Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
‘Vreeslose’ Suid-Afrikaners terug by hul werk

Suid-Afrikaners wat weer Maandag teruggekeer het na hul werk is nie meer bang vir Covid-19 nie, hulle is eerder opgewonde en gereed om weer te kan werk.

Selfs al is Suid-Afrika nog lank nie by die piek van sy Covid-19-infeksies nie, is meeste Suid-Afrikaners tog te bly om weer te kan werk. Foto: Getty Images

Nicola Wilson (27) sê sy voel veiliger by die skool waar sy werk as wat sy gevoel het by die supermarkte waar sy in die staat van inperking gaan inkopies doen het.

Wilson het Maandag vir die eerste keer in twee en ’n half maande terug gekeer na die Hoërskool Kurgersdorp waar sy ’n Engelsonderwyseres is.

“Die nuwe ‘hoe gaan dit?’ is ‘hoe gelukkig is jy om terug te wees by die werk?’,” sê Wilson.

Sy verduidelik dat solank mense die veiligheidsmaatreëls volg, voel sy veilig. En die skool neem veiligheid “baie ernstig”.

“Ek was paranoïes aan die begin van die inperking, maar my spanning het nou heelwat verbeter.”

Matrikulante keer nou eers aanstaande Maandag terug na die skool nadat die regering Sondagaand besluit het om die aanvanklike datum van 1 Junie met ’n week uit te skuif.

Wilson sê dit gee die skool darem tyd om gereed te maak.

“Dit sou chaos gewees het as die kinders al vandag terug gekom het,” sê sy.

Dis vreemd om weer met mense te kan praat, maar nie te kan wys jy glimlag nie. Ek probeer nou baie hard om met my oë te kommunikeer.
Wilson

Daar is talle veiligheidsmaatreëls nou getref, met spanne onderwysers wat oorgehaal sit om koors te meet, oppervlaktes te ontsmet en deurlopend kinders streng te monitor om sosiale distansiëring te handhaaf.

“Ek is opgewonde, ons is reg om te gaan,” sê Wilson.

“Hierdie is die veiligste plek om te wees, nie net vir ons as onderwysers nie, maar ook vir leerlinge wat andersins in kwesbare woongebiede sou wees met beperkte infrastruktuur om vir hulle te sorg.”

Maar vir Wilson is die vreemdste aspek van terug wees by die werk nie al die protokolle vir gesondheid nie, dit bly die onvermoë om met ’n glimlag met ander te kan kommunikeer.

“Dis vreemd om weer met mense te kan praat, maar nie te kan wys jy glimlag nie.

“Ek probeer nou baie hard om met my oë te kommunikeer, maar dis ’n fyn balans tussen wys jy glimlag met jou oë en lyk asof jy ’n allergiese reaksie het.”

Sheldon Payne (33), ’n verkoopbestuurder en ingenieur by Lighting Solutions, ’n filiaal van die Duitse groep Fagerhült International, wat beligting vir hoofsaaklik genoteerde eiendommaatskappye soos Growthpoint ontwerp en vervaardig, reken dis hoog tyd om terug te keer werk toe.

In Maart het die werknemers van Lighting Solutions nog hul volle salarisse ontvang, maar teen Mei het net diegene wat nog van die huis af op bestaande projekte kon werk die helfte van hul salarisse gekry.

Payne sê dit is die eerste keer dat eiendomsmaatskappye op hierdie skaal projekte kanselleer.

“Dis nie ’n goeie tyd om ’n ingenieur in die boubedryf te wees nie.”

Volgens Payne is 85% van Lighting Solutions se werk op nuwe geboue, en tydens die staat van inperking is daar bloot geen nuwe projekte nie.

“Ons kon nie geld maak nie.”

Selfs vir bestaande projekte wat miskien nog in die ontwerpfase was, kon Lighting Solutions nie kwitansies uitreik nie.

Maar Maandag is die meeste van die maatskappy se werkers amptelik terug aan die werk, al is meeste daarvan van die huis af.

Sy fabriek in Port Elizabeth is uiteindelik weer op dreef, en Payne sê daar is eintlik nou geleenthede vir maatskappye wat plaaslik vervaardig.

“Die beste tyd om kaptein te wees van ’n skip is in stormagtige waters.

“Die maatskappye wat nie plaaslik vervaardig het nie en nie op standaard was nie, gaan nou vou, en dit los vir ons meer werk, indien ons kan oorleef.”

Payne is vol vertroue oor die toekoms van sy maatskappy.

Sebastian Waters (27), ’n kandidaatargitek by Open City in Kaapstad, sê daar is niks om meer oor bekommerd te wees oor die koronavirussiekte nie.

Volgens Waters is hy nie meer senuagtig daaroor nie, en om by die werk te kan wees troef verreweg enige oorblywende kommer oor sy kanse om die virussiekte op te doen.

Hy is net bly om nie meer van die huis af te hoef te werk nie.

“Daar is net sekere goed wat ’n mens nie virtueel kan doen nie,” sê Waters.

Hy verkies dit om eerder op kantoor te wees.

Maar verder is dinge basies weer normaal by Open City.

“Behalwe vir die maskers en handreiniger orals en dat ons verder van mekaar af sit, is alles eintlik weer normaal.”

Wilson, Payne en Waters het elkeen tot dusver geld verdien.

Maar nie almal is so gelukkig nie.

Elouise Bloch (36) is een van die sowat 500 000 mense wat regstreeks en onregstreeks deur die restaurantbedryf in diens geneem word wat Maandag nou al meer as twee maande sonder werk sit.

Sy werk as ’n kelnerin by Ba-Pita, ’n Midde-Oosterse restaurant in Melville, Johannesburg, wat al twee weke voordat die staat van inperking op 27 Maart begin het sy deure as voorsorgmaatreël gesluit het.

“Dit kos ongeveer R15 000 per dag om die restaurant oop te hê,” sê Bloch. Dit het net nie finansieel sin gemaak om oop te bly as niemand die restaurant sou besoek nie.

Dis moeilik om hoopvol te bly. Wat as die virussiekte volgende jaar terugkom? Ek kan nie weer so sonder werk sit nie.
Bloch

Bloch lewe nou op minder as die helfte van haar gewone inkomste, maar het darem iets omdat Ba-Pita kelners as werknemers salarisse betaal het, wat hulle dus in aanmerking bring vir die Werkloosheidsversekeringsfonds (WVF) se Covid19Ters-skema-uitbetalings.

As dit nie was dat die verhuurder van haar klein woonstel haar 50%-afslag op haar huur gegee het nie, het sy sonder kos gesit, sê Bloch.

Soos dit nou staan moes sy reeds ’n lening aangaan by haar vriend om net kop bo water te hou.

“Ek wil net kan werk,” sê sy.

Die ergste vir haar is die onsekerheid oor wanneer die pandemie tot so ’n mate sal verbeter dat die regering haar weer sal toelaat om terug te keer werk toe.

Intussen is Bloch op haar eie. Sy sê daar is nie familie wat haar kan help nie, en sy weet nie wat om te doen nie.

“Dis moeilik om hoopvol te bly. Wat as die virussiekte volgende jaar terugkom? Ek kan nie weer so sonder werk sit nie.”

Sy kyk na haar foon en giggel – haar vriende is besig om resepte vir tuisgemaakte alkohol te deel.

Maar Bloch kan nie bekostig om drank te koop of selfs te maak nie.

Vir haar wag ’n koue, lang winter.

Meer oor:  Werk  |  Kelnerin  |  Arbeid  |  Werkers  |  Inperking  |  Covid-19  |  Onderwyser
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.