Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Vlak 4: Ja vir stap, wéér nee vir rook, en nog reëls

Die besonderhede van hoe vlak 4 van die inperking lyk, is pas bekend gemaak. Hier is die hoogte- en laagtepunte. Vlak 4 tree op Vrydag 1 Mei in werking.

  

1. Ja, jy mág met Wagter gaan stap!

Wagter, jou inperking is verby!

Jy mag stap, hardloop en fietsry binne ’n radius van 5 km van jou huis. Jy mag dit slegs tussen 06:00 en 09:00 in die oggend doen. Dit mag nie georganiseerde sport wees of in georganiseerde groepe wees nie. Dis aan Netwerk24 bevestig dat jy jou hond mag saamneem as jy gaan oefen.

Mense wat in dié tye reeds werk, moet oefen op dae wat hulle kan of wag vir laer vlakke van inperking, het Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, later in antwoord op ’n vraag gesê. Daar is geen uitsonderings vir noodsaaklike werkers nie.

2. Verbod op sigarette bly van krag

Die regering het ’n ommekeer gemaak en besluit die verkoop van sigarette, e-sigarette en enige tabakprodukte word steeds nie toegelaat onder vlak 4 nie. Redes wat aangevoer word, sluit in dat dit mense se longe verswak, asook dat dit sosiale distansiëring teenwerk.

3. Selfdoenwinkels sal oopmaak vir almal

Ysterware en selfdoenprodukte, wat tans net verkoop mag word aan mense soos loodgieters en elektrisiëns, sal nou ook aan lede van die publiek verkoop word. Tyd om daardie selfdoenprojekte te begin!

4. Alkohol mag steeds nie verkoop word nie

Foto ter illustrasie: Gallo Images/Getty Images
Kroeë en sjebiens bly toe. Foto: Getty Images

Die verbod op die verkoop van alkohol bly in werking. Mense wat hul eie alkohol vervaardig, mag dit doen, maar mag dit nie weggee of verkoop nie.

5. Jy moet saans tuis wees

Ingevolge ’n aandklokreël mag slegs mense met ’n permit ná 20:00 of voor 05:00 buite hul huis wees.

6. Begrafnisse bly beperk

Jy moet toestemming by die polisiekantoor kry om ’n begrafnis by te woon en slegs nabye familielede mag ’n begrafnis bywoon. Jy moet ’n doodsertifikaat by jou hê as jy na ’n begrafnis gaan.

7. Eenmalige reis tussen provinsies toegelaat

Mense mag eenmalig beweeg van die provinsie waar hulle tans is, na hul huis of die provinsie waarin hulle werk. Dis om voorsiening te maak vir mense wat voor die inperking huis toe gegaan het of by familielede gaan bly het, maar wat wil terugkeer na die provinsie waar hulle werk of na hul eie huis. Dis ’n eenmalige beweging - mense mag nie naweke heen en weer beweeg nie. Besonderhede is nie uitgelig oor wanneer dié beweging mag gebeur nie. Meer inligting sal gegee word sodra dit bekend is.

8. Suid-Afrikaners mag terugkeer van oorsee

Mense wat oorsee was, mag nou terugkom. Hulle moet egter 14 dae lank in kwarantyn bly.

9. Geen besoeke aan familielede en vriende

Sosiale besoeke is steeds verbode.

10. Geen uitsettings, maar regering maan teen besetting

Die regering sal optree as mense eiendom onwettig beset. Huurders mag egter nie uitgesit word nie, selfs al betaal hulle nie hul huur nie.

11. Alle landbouprodukte mag uitgevoer word

Dit sluit wyn, wol en alle ander landbouprodukte in.

12. Strande, parke bly toe

Enige plek waar mense saamkom, soos strande, parke, casino’s, teaters, fliekteaters en so meer bly toe.

13. Haarkappers en skoonheidsalonne bly toe

haarsny
Haarkappers mag eers weer op vlak 1 van die inperking werk, volgens huidige voorstelle. Foto: Pixabay

Dis omdat sosiale distansiëring onmoontlik is weens persoonlike aanraking wat deel uitmaak van dié beroepe. Produkte vir naelsorg sal wel verkoop mag word sodat mense darem hul eie naels kan versorg.

14. Winterklere, lap, komberse en verwarmers mag verkoop word

Soos voorheen genoem, word dié verkope voortaan toegelaat. Lapwinkels sal ook mag oopmaak omdat mense gesigmaskers wil maak.

15. Kitskos vir aflewering oop

Ja vir kitskos! Maar net as jy dit laat aflewer.

Die ure wat kitskos vir aflewering gemaak mag word, is verkort van 09:00 tot 19:00 (Saterdag is gesê tot 20:00). Kitskos en warm etes mag slegs afgelewer word, nie by restaurante gaan koop word nie. Restaurante mag steeds nie oop wees vir aansitetes nie.

16. Net dié huiswerkers mag werk

Huiswerkers wat bejaardes, kinders, siekes, fisiek en verstandelik gestremdes versorg, mag werk, soos tans. Verder mag inslaap-huiswerkers ook werk. Daar is Saterdag gesê die huiswerkers van mense wat onder vlak 4 mag werk, mag ook werk. Dié voorstel is toe nié in die finale regulasies ingesluit nie.

17. Motorverkope open geleidelik

Motorhandelaars sal wel in vlak 4 toegelaat word om geleidelik hul deure te open.

Meer oor:  Staat Van Inperking  |  Ekonomie  |  Maatskappye  |  Kleinhandel  |  Koronavirus  |  Huiswerkers  |  Klerekleinhandel  |  Winkels  |  Vlak 4  |  Inperking  |  Sigarette  |  Winkelsentrums  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.