Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
‘Vrye arbeidsmark sal self vir beter lone sorg’

Suid-Afrika moet die Weste as voorbeeld van vooruitgang en voorspoed volg en nie soseer die “nuwe held” China, soos tans die geneigdheid is, nie, sê emeritusprofessor Brian Kantor, hoofbeleggingstrateeg en ekonoom by Investec Wealth and Investment.

China se ekonomiese sukses is gebou op sy vrye mark vir arbeid.

China is wel ’n ekonomiese suksesstorie, maar die land is geensins polities vry nie. Wat Suid-Afrika wel van China behoort te leer, is sy vrye mark vir arbeid waarop sy ekonomiese sukses gebou is.

“Hoewel lone laag was, was daar mededinging vir vaardighede, so lone het algaande gestyg. Suid-Afrika daarenteen glo glad nie aan ’n vrye arbeidsmark nie. Beleid is gerig op behoorlike werk (decent jobs), maar daar is nie baie mense wat daarvoor kwalifiseer nie.”

Kantor sê jy span die kar voor die perde as jy eers op behoorlike werk fokus. Eerstens moet daar mededinging vir arbeid wees. Dán volg meer werk en hoër lone.

Suid-Afrika se werkloosheidsyfer is nou 27,6%. In China is dit na aan 5%, hoewel nie almal die amptelike data uit China vertrou nie.

Kantor, skrywer van die boek Get South Africa Growing, het verlede week deelgeneem aan ’n werksessie van die Vryemarkstigting in Johannesburg oor hoe Suid-Afrika se ekonomiese vryheid verbeter kan word.

Suid-Afrika is tans 110de uit 162 lande in die Wêreldindeks oor ekonomiese vryheid. (Hoe hoër die syfer, hoe swakker vaar jy.)

Minimum lone wat regerings vasstel, is dikwels uit pas met plaaslike toestande en individuele behoeftes.
Fred McMahon, Fraser-instituut

Fred McMahon, ’n navorser oor ekonomiese vryheid aan die Fraser-instituut in Kanada wat nou met die Vryemarkstigting saamwerk, sê streng arbeidsregulasies gee Suid-Afrika ook ’n swak telling (79ste) vir dié onderafdeling van die indeks, met gesentraliseerde kollektiewe bedinging en die minimum loon van die groot sondaars.

Mense moet kan kies vir wie hulle werk en werkgewers moet kan aanstel wie hulle in diens wil neem teen vergoeding wat vryelik tussen die twee onderhandel is. Minimum lone wat regerings vasstel, is dikwels uit pas met plaaslike toestande en individuele behoeftes, sê hy.

Regulasies maak dit ook baie moeilik om werkers te ontslaan wat nie hul deel doen nie. “As jy poste beskerm deur dit vir werkgewers moeilik te maak om mense te ontslaan, smoor jy eintlik werkskepping.” Sake-eienaars skram weg van die risiko en neem eerder niemand in diens nie.

McMahon sê die belangrikheid van ekonomiese regte kan nie onderspeel word nie. Daarsonder kan magtige boetie-kapitaliste of magtige regerings enige burgerlike ontevredenheid en vryheid van spraak onderdruk, want hulle is die mense wat bepaal of iemand ’n werk of kontrak kry of bevorder word.

’n Gebrek aan ekonomiese vryheid is ook ’n teelaarde vir korrupsie. “Sodra jy iemand se toestemming moet vra om iets te doen, kan so iemand omkoopgeld eis.”

Luidens ’n agtergrond-dokument vir die werksessie maak groot regerings en hul aanhoudende inmenging in die ekonomie die deur oop vir korrupsie en voorkeurbehandeling. “Daar is mense wat omgekoop kan word om gunste van die regering te kry (soos kontrakte) of om boetes te vermy.”

McMahon sê navorsing wys ekonomiese vryheid lei tot politieke stabiliteit, ’n hoër lewensverwagting, ’n laer sterftesyfer onder kinders, en mense is in die algemeen gelukkiger in dié lande.

Meer oor:  Brian Kantor  |  China  |  Minimum Loon  |  Mededinging  |  Ekonomie  |  Ekonomiese Groei  |  Vryemarkstigting
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.