Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Voer plan dié keer uit, vra sakelui
’n Vroeër foto van die bouperseel by die Medupi-kragstasie by Lephalale. Die bou van die steenkoolkragstasies Medupi en Kusile word met skuld gefinansier .

Ekonome en sakelui het pres. Cyril Ramaphosa se stimuluspakket verwelkom, maar hulle waarsku strukturele probleme en swak uitvoering kan die plan kelder.

Die ekonomiese plan behels onder meer die hertoewysing van R50 miljard van die nasionale begroting, die instelling van ’n nuwe infrastruktuurfonds en ander maatreëls om ’n ekonomie te laat herleef wat volgens die Reserwebank in 2018 met net 0,7% sal groei.

Die CEO Initiative – wat van Suid-Afrika se voorste sakeleiers insluit – het sy steun aan die plan toegesê en gesê dit kan die ekonomie laat herleef en ’n meer beleggersvriendelike omgewing skep.

“As dit met dringendheid ingestel word, glo ons die veranderings sal ons help om ons gesamentlike doelwit van volhoubare en inklusiewe groei te bereik.”

Jabu Mabuza, die mede-sameroeper van die CEO Initiative, sê die plan demonstreer die politieke wil om tasbare hervormings te doen wat die ekonomie optimaal te laat presteer.

“Ons is veral bemoedig deur die onderneming wat die president en die minister van finansies gegee het dat die stimulus deur die hertoewysing van bestaande geld gefinansier word of deur vennootskappe te sluit eerder as om staatskuld te verhoog.”

Die groep sê egter ook dat hy in gesprekke met die regering en georganiseerde arbeid verskeie gebiede geïdentifiseer het waar strukturele hervorming moet plaasvind.

“In dié verband is ons verheug oor die verslapping van ons visumvereistes, die sekerheid wat aan die mynbousektor verleen word, die waarde wat in die telekommunikasiesektor ontsluit word en die voorneme om die koste van sake doen te verlaag.”

Hy sê hoewel daar nog baie uitdagings is, sal dié maatreëls baie help om die ekonomie meer mededingend te maak vergeleke met die ander ontluikende markte.

Die CEO Initiative steun ook die hertoewysing van besteding aan die landbou en die landelike ekonomie en sê dit kan werkloosheid verminder.

“Ons verwelkom ook die aanstelling van ’n raadgewende paneel om die regering te help om billike grondhervorming toe te pas en sekerheid aan landsburgers en beleggers oor die beskerming van grondwetlike regte te gee.”

Hy sê die land se uitdagings kan nie net deur een party alleen oorkom word nie en die sakesektor sal aanhou om sy hulp aan te bied om die ekonomie te herbou.

Kevin Lings

Volgens Kevin Lings, hoofekonoom van Stanlib, oorweeg die sakesektor nie net die aankondiging oor infrastruktuur op sy eie meriete nie, maar kyk hy ook wat alles sal verander as die projekte in werking gestel word en tot watter mate daar sentrale oorsig oor die projekte is.

“Ons wil ook weet of daar voldoende vaardighede is om dit uit te voer en of ons die vaardighede van die private sektor ook gaan gebruik om seker te maak die projekte begin betyds en word binne ’n redelike tydsraamwerk voltooi.”

Hy gee toe dis wêreldwyd ’n probleem om te verseker dat infrastruktuurprojekte betyds voltooi word.

“Die mate waartoe ons in die verlede nie daartoe in staat was om infrastruktuurplanne toe te pas nie, het ons egter baie teruggehou.”

Hy sê Suid-Afrika het in 2008, toe die balansstaat baie sterk was, die geleentheid gehad om sy infrastruktuur te verbeter, en dit is ook as ’n prioriteit geïdentifiseer.

“Ongelukkig kon ons verskeie projekte wat aangekondig is nie in werking stel nie terwyl ander deur onder meer korrupsie gekaap is.”

Prof. Raymond Parsons, ’n ekonoom verbonde aan die Noordwes-Universiteit se sakeskool, sê ook die ekonomie het die afgelope dekade baie veld verloor en ondoeltreffend geword.

“Dit sal tyd neem om die ekonomie uit dié laegroei-wip (low-growth trap) te kry en die samewerking van sleutelspelers soos die sakesektor en arbeid word benodig.”

Hy sê die stimuluspakket kan baie help om die situasie om te draai, maar dan moet die ekonomiese pad vorentoe inklusief wees en deur beleidsekerheid gekenmerk word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.