Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Was dit Japan, ‘was OBK al in pad gesteek’

As die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) ’n batebestuurder by die Japanse staatspensioenfonds was, was sy kontrak al gekanselleer, meen ’n afgetrede ouditeur.

Abel Sithole, nuwe uitvoerende hoof van die OBK wat voorheen die hoof van die GEPF was. Foto: Verskaf

Christo van Dyk, ’n afgetrede ouditeur en lid van die vereniging vir die monitering van die staatspensioenfonds (Amagp), wys op voorskrifte van die Japanse staatsfonds wat bepaal dat kontrakte met batebestuurders tot gedeeltelike of volle kansellasie lei as beleggingsriglyne oortree word.

Dit sluit in oortredings weens die kredietgradering of likiditeit van ’n belegging, die beleggingskonsentrasie, buitensporige transaksiekoste, spekulatiewe gebruik van afgeleide instrumente, gebrek aan verslagdoening, risikobeheer en voldoening, of onverstandige uitoefening van stemreg.

Die grootste pensioenfonds
Japan se staatspensioenfonds is die grootste van sy soort in die wêreld, met $1 555 miljard se bates onder bestuur, gevolg deur Noorweë se staatspensioenfonds met $1 066 miljard en Suid-Korea s’n met $637 miljard.

Van Dyk wys daarop dat die Mpati-verslag gewys het dat die OBK hom skuldig gemaak het aan wanvoorstelling deur nie oop kaarte te speel nie, dat hy te veel onverstandige beleggings gemaak het, en deur buitensporige adviesgelde die transaksiekoste van sekere beleggings onnodig opgejaag het. Daar is ook herhaaldelik voorkeur gegee aan net sekere transaksie-adviseurs, is in die Mpati-verslag bevind.

Van Dyk meen dit sou genoeg rede gewees het vir Suid-Afrika se staatspensioenfonds (GEPF) om die OBK in die pad te steek as batebestuurder, as dieselfde reëls as by die Japanse staatspensioenfonds plaaslik gegeld het. Die Japanse fonds is die grootste enkele poel van aftreegeld in die wêreld en is die grootste openbare belegger in Japan.

Adamus Stemmet, woordvoerder van Amagp, sê die waghondgroep se aandrang was nog altyd dat die GEPF hom nie moet blind staar as die OBK as enigste batebestuurder nie maar dat die GEPF eerder ’n oop tenderprosedure moet instel waar soveel as drie verskillende onafhanklike beleggingsbestuurders aangestel kan word om staatsamptenare se aftreegeld te bestuur.

Die OBK is dan ook welkom om te tender.

Abel Sithole, nuwe uitvoerende hoof van die OBK wat voorheen die hoof van die GEPF was, het verlede week aan die parlement se staande komitee oor finansies gesê die OBK het ’n adviespaneel aangestel om hom te help om die Mpati-verslag se aanbevelings in werking te stel. Dit volg op die Mpati-kommissie se ondersoek na wanbestuur by die OBK toe dit onder leiding van dr. Dan Matjila gestaan het.

Volgens Sithole is afgetrede regter Yvonne Mokgoro aangestel as voorsitter van die adviespaneel, met adv. Kgomotso Morka as regskenner en Sello Moloko as finansiële kundige wat haar moet bystaan.

Volgens Sithole is sowat 16% van die Mpati-aanbevelings reeds in werking gestel, 52% is deels in werking gestel, en sowat 31% moet nog in werking gestel word.

Die aanbevelings sluit maatreëls in om die OBK se bestuursprosesse te versterk, duidelike beleid te ontwikkel, verlore geld terug te win, die IT-infrastruktuur op te knap, wetgewing deur te voer om die werking van die OBK te verbeter, kontrakte en bestaande beleid en prosedures te hersien, en tugstappe teen oortreders te neem.

’n Etiekbeampte is aangestel, die OBK se beleggingsmandaat word hersien, en die proses om beleggingsvoorstelle vir goedkeuring in te dien word hersien. ’n Eenheid is geskep om te fokus op sukkelende beleggings en personeel word heropgelei.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.