Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Vlak 1 nodige hupstoot vir ekonomie in desperate tye

Hoe langer Suid-Afrika op vlak 1 van die staat van inperking verkeer, hoe meer realisties word die haal van ekonomiese groeiteikens, al lyk die wysigings aan regulasies maar klein.

Prof. Jannie Rossouw, hoof van die Universiteit van die Witwatersrand se skool vir ekonomiese en sakewetenskappe.

Pres. Cyril Ramaphosa het Sondagaand aangekondig dat die land na vlak 1 van die staat van inperking beweeg.

Suid-Afrikaners kan nou baie meer vryheid geniet met onder meer die verslapping van die aandklokreël en die verkoop van drank.

Maar wat beteken dit nou eintlik vir die ekonomie? Kan sulke klein veranderinge noemenswaardige verskille aan die ekonomiese vooruitsig van die land maak?

Die kort antwoord is: Ja.

Prof. Jannie Rossouw, hoof van die Skool vir Ekonomie en Sakewetenskappe aan die Universiteit van die Witwatersrand, sê die domino-effek van verslapte regulasies is noemenswaardig op die ekonomie, en die tye het so desperaat geword dat enige hulp nou verwelkom behoort te word.

“Die toestand van die ekonomie is so desperaat dat enige hupstoot noemenswaardig is,” sê Rossouw.

“Ons móét iets doen om die ekonomie weer aan die gang te kry.”

Met werkloosheidsyfers op ’n rekordhoogtepunt, ekonomiese groei op ’n ongekende laagtepunt en verbruikersvertroue in duie, is enige momentum wat die ekonomie kan kry, noodsaaklik.

En selfs die relatief klein wysigings aan die inperkingsmaatreëls sal ’n beduidende verskil maak.

Volgens Rossouw is ’n groot deel van die hupstoot aan die ekonomie die verandering in gemoed wat dit meebring.

As mense voel die pandemie is onder beheer, dan gaan hulle meer uit, hulle bestee meer geld en hulle is ekonomies meer aktief.

Al hierdie veranderinge aan gedrag tel op om ’n groot verskil te maak aan verbruikersbesteding.

mike schussler,ekonoom
Die ekonoom Mike Schüssler.

Mike Schüssler, hoofekonoom van Economists.co.za, stem saam.

Hy sê vir die eerste keer in maande mag sy ma, wat in ’n ouetehuis woon, weer uitgaan om self te gaan inkopies doen. “Jy weet, dit maak ’n verskil.”

Van net noodsaaklikhede bestel, tot vrylik inkopies doen, beteken mense soos Schüssler se ma dra meer by tot die ekonomie, hoofsaaklik omdat hulle veiliger voel noudat die tweede vlaag geklop is.

Rossouw sê die sentiment van verbruikers kort net die aankondiging van vlak 1 van die inperking om noemenswaardig te herstel.

“Dit normaliseer weer normale ekonomiese gedrag,” sê Schüssler.

En die domino-effek is noemenswaardig. As mense vry voel om weer buite te verkeer, koop hulle meer brandstof, hulle betaal tolgelde, hulle koop versnaperings langs die pad en bestee geld waar hulle aankom.

Dit vereis dat meer goedere verkry moet word deur kleinhandelaars, wat vervoer ’n hupstoot gee, indiensneming laat toeneem en dus die hele waardeketting weer aan die gang kry.

Die toestand van die ekonomie is so desperaat dat enige hupstoot noemenswaardig is.
prof. Jannie Rossouw van die Universiteit van die Witwatersrand

Klein veranderinge maak ’n groot verskil aan die ekonomie.

Rossouw sê dit is ook welkom dat die regering nou mense soos volwassenes hanteer.

Daar is weggedoen met beperkings op watter kledingstukke gekoop kan word op watter tye, en ander sulke “nonsens”, sê Rossouw.

Volwassenes is ekonomies aktief – kinders nie.

Solank die regering die bevolking toelaat om soos volwassenes te wees, sal daar ekonomiese herstel plaasvind.

"Dit plaas wel ’n groot verantwoordelikheid op ons."

Volgens Rossouw is die onus nou op Suid-Afrikaners om versigtig te wees sodat die ekonomie kan aanhou funksioneer.

“As ons nie verantwoordelik optree nie, sal die regering dienooreenkomstig weer moet toeslaan met harde inperkings.”

"Waar ons misluk, sal die regering moet intree – en dit beteken ’n terugkeer na vlak 3 van die inperking, en selfs dalk strenger vlakke," meen Rossouw.

Die toekoms van die ekonomie is nou in Suid-Afrikaners se hande, sê hy.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.