Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Amerika plaas SA weer op gevaarlys

Suid-Afrika is terug op die VSA se lys van lande waarheen Amerikaners eerder nie moet reis nie.

Amerikaners word vir eers afgeraai om na Suid-Afrika te reis. Foto: Unsplash

Die Amerikaanse voedsel-en-medisyne-owerheid (FDA) het van plan verander oor ’n vroeë besluit om Suid-Afrika vanaf sy gevaarlys (vlak 4) na vlak 3 te skuif.

Die FDA het op 9 Junie aangekondig Suid-Afrika, saam met 60 ander lande, is nie meer op vlak 4-lys nie. Amerikaners word afgeraai om na lande op dié vlak te reis. Reis na lande op die FDA se vlak 3-lys word nie summier afgeraai nie.

Volgens die FDA se kennisgewing moet Amerikaners nou egter eerder weer reise na Suid-Afrika so ver as moontlik vermy. Dié wat wel Suid-Afrika toe reis, moet liefs hul Covid-19-inentings agter die blad hê.

Alle passasiers wat met vlugte vanaf Suid-Afrika op Amerikaanse bodem aankom, moet kan bewys dat hulle drie dae of minder voor hul vlug negatief vir Covid-19 getoets het. Dokumente wat kan bewys reisigers het in die drie maande voor hul vlug uit Suid-Afrika van die virus herstel, sal ook aanvaar word.

Alle reisigers uit Suid-Afrika moet ook binne drie dae van hul aankoms in Amerika ’n toets ondergaan.

Tshifhiwa Tshivhengwa, uitvoerende hoof van die Toerismesakeraad van Suid-Afrika (TBCSA), sê in reaksie op die aankondiging deur die FDA die nuus is teleurstellend, hoewel dit verstaanbaar is in die lig van die derde vlaag van infeksies waarin die land hom bevind.

“Ons land se vlakke van inentings is steeds laag en dit moet getakel word,” sê hy.

Die positiewe nuus volgens hom is dat Amerikaners steeds nie in kwarantyn hoef te gaan as hulle vanaf Suid-Afrika gereis het nie.

“Dit tel in ons guns en ons hoop lande soos Brittanje en Duitsland, wat ook sleutelmarkte vir die Suid-Afrikaanse toerismebedryf is, sal ook afsien van hul kwarantynreëls vir reisigers uit ons land.”

LEES OOK: Britte te bang om nou na Suid-Afrika te reis

Die Britse regering beplan om Britte wat ten volle ingeënt is en terugkeer van lande waar ’n matige of medium-risiko vir Covid-19-infeksies heers, vry te stel van die land se reël wat vereis dat hulle eers vir tien dae by hul huis moet isoleer.

Die sogenaamde oranje lys bevat meer as 100 lande, waarvan die VSA een is. Suid-Afrika is egter nie op dié lys van lande met ’n medium-risiko nie en steeds op Brittanje se rooi lys (gevaarlys).

Meer oor:  Rooilys  |  Staat Van Inperking  |  Toerisme  |  Reisverbod  |  Vlugte  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.