionaal. Mense wat per pad die land inkom, mag slegs die grensposte gebruik wat tans oop is.

Reisigers sal onderwerp word aan Covid-19-toetse tensy hulle kan bewys dat hulle minder as 72 uur vanaf hul vertrektyd getoets is. As hulle nie ’n toets kan toon nie, moet hulle in kwarantyn bly terwyl hulle vir ’n toetsuitslag wag. As hulle simptome toon, word hulle in elk geval weer getoets en moet hulle in kwarantyn bly totdat hul uitslag ontvang is.

Reisigers moet self vir hul verblyf tydens kwarantyn betaal.

Alle internasionale reisigers sal die Covid Alert SA-app moet aflaai.

  

6 . Aandklokreël verslap

Die aandklokreël word verslap. Mense sal nou tot middernag kan uitbly. Die aandklokreël geld dus van 00:00 tot 04:00, teenoor die 22:00 tot 04:00 tans.

  

7. Alkohol nou ook op Vrydae verkoop

Alkohol sal nou Maandae tot Vrydae van 09:00 tot 17:00 by winkels verkoop mag word. Dis een dag langer as tans. Verkope sal steeds nie oor naweke mag plaasvind nie.

Restaurante, kroeë en ander gelisensieerde plekke mag alkohol bedien solank die aandklokreël gerespekteer word.

  

8. Gebruik van Covid Alert-app aangemoedig

Daar is nou weer meer vermoë om kontakte na te spoor van mense wat positief getoets het vir die virus wat Covid-19 veroorsaak.

Die regering versoek mense om die app Covid Alert SA van Google Play- en Apple-winkels af te laai. Die app word afgelaai sonder dat dit enige data opgebruik.

Die app stel jou in kennis as jy kontak gehad het met iemand wat die afgelope 14 dae met Covid-19 gediagnoseer is.

Die app verskaf geen persoonlike inligting oor mense wat positief getoets het nie.

LEES OOK: Staat se ‘dophou’-app aktief – dis wat jy moet weet

  

9. Toetse uitgebrei

Die staat het nou die vermoë om meer mense vir die virussiekte te toets. Dit sluit in almal wat in staatshospitale opgeneem word, almal wat as buitepasiënte simptome toon, en almal wat noue kontak gehad het met mense wat positief getoets het.

Toetse is tydens die piek van die pandemie beperk tot mense ouer as 55 jaar of wat onderliggende gesondheidsprobleme het.

Ramaphosa het ook aangekondig ’n groot studie word begin om die werklike voorkoms van die siekte in die land te bepaal. Mense gaan vir teenliggaampies van die virus wat Covid-19 veroorsaak, getoets word.

  

10. Maskers bly verpligtend

Die dra van maskers in die openbaar bly verpligtend. Mense moet ook steeds sosiale distansiëring toepas en hul hande gereeld ontsmet.

Meer oor:  Staat Van Inperking  |  Koronavirus  |  Vlak 1  |  Inperking  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.