Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Vlak 3 of te nie, ekonomie kan met tot 22% krimp
Richard Downing, onafhanklike ekonoom en handelskenner

Die skuif van vlak 4 na vlak 3 van inperking gaan nie ’n towerstaffie wees wat skielik die land se ekonomie weer aan die gang gaan kry nie.

Inteendeel, die twee maande van streng inperking weens die Covid-19-pandemie kan beteken dat die ekonomie in die tweede kwartaal van 2020 met tot 22% kan inkrimp.

Richard Downing, ekonoom by Econodow, verwag dié enorme inkrimping. Hy meen nadat vlak 3 in werking tree, gaan ekonomiese bedrywighede net tot sowat 65% herstel van wat dit vóór die inperking was.

“Gesondheidsregulasies wat by die werkplek gaan verhoed dat die volle kapasiteit bereik word, kontantvloei wat oor minstens drie maande weer opgebou gaan moet word, en sekere dienste wat steeds verbied word,” is van die redes wat Downing gee hoekom hy dié groot inkrimping verwag.

Hy sê daar is ook verdere kommer dat daar weer na hoër vlakke van inperking teruggekeer kan word.

Downing sê hy verwag die land se ekonomie gaan op ’n jaargrondslag in 2020 met sowat 10% inkrimp weens die Covid-19-pandemie.

Downing was een van 11 ekonome wat aan Netwerk24 se meningspeiling deelgeneem het oor wat ’n daling na vlak 3 van inperking vir die ekonomie kan beteken.

Pres. Cyril Ramaphosa het Sondagaand bevestig dat die hele land van Maandag 1 Junie af na vlak 3 van inperking afskuif. Hy het toe reeds die basiese buitelyne verskaf oor watter sektore weer met bedrywighede kan begin en watter nie.

Van die groot sektore wat weer aan die gang kan kom, sluit onder meer konstruksie in.

Sektore soos toerisme en private dienste, wat byvoorbeeld haarkappers insluit, bly egter gesluit.

Lang herstel

Dawie Roodt, ekonoom by die Efficient-groep, stem saam met Downing dat daar onder vlak 3 “wel ’n mate van herstel gaan wees, maar dat ekonomiese aktiwiteit baie ver van ‘normaal’ gaan wees.

Dawie RoodtFoto: Verskaf

“Dit gaan ons baie jare neem om na die vorige vlak van produksie terug te keer,” waarsku hy.

Hy waarsku ook dat die ekonomie ’n enorme terugslag gedurende die tweede kwartaal van die jaar ervaar het.

“Produksie gedurende die eerste kwartaal is seker so tussen 20% en 30% onder die tendenslyn,” sê hy.

Prof. Danie Meyer, navorsingsdirekteur van die departement van handel aan die Noordwes-Universiteit, sê die land se ekonomie is reeds “verby resessie en bevind hom in ’n depressie.

“Vlak 3 sal help en 80% van ondernemings sal aan die gang kan kom, maar nie op volle kapasiteit nie.

Die ekonomie sal op net twee van sy vier silinders loop, dus so 50%-kapasiteit. Dis nie genoeg om groei te lewer nie.”

Oor die invloed van die staat van inperking op die ekonomie, sê hy dit is “verwoestend”.

“Ek sal verbaas wees as groot en klein besighede dit oorleef. Lugrederye, hotelgroepe, restaurante, gimnasiums en ondernemings in die skoonheidsbedryf is onder groot druk. Minder as 50% van dié maatskappye het die reserwes om te oorleef.”

Ulrich Joubert, ’n onafhanklike ekonoom, sê hy verwag groei gaan stadig bly deels omdat “verbruikers sekerlik nog versigtig gaan wees om oorhaastig inkopies in winkelsentrums te gaan doen.

“Terselfdertyd moet aanvaar word dat baie verbruikers tans in ’n aansienlik swakker finansiële posisie is as voordat die inperkings einde Maart begin het.

Omvang van skade

Joubert sê dit is tans haas onmoontlik om die omvang van die skade aan die ekonomie te bereken.

“Indien die ekonomie egter nie weer verder ingeperk gaan word nie, kan dit meebring dat in plaas van ’n negatiewe groeikoers van 12% of 16%, die ekonomie net met 10% sal krimp in 2020,” voorspel hy.

Prof. Jannie Rossouw, waarnemende hoof van die Universiteit van die Witwatersrand se bestuurskool, sê ook dat dit moeilik is om nou reeds akkurate voorspellings te doen oor die invloed van die staat van inperking op die ekonomie.

“Die tussentydse begroting wat op 24 Junie verwag word, sal ’n eerste aanduiding gee van die volle omvang van die skade aan die ekonomie,” meen hy.

Hoop

Alles is egter nie verlore nie.

Prof. Carel van AardtFoto: Verskaf

Prof. Carel van Aardt van Unisa se buro vir marknavorsing sê “persoonlik dink ek nie dat daar iets bestaan soos ’n onredbare ekonomie nie.

“Talle ekonomieë wêreldwyd het al baie slegte tye beleef en het baie keer selfs sterker teruggekom.

“Die virus en die gepaardgaande inperking het ’n baie groot negatiewe impak op ekonomiese groei. Daarmee kan niemand stry nie,” sê hy.

“Ons moet egter onthou dat dit nie net die virus en inperking was wat die situasie geskep het waarin die land hom nou bevind nie. Daar was lae ekonomiese en werkskeppingsgroei reeds die afgelope paar jaar, bestaande hoë vlakke van sake- en verbruikerskwesbaarheid, die kredietgradeerder Moody’s Investors Service se afgradering, en vele ander gebeure.

“Gegewe dié, is ek van mening dat die mate van ekonomiese herstel bepaal gaan word deur die mate waartoe die ekonomie ná die inperking anders, en meer gegrond op bewyse, bestuur gaan word.

“Indien die president ernstig is dat daar ’n ‘nuwe ekonomie’ ná die inperking ‘geskep’ gaan word, wat op suiwer ekonomiese oorwegings gegrond gaan word, dan kan die ekonomie uiteindelik ontsnap uit die stagnasie van die afgelope paar jaar,” voorspel Van Aardt.

Fanie Brink, ’n onafhanklike ekonoom, stem saam met Van Aardt dat daar nog hoop is vir die ekonomie.

“Die ekonomie het nou ’n kans om te kan herstel omdat die regering hopelik uiteindelik gedwing is om tot die besef te kom dat soveel as moontlik van die individuele bedrywe aan die aanbodkant van die ekonomie weer so spoedig moontlik in produksie moet kom om hul winsgewendheid te herstel ten einde weer ’n aanvaarbare bydrae tot ekonomiese groei te kan lewer.

“Die vraagkant van die ekonomie sal ook moet herstel en dit sal meer werksgeleenthede, die herstel van salarisse en lone tot die vorige vlakke en minder belasting vereis ten einde die verbruikers se besteebare inkomste te verbeter.”

Hy sê die groot voorvereiste is “die regering sal die ekonomiese omgewing daarvoor moet skep om dit moontlik te maak deur tot die besef te kom dat sy politieke doelwitte nie bereik sal word as die ekonomie nie groei nie, en dat sy ideologie nie daartoe in staat is om die nodige inkomste vir die regering te genereer nie.”

Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  Fanie Brink  |  Dawie Roodt  |  Depressie  |  Vlak 3  |  Ekonomiese Groei  |  Resessie  |  Ekonome
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.