Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Waar in die wêreld verdien buitelanders die meeste?
’n Prentjiemooi Lausanne in Switserland.Foto: Pixabay

Wil jy graag ’n groot salaris verdien? Gaan werk dan in Switserland.

As jy egter ’n goeie balans tussen werk en jou tyd saam met jou familie wil hê, moet jy eerder Singapoer toe trek.

Buitelanders wat in Switserland werk, verdien ’n gemiddelde salaris van meer as $193 000 per jaar (sowat R2,6 miljoen teen die huidige wisselkoers).

Dit is die hoogste in die wêreld en sowat 54% meer as wat mense sou verdien as hulle tuisgebly het, luidens ’n peiling wat HSBC Holdings Woensdag bekend gemaak het.

HSBC het 46 lande by sy ranglys ingesluit.

Volgens HSBC is Switserland die derde jaar agtereenvolgens heel boaan die ranglys vir ekonomiese faktore soos persoonlike finansies, loopbaanvordering en die sterkte van die plaaslike ekonomie.

Bykans agt uit elke tien buitelanders wat daar werk, sê hulle het ’n groter besteebare inkomste sedert hulle Switserland toe getrek het.

“Die meeste buitelanders werk voltyds en het beter vooruitsigte in terme van inkomste. Buitelanders in Switserland is ook van dié met die meeste vertroue in die plaaslike ekonomie,” sê Dean Blackburn, hoof van HSBC Expat.

Tien beste lande vir buitelandse werkers
  1. Singapoer
  2. Noorweë
  3. Nieu-Seeland
  4. Duitsland
  5. Nederland
  6. Kanada
  7. Australië
  8. Swede
  9. Oostenryk
  10. Verenigde Arabiese Emirate

Noorweë en Duitsland is onderskeidelik tweede en derde wat betref ekonomiese vooruitsigte. Singapoer was vierde in dié afdeling, maar kraai koning na wanneer alle faktore – wat ook lewensgehalte insluit – in ag geneem word.

HSBC sê meer as 60% van Singapoer se inwoners is buitelanders. Nie net verdien buitelanders daar ’n goeie inkomste nie, hulle vind ook maklik blyplek en ervaar dit as ’n goeie omgewing vir hul sosiale lewe en om kinders in groot te maak.

Switserland is nr. 46 vir sosiale lewe (heel laaste) en nr. 44 vir ’n plek om kinders groot te maak.

Jy sal dalk ’n stewige salaris in Saoedi-Arabië verdien, maar as alle faktore in ag geneem word, daal die land tot nr. 40 op die ranglys.

Dit is veral kulturele verskille wat dit moeilik maak vir buitelanders om behoorlik daar nes te skop.

Suid-Afrika is nr. 33 op die ranglys van beste plekke vir buitelanders om te werk, alle faktore in ag genome. Dit is twee plekke hoër as Brittanje, wat op nr. 35 is.

Suid-Afrika vaar veral goed as ’n goeie plek om jou kinders groot te maak (9), gesondheidsorg (8), sosiale lewe (13) en as ’n land om nuwe vriende te maak (8).

Wat betref politiek (46), vertroue in die ekonomie (45) en veiligheid (46) is Suid-Afrika egter heel onderaan of byna onderaan die ranglys.

Egipte (46) is heel onderaan HSBC se algehele ranglys.


Meer oor:  Switserland  |  Salarisse  |  Ekspats  |  Buitelanders  |  Geldsake
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.