Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Moody’s gradeer SA af - en Tito Mboweni is bang

Moody’s Investors Service het Suid-Afrika ná drie jaar van begenadiging eindelik tot rommelstatus afgegradeer.

Dit kon nie op ’n slegter tyd gekom het nie, het die tesourie net ná die aankondiging in ’n verklaring gesê.

Tito Mboweni, minister van finansies, is bekommerd oor die afgradering deur Moody’s.

“Hoewel sommige markdeelnemers redeneer dat die impak van ’n soewereine afgradering reeds ingeprys is, is dit moeilik om met sekerheid te sê in watter mate,” sê Tito Mboweni, minister van finansies, luidens die verklaring.

“Daarom, om te sê ons is nie bekommerd en bewe in ons stewels oor wat oor die volgende paar weke en maande kan gebeur nie, sou ’n fout wees.”

Hoewel talle ekonome gehoop het die vonnis sal tot November opgeskort word weens die ontwrigting wat die Covid-19-pandemie veroorsaak, het Moody’s juis gesê die virus “sal Suid-Afrika se ekonomiese en fiskale uitdagings vererger”.

Die belangrikste rede vir die afgradering is egter die voortslepende agteruitgang in die land se geldsake, tesame met baie swak ekonomiese groei. Moody’s dink nie die regering se huidige beleid gaan die probleme oplos nie.

Moody’s se besluit kom drie jaar nadat Standard & Poor’s Global Ratings (S&P) en Fitch Ratings Suid-Afrika in April 2017 tot rommelstatus afgegradeer het.

Die besluit beteken die land is nou op volslae rommelstatus.

Moody’s het sowel staatskuld in rand as in buitelandse geldeenhede met een vlak tot Ba1 afgegradeer.

Die vooruitsig vir die gradering, wat dikwels ná ’n afgradering van negatief tot stabiel verander word, is op negatief gehou. Dit beteken die risiko bly hoog dat Suid-Afrika in November wéér afgegradeer kan word.

“Die negatiewe vooruitsig weerspieël die risiko dat ekonomiese groei selfs swakker sal wees en die skuldlas selfs vinniger en meer sal styg as wat voorheen verwag is, wat die bekostigbaarheid van skuld, en potensieel toegang tot finansiering, kan knou,” skryf Moody’s.

Daarby bly staatsondernemings soos Eskom en die Suid-Afrikaanse Lugdiens, wat albei danksy staatswaarborge en hulppakkette oorleef, ’n enorme bron van kommer.

Tesourie se reaksie

“Suid-Afrika, soos baie ander lande, is vasgevang met die poging om die Covid-19-uitbreking in toom te hou,” luidens die tesourie se verklaring.

moodys
Moody’s se graderingsbesluit is slegte nuus vir Suid-Afrika. Foto: Getty Images

“Die impak van Covid-19 word oor verskeie sektore van die ekonomie gevoel, insluitend finansiële markte, wat ’n beduidende verkoop van aandele, effekte en wisselkoerse gesien het soos beleggers te midde van die onsekerheid na veiligehawe-sekuriteite onttrek het.

“Die soewereine afgradering sal die heersende stres in finansiële markte vererger.”

Mboweni sê sy hart is swaar omdat al drie groot kredietgradeerders die land nou op rommelstatus het.

“Elke krisis verteenwoordig egter ’n geleentheid. Die geleentheid wat ons vandag het, is om te verenig en saam te werk om ons uitdagings aan te pak. Ons as ’n nasie het al in die verlede onoorkomelike uitdagings oorwin en ons kan steeds oorwin.

“Ons sal opstaan. Ons móét opstaan. Ons is dit aan onsself verskuldig.”

Die tesourie sê vir eers veg Suid-Afrikaners onder die leierskap van pres. Cyril Ramaphosa saam om Covid-19 te beveg “om te verseker dat die land triomfantelik uit die pandemie kom”. Op kort tot mediumtermyn “bly die regering daartoe verbind om strukturele ekonomiese hervormings in werking te stel om die swak ekonomiese groei, beperkte fiskus en sukkelende staatsondernemings te hervorm.”

Nog reaksie

  • Dr. Thabi Leoka, ’n onafhanklike ekonoom, het getwiet “Yikes!” oor Moody’s se opmerking dat die staat se beleid te kort skiet.
  • Kevin Lings, hoofekonoom van Stanlib, sê dis ’n hartseer dag, gegewe dat Moody’s Suid-Afrika in 1994 op beleggingsgraad geplaas het.
  • Gina Schoeman, ekonoom van Citi Global Markets, sê die afgradering is ’n “gevaarlike koers” (slippery slope) en dat S&P se gradering in Mei nou deurslaggewend sal wees.

Wat gaan die impak wees?

Die afgradering beteken Suid-Afrika val in April uit die FTSE se indeks van staatseffekte, waardeur die land tussen $2 miljard en $12 miljard se beleggings kan verloor, volgens vorige ramings van ekonome. Dit beteken ook dat groot beleggers soos pensioenfondse staatseffekte moet verkoop omdat hulle nie mag belê in bates wat nie beleggingsgraad is nie. 

Dit kom terwyl banke reeds swaar trek weens die onttrekking van beleggers uit staatseffekte, wat die Reserwebank genoop het om te begin staatseffekte aankoop.

Buitelanders besit nagenoeg 37% oftewel R800 miljard van staatseffekte, volgens die tesourie.

Die uitvloei van kapitaal uit die land kan die rand laat verswak - hoewel daar vrae is of dit nou te midde van die koronakrisis sal gebeur - wat potensieel inflasie kan laat styg op ’n tydstip wat verbruikers reeds onder enorme druk verkeer. Die staat van inperking - wat inkopies vir enigiets behalwe kos, medisyne, lugtyd en enkele ander noodsaaklikhede verbied - kan egter prysstygings verhoed.

Veral ontluikende lande se geldeenhede is reeds teen die toue soos internasionale batebestuurders hulle na sogenaamde toevlugsoorde wend in die tyd van onsekerheid wat die Covid-19-pandemie skep. Die impak van Moody’s se besluit op die rand sal teen Maandag begin deursyfer.

Die tesourie sê as gevolg van die afgradering kan die rentekoers vir die regering, huishoudings en die breër ekonomie styg.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.