Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Vlak 1: 7 dinge wat jy dalk nié geweet het nie

Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, het Vrydag die regulasies vir vlak 1, wat Maandag in werking tree, bekend gemaak. Dit bevat besonderhede oor dinge waarna pres. Cyril Ramaphosa Woensdagaand verwys het en antwoord ook ’n paar vrae waaroor daar onsekerheid was. Hier is wat nou bekend is – en dít wat steeds in die lug hang.

  

1. Nagklubs bly toe, maar konserte en partytjies mag gehou word

Jy mag gaan uiteet, jy mag na ’n kroeg of sjebien gaan en jy mag ’n konferensie, musiekkonsert of groot partytjie bywoon. Jy mag ook politieke byeenkomste, kerkdienste en veilings bywoon.

As jy hard oefen, hoef jy nie ’n masker te dra nie.

Maar nagklubs word eksplisiet uitgesonder as ondernemings wat nié mag sake doen nie.

Vir alle ander byeenkomste geld die reël dat net 50% van ’n lokaal se kapasiteit benut mag word, tot ’n maksimum van 250 mense in ’n gebou en 500 mense buite.

Begrafnisse word tot 100 mense beperk.

Plekke soos gimnasiums, casino’s en fliek- en ander teaters mag tot 50% van hul kapasiteit vol wees.

Alle byeenkomste moet met maskers bygewoon word en met die handhawing van gesonde afstande.

2. Sportwedstryde mag steeds geen toeskouers hê

Soos op vlak 3, mag sportwedstryde plaasvind. Benewens die spelers en skeidsregters mag joernaliste en radio- en televisiespanne, mediese en veiligheidspersoneel dit bywoon.

Internasionale sportwedstryde word steeds verbied, selfs al is internasionale reis nou oopgestel.

3. Afrika is welkom, oor die res weet ons nie

Volgens die regulasies sal buitelandse besoekers van alle lande in Afrika in Suid-Afrika toegelaat word wanneer die land sy grense op 1 Oktober oopgooi.

Wat ander lande betref, skryf die regulasies bloot voor dat mense van lande met lae infeksie- en oordragkoerse van die koronavirus toegelaat sal word.

Die kriteria hiervoor moet nog opgestel word en die lys van toeriste wat in Oktober toegelaat (of verbied) sal word, sal later gepubliseer word. Dit sal ook van tyd tot tyd aangepas word.

Die regulasies bepaal dat sakereisigers van alle lande toegelaat sal word, mits hulle getoets is vir Covid-19.

Internasionale toeriste sal die land slegs deur die 18 landgrensposte wat tans oop is, mag binnekom, of deur drie lughawens: King Shaka in Durban, O.R. Tambo in Kempton Park en Kaapstad Internasionaal.

Passasierskepe sal steeds nie toegelaat word om by Suid-Afrikaanse hawens vas te meer nie.

Reisigers sal onderwerp word aan Covid-19-toetse tensy hulle kan bewys dat hulle minder as 72 uur voor hul vertrektyd getoets is. As hulle dit nie kan toon nie, moet hulle in kwarantyn bly terwyl hulle op ’n toetsuitslag wag. As hulle simptome toon, word hulle in elk geval weer getoets en moet hulle in kwarantyn bly totdat hul uitslag ontvang is.

Reisigers moet self vir hul verblyf tydens kwarantyn betaal.

Alle internasionale reisigers sal die Covid Alert SA-app moet aflaai.

4. Vergaderings mag by die werk gehou word

Die regulasies maak dit duidelik dat mense by hul werk mag vergader.

5. Aspoestertjie-reël ingestel

Net ’n herinnering: Die aandklokreël word verslap en mense sal nou tot middernag mag uitbly. Die aandklokreël geld dus van 00:00 tot 04:00, teenoor die huidige 22:00 tot 04:00.

6. Alkohol nou ook op Vrydae verkoop

Alkohol sal nou Maandae tot Vrydae van 09:00 tot 17:00 by winkels verkoop mag word. Dis een dag langer as tans. Verkope sal steeds nie oor naweke mag plaasvind nie, ook nie by wynkelders nie.

Restaurante, kroeë en ander gelisensieerde plekke mag alkohol bedien solank die aandklokreël gerespekteer word.

7. Sweet maar sonder masker

Die dra van maskers in die openbaar bly verpligtend. Die uitsondering bly geld dat jy nie ’n masker hoef te dra as jy strawwe oefening doen nie.

Meer oor:  Staat Van Inperking  |  Koronavirus  |  Vlak 1  |  Inperking  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.