Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Vosloo in Australië oorlede

Dr. Ben Vosloo, voormalige Matie-professor en later besturende direkteur van die Kleinsake-ontwikkelingskorporasie (KSOK), is op 23 Maart in Wollongong, Australië, oorlede waar hy sedert 2002 gewoon het.

Vosloo was luidens ’n huldeblyk ’n vernuwende en onafhanklike denker wat onthou sal word vir sy bydrae tot staatkundige hervorming in Suid-Afrika, asook sy pioniersrol in die totstandkoming van die KSOK (vandag Business Partners).

Ben Vosloo

Beeld het hom in 1995 as een van Suid-Afrika se top-21-sakeleiers van die voorafgaande 21 jaar benoem. Sy alma mater, die Universiteit van Pretoria, het ook in 1995 ’n eredoktorsgraad aan hom toegeken.

Vosloo is op 4 November 1934 in Mtunzini, Natal, gebore. Hy het as plaasseun in die Zoeloeland-omgewing grootgeword en aan die Hoërskool Vryheid gematrikuleer.

Hierna het hy aan die Universiteit van Pretoria studeer, met politieke wetenskap en ekonomie as hoofvakke, en ’n BA- en MA-graad cum laude behaal.

Sy akademiese loopbaan het in 1957 begin met sy aanstelling as lektor in politieke wetenskap en openbare administrasie aan Unisa. Hy het met ’n beurs van die Institute for International Education (New York) aan die Cornell-Universiteit in die VSA studeer waar hy in 1965 ’n doktorsgraad behaal het.

Ná sy terugkeer is Vosloo in 1966 aangestel as die eerste departementshoof van die departemente politieke wetenskap en openbare administrasie van die Universiteit Stellenbosch. Hy is in 1968 op 34-jarige ouderdom as professor aangestel.

Onder sy naam het ’n 60-tal wetenskaplike publikasies verskyn. Hy was onder meer lid van twee rigtinggewende kommissies – die Erika The­ron- en die De Lange-kommissie.

In 1981 is Vosloo aangestel as besturende direkteur van die nuutgestigte KSOK, ’n inisiatief om ekonomiese ontwikkeling te stimuleer.

Onder sy leiding het die organisasie ’n toonaangewende rol gespeel om kleinsakeontwikkeling in Suid-Afrika te bevorder en die belang van dié sektor vir werkskepping en ekonomiese groei te beklemtoon.

Ter erkenning van sy bydrae tot kleinsakeontwikkeling het hy verskeie pryse ontvang, onder meer as bemarkingsman van die jaar (1986) en die instituut van bestuurskonsultante van Suider-Afrika se man van die jaar (1990). In 1993 het Business Times hom benoem as een van die topvyf-sakemanne.

Ná sy aftrede by die KSOK in 1995 was Vosloo ’n sake-konsultant en betrokke by uitvoer-bemarking na die VSA, Kanada en Asië.

Hy het in die kategorie “uitstaande talente” permanente verblyfstatus in Australië ontvang en uiteindelik in 2002 ’n Australiese burger geword.

’n Wye reeks artikels en publikasies oor ekonomiese en politieke tendense is op sy webwerf by benvosloo.com beskikbaar.

’n Gedenkdiens vir Vosloo word môre in Wollongong gehou.

Meer oor:  Australië  |  Professor  |  Direkteur  |  Oorlede
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.